Susanna M Lingua Gunstelinge 3. Susanna M Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 3 - Susanna M Lingua страница 16

Susanna M Lingua Gunstelinge 3 - Susanna M Lingua

Скачать книгу

vrou.” Hy neem ’n pakkie note uit sy portefeulje en plaas dit op haar skoot. “Hier is darem ’n paar winkels as jy iets nodig kry . . .”

      Hulle sit daar in die motor en gesels totdat die reën bedaar, toe stel haar pa voor dat hulle binnetoe gaan voordat die reën opnuut uitsak.

      Die weduwee, Rita Jordaan, wat vir hulle die deur oopmaak, is inderdaad ’n vriendelike vrou. Tina skat dat sy so veertig is. Sy is skoon en netjies geklee, maar dit is duidelik dat sy ’n behoeftige vrou is.

      Gerhardus Eksteen stel sy dogter aan die weduwee voor as “mevrou Dreyer”, en die eerste keer wonder Tina watter rede haar pa vir haar verblyf op hierdie dorpie verstrek het. Enigeen met oë kan tog sien dat hy ’n welvarende sakeman is en veel beter verblyfplek vir sy dogter kan bekostig.

      Die vrou nooi hulle na die sitkamer toe, maar Gerhardus verduidelik dat hy haastig is om te vertrek en maar eers sy dogter se bagasie uit die motor sal gaan haal.

      Die weduwee se tienjarige dogter, Hettie, voeg haar nou ook by hulle en bied aan om die oom met die bagasie te help. Rita Jordaan neem Tina na die hoofslaapkamer wat sy vir die jong vroutjie ingerig het en trek die gordyne oop.

      “Ek hoop jy sal gelukkig hier by ons wees, mevrou Dreyer,” sê die ouer vrou vriendelik. “Dit is nou jammer dat dit juis vandag moet reën. Dit laat alles so grys en mistroostig lyk, en ek het so gehoop dat jy sommer van die staanspoor af van ons ou dorpie sou hou.”

      “Dit is baie vriendelik van jou om so . . . so besorg oor my te voel, mevrou,” sê Tina waarderend terwyl sy haar hand­skoene uittrek. “Solank dit reën, sal ek nie na die dorpie kyk nie, net na die berg en die doringbome.”

      Sy gaan staan langs die ouer vrou voor die venster en kyk hoe die reën soos ’n grys sluier teen die berg afkruip. Die veld is groot en wyd buitