Susanna M Lingua Gunstelinge 3. Susanna M Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 3 - Susanna M Lingua страница 17

Susanna M Lingua Gunstelinge 3 - Susanna M Lingua

Скачать книгу

      Noudat haar gedagtes weer koers gekry het na Renier toe, vind sy die koesterende warmte van die kaggel glad nie meer rustig en vreedsaam nie. Sy verlang na Renier, al dink hy miskien nie eens meer aan haar nie. Ja, vanaand verlang sy weer ontsettend baie na hom. As sy haar oë sluit, kan sy hom wesenlik voor haar sien soos wat sy hom daardie laaste môre gesien het. Sy wonder of haar kindjie eendag net so groot en aantreklik soos sy pa sal wees . . .

      Sy sluit haar oë en voel hoe die trane stadig en warm oor haar wange rol.

      Tina voel ’n hand op haar skouer en toe sy haar oë oopmaak, sien sy Rita Jordaan langs haar staan met ’n koppie koffie in haar hand.

      Die ouer vrou is bewus van die trane op Tina se wange, daarom vra sy besorg: “Voel jy nie gesond nie, mevrou Dreyer?”

      Tina vee die trane van haar wange af, neem die koppie koffie en sê met hartseer in haar stem: “Ek voel heeltemal gesond, dankie, mevrou. Ek verlang maar net na my man. Dit is so stil hier op jul dorpie dat ’n mens elke geluid van die wind, elke reëndruppel kan hoor. Dit . . . dit laat ’n mens so weerloos voel.”

      Rita Jordaan trek vir haar ’n stoel nader, neem plaas en sê versigtig: “Jou pa het vir my gesê dat jy van jou man geskei is, mevrou –”

      “Ek dink dit sal geselliger wees as jy my sommer net Tina noem, mevrou Jordaan,” help sy die ouer vrou vriendelik reg. “Ons moet nog lank hier saamwoon, en dit sal die lewe ietwat ongemakliker maak as ons mekaar voortdurend formeel aanspreek.”

      “Dan moet jy maar vir my tannie Rita sê, Tina,” glimlag die ouer vrou. “Mag ek vra hoe oud jy is?”

      “Ek sal volgende maand agttien wees.” Die hartseer trek om haar mond en in haar oë is nou baie opvallend. Dit laat Rita heimlik wonder hoe lank Tina getroud was en waarom hulle geskei het, juis noudat sy haar eersteling verwag. Sy is nog so bitter jonk en het reeds met die skadukant van die lewe kennis gemaak.

      “Mag ek jou nog ’n persoonlike vraag vra, Tina?” Rita se stem is sag en vertroulik, vol simpatie en meegevoel.

      “Vra maar, tannie Rita.” ’n Sweem van ’n glimlaggie ver­skyn om haar mond, maar dit kan nie die pyn in haar oë verdryf nie. Haar verlange na Renier brand vanaand weer soos ’n fisieke pyn in haar.

      Maar dan hoor sy die ouer vrou ietwat huiwerig vra: “Is jy nog . . . baie lief vir jou gewese man?”

      Tina se oë is weer dadelik mistig toe sy sê: “Ek sal hom altyd liefhê, tannie Rita. Ek sal hom nooit in my lewe vergeet nie. Ons sou nou nog gelukkig getroud gewees het as dit nie vir my hooghartige, snobistiese pa was nie.”

      Sy vertel Rita van haar huwelik met Renier, van die drie wonderlike weke toe hulle net vir mekaar bestaan het, en daarna haar pa se onverwagte verskyning by die woonstel.

      “Jou arme kind, dat die lewe so ’n duur prys van jou geëis het omdat jy ’n Eksteen is. Maar jul kindjie sal darem in ’n mate vir jou verlies vergoed, want ’n kind is immers deel van sy pa ook. Elke keer dat jy jou kindjie in jou arms hou, sal jy jou troos met die wete dat jy darem nog iets het van die man wat jy liefhet. Jy sal jou man elke dag in jou kind sien lewe.”

      Na hierdie bemoedigende woorde kom daar weer in ’n mate berusting in Tina se seer gemoed. Sy weet dat sy Renier nooit sal vergeet nie, dat haar verlange na hom altyd lewend sal bly, al het hy haar vergeet en al wil hy niks met haar te doen hê nie. Op die oomblik het sy darem die vooruitsig dat sy oor vyf maande haar en Renier se kindjie in haar arms sal kan hou, ’n lewende skakeltjie tussen haar en die man wat sy met haar hele wese bemin.

      Tina plaas haar hand dankbaar oor Rita s’n wat stil in haar skoot rus, en gee dit ’n ligte drukkie.

      “Dankie vir jou bemoedigende woorde, tannie Rita,” sê sy sag. “Ek is nou baie bly dat ek jou alles van my en my pa en Renier vertel het. Jy is die enigste mens met wie ek nog ooit hieroor gepraat het. In elk geval, jy het my nou weer moed gegee om ’n toekoms saam met my kindjie te bou . . .”

      Hettie kom die sitkamer binne en sê dat haar skooltaak afgehandel is. Sy neem langs Tina plaas en kyk belangstellend na die illustrasie van die bababaadjie op die breiboek se buiteblad.

      “O, tannie kan mooi brei,” sê sy met kinderlike eerlikheid. “Het tannie ’n babatjie?”

      Dit is Rita wat verduidelik dat Tina nog nie kinders het nie, dat sy wel oor vyf maande ’n baba sal hê. Hierdie nuus laat Hettie dadelik opgewonde voel, want sy het al so dikwels gewens dat haar ma ook ’n baba moet hê soos die ander kinders se ma’s. Sy bied ook sommer dadelik aan om na die baba te kyk wanneer Tina besig is.

      ’n Ander gedagte tref Hettie. Sy kyk Tina met ’n stralende glimlag aan en sê opgewonde: “Ek verjaar oor vyf maande, dan is ek elf jaar oud. Dit sal wonderlik wees as ek en tannie se baba op dieselfde dag verjaar.”

      Van hierdie oomblik af kan Hettie nie uitgepraat raak oor die verwagte baba nie. Vir haar voel dit asof ’n goeie engel die tannie na hul huis toe gelei het. Dis net jammer dat daar altyd so ’n hartseer uitdrukking in die tannie se mooi, donker oë is.

      Die volgende vyf maande deel Tina in die weduwee en haar dogter se vreugde en kommer. Sy help Rita waar sy kan, veral met die voorbereiding van maaltye, en smiddags help sy Hettie weer met haar skoolwerk.

      Sy en Hettie neem dikwels lang wandelings na die berg se kant toe. Ander tye stap hulle sommer net in die veld rond op soek na ’n velddiertjie wat Hettie kan afneem. Tina geniet hierdie uitstappies saam met die lewenslustige Hettie, want dit laat haar tydelik haar hartseer en verlange vergeet.

      Die winter is lank en koud hier op Doringdal, maar ook daaraan kom geleidelik ’n einde. Vir Tina voel dit of die lente sommer net oornag sy verskyning gemaak het. Gister was dit nog stil hier op die dorpie, en vandag is die meeste inwoners besig om blombeddings om te spit, te plant en te saai. Hierdie dinge het Tina nooit by haar ouerhuis opgemerk nie, want hul tuin is gewoonlik winter en somer in blom, en die tuinier is ook die hele jaar besig.

      “Wie gaan jou blombeddings omspit, tannie Rita?” vra Tina, hier waar sy en die ouer vrou tydsaam in die rigting van die winkels stap om vir Hettie ’n verjaardaggeskenk te koop.

      “Ek en Hettie doen dit gewoonlik self,” vertel Rita.

      Hulle gesels oor blomme en tuine, en eindelik bereik hulle die winkels. Tina stel voor dat hulle eers by die apteek aandoen, want dit is die enigste plek waar sy vir Hettie ’n goeie kamera en ’n kleurfilm te koop sal kry.

      Rita maak dadelik beswaar toe sy die prys van die kamera verneem, maar Tina verduidelik dat sy graag vir Hettie iets wil gee wat sy baie jare sal kan gebruik. Daarom moet dit ’n goeie kamera wees.

      Daardie aand, terwyl hulle in die kombuis voor die stoof sit, kan Hettie nie haar opgewondenheid bedwing omdat dit môre haar elfde verjaardag is nie.

      “Dis net vreeslik jammer dat tannie Tina se baba nie ook môre my verjaardag kan vier nie,” sê sy later. “Ek het so gewens dat ons twee elke jaar op dieselfde dag moet verjaar.”

      “Toemaar wat, die baba sal nou wel nie jou verjaardag kan help vier nie, maar as jy môreoggend na my kamer toe kom, sal ek vir jou ’n geskenkie gee wat jou hart net so bly sal maak,” troos Tina.

      “O, maar die baba kan straks nog môre sy opwagting maak, en dan verjaar julle nog saam,” herinner Rita haar dogter.

Скачать книгу