Susanna M Lingua Gunstelinge 3. Susanna M Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 3 - Susanna M Lingua страница 20

Susanna M Lingua Gunstelinge 3 - Susanna M Lingua

Скачать книгу

      Die dokter dien haar weer ’n ligte inspuiting toe en verlaat die vertrek. Gerhardus wag hom op die stoep in.

      “Hoe gaan dit nou met haar, dokter?”

      “Ek dink jy het jou dogter verloor, meneer Eksteen. Sy sal nooit weer die dogter wees wat jy geken het nie, en dit het jy aan jou eie optrede te danke. Maar haar afkeer van jou is gelukkig nie my probleem nie. Ek voel besorg oor haar gesondheid, want haar gees is gebreek en sy het nie meer die wil om te lewe nie. In elk geval, ek sal weer vanaand kom kyk hoe dit met my pasiënt gaan.”

      Hierna groet en vertrek die dokter. Gerhardus vertoef nog ’n rukkie op die stoep; dan gaan hy na Tina se kamer toe. Maar sy slaap reeds, dus besluit hy om maar terug te gaan na die hotel toe waar hy inwoon.

      5

      Vir Tina is elke dag soos ’n ewigheid. Sy het alle belangstelling in die lewe verloor en praat feitlik met niemand nie. Haar pa het die eerste paar dae pal by haar in die kamer gesit, maar later moes hy ook erken dat Tina haar finaal onttrek het en in haar eie afgesonderde wêreld lewe.

      Dokter Serfontein voel al bekommerd, want daar is geen tekens dat sy aansterk nie. Sy doen ook nie eens moeite om bedags orent te sit nie. Wanneer sy nie slaap nie, lê sy met groot, verdrietige oë deur die venster en staar, en snags lê sy ure lank en snik asof haar hart wil breek.

      ’n Week later word Gerhardus Eksteen dringend na sy kantoor in Johannesburg ontbied. Hy reël met Rita Jordaan dat Tina by haar kan bly totdat sy sterk genoeg is om met die motor Johannesburg toe te reis.

      Met dokter Serfontein en Rita se getroue hulp en bystand is Tina drie weke later sterk genoeg om uit die bed uit op te staan. Ofskoon sy nog steeds geen belangstelling in die lewe toon nie, voel die dokter oortuig daarvan dat sy wel later weer rigting sal vind.

      Rita en Hettie kry vir Tina eindelik weer sover dat sy vir kort wandelings saam met Hettie gaan. Maar Hettie vind dat hul wandelings nie meer dieselfde is nie, want Tina is nie soos voorheen nie. Sy toon geen belangstelling meer in die berg, die klowe en die doringbome wat oortrek is met geel blommetjies nie. Sy gesels ook nie soos voorheen nie. Trouens, sy praat kwalik en antwoord net wanneer Hettie ’n vraag aan haar stel. Soms gaan sit sy op ’n rots en staar na die horison totdat Hettie haar daaraan herinner dat hulle moet huis toe gaan.

      Tina praat ook nooit van haar kindjie nie, maar Hettie weet dat sy oor haar seuntjie treur, want sy het nog nooit weer geglimlag sedert haar pa en mevrou Pelser haar baba weggeneem het nie, en sy hoor ook dikwels hoe droewig Tina in die nag oor haar kindjie huil.

      Twee maande na Tina se bevalling daag haar pa onverwags op Doringdal op om haar huis toe te neem. Hulle het pas ontbyt genuttig en Tina is nog besig om Rita met die ontbytskottelgoed te help, toe Hettie hulle kom vertel dat meneer Eksteen net voor die deur stilgehou het.

      Rita droog dadelik haar hande af en stap na die voordeur toe. Tina is egter nie haastig om die man te gaan groet wat haar al so baie leed aangedoen het nie. Sy plaas eers al die borde en koppies in die rak voordat sy sitkamer toe gaan.

      Haar pa groet haar met ’n soen. Hy is bewus van haar kil houding en die aanklag in haar oë, maar sê nogtans tevrede: “Dokter Serfontein het my gisteraand gebel en gesê jy is nou sterk genoeg vir die reis na Johannesburg toe. Ek vrees jy sal jou nou dadelik moet gaan aantrek sodat ons kan ry. Ek moet agtuur vanaand in Johannesburg wees om ’n vergadering by te woon.”

      Met Rita en Hettie se hulp, neem dit Rita nie lank om haar persoonlike besittings in te pak nie. Sy weier om haar kraamrokke saam te neem en vra Rita om daarvan ontslae te raak.

      Eers toe haar tasse in die motor is, besef sy hoe lief sy werklik vir Rita en Hettie geword het. Sy groet en bedank hulle vir al hul vriendelikheid, maar sy weet dat sy in woorde nooit haar dank kan uitspreek vir alles wat hulle vir haar gedoen en beteken het nie.

      Op pad Johannesburg toe is Tina, soos gewoonlik, stil en in haarself gekeer. Die feit dat sy huis toe gaan, laat haar geheel en al koud, want tuis is daar niks wat weer glans aan haar lewe kan gee nie. Die een plek is vir haar maar net soos die ander . . .

      Hulle kom net betyds tuis sodat Gerhardus sy vergadering kan bywoon. Tina voel so moeg van die lang reis dat sy na die ete maar dadelik bed toe gaan, maar soos gewoonlik bring die stil ure van die nag weer al die pynlike herinneringe terug en huil sy haar aan die slaap.

      Tina is reeds ’n week tuis toe haar pa haar die aand na die ete na sy studeerkamer toe ontbied.

      “Noudat jy so mooi aangesterk het,” sê hy nadat sy gaan sit het, “voel ek dis tyd dat jy jou plek in die regte kringe behoort in te neem, Tina. Ek sal vir jou ’n partytjie reël vir Sater­dagaand en sorg dat die gaste net uit jong mense bestaan.”

      “Verskoon my, maar ek stel hoegenaamd nie belang in jou vriende of hul sosiale kringe nie,” sê sy met iets soos minag­ting in haar stem. “Ek kan jou natuurlik nie belet om ’n partytjie te gee nie, maar ek weier beslis om dit by te woon –”

      “Wat! Jy sê jy weier?” val hy haar skerp in die rede. “Nou, luister jy wat ek te sê het. Noudat jy van daardie . . . e . . . van alles ontslae is en weer jou gesig vir die wêreld kan wys, sal jy by my besluite berus. Van nou af sal ék vir jou besluit.”

      Al die gebeure van die afgelope jaar, die pyn, hartseer en verlange laat ineens ’n onkeerbare wrewel in Tina opstoot.

      “Ek sou dink dat jy my genoeg hartseer en verdriet aangedoen het,” sê sy opstandig. “Jy het reeds my hele lewe verwoes, en dan praat jy nog van besluite neem! Ek is nie meer daardie Tina wat jy so maklik kon dreig nie. Die vrou wat hier voor jou sit, is mevróú Dreyer, die ma van die babaseuntjie wat jy sonder sy ouers se toestemming weggegee het, en ek skrik nie vir jou dreigemente nie.”

      “So, en waar kom jy, ’n minderjarige, aan al hierdie sotheid wat jy pas kwytgeraak het?” vra hy. Hy doen sy bes om sy woede te verbloem, maar vir Tina kan hy dit nie wegsteek nie; sy ken hom te goed.

      “Sedert my huwelik met Renier is ek nie meer ’n minderjarige nie,” antwoord sy. “Ek is ’n vrou en ’n ma, en ek laat my nie langer deur jou voorskryf nie. Om Renier se onthalwe het ek jou toegelaat om my huwelik te vernietig, maar ek het jou nie die reg gegee om my kind weg te gee nie. Jy het ’n kriminele oortreding begaan, want daardie seuntjie was nie ’n buite-egtelike kind nie. Ek was wettig met sy pa getroud.”

      “Wat presies probeer jy vir my sê, Tina?” vra hy onheilspellend sag.

      “Net dat jy van nou af moet ophou om jou met my lewe in te meng en jou wil op my te probeer afdwing. Ek weet waarom jy my onskuldige kindjie weggegee het, maar ek gaan hom soek, en ek sal soek totdat ek hom kry.”

      “Jy sal hom nooit kry nie, want hy is reeds ’n maand gelede deur ’n kinderlose egpaar aangeneem –”

      “Dis ’n leuen, ek glo dit nie. Jy sê dit net om my seer te maak,” val sy hom half histeries in die rede. “Jy skep mos behae daarin om my seer te maak, my geluk te verpletter en my toekoms te vernietig. Ek het die afgelope jaar al tot die slotsom gekom dat jy my stiefpa moet wees . . .”

      “Nee, ek is nie jou stiefpa nie, Tina,” keer hy, nou weer kalm. “Jy is my eie dogtertjie, daarom begeer ek net die beste vir jou.”

      “En die beste is natuurlik Thys Joubert. Wel, ek wil hom nie hê nie.”

      “Ek glo nie ons moet hierdie

Скачать книгу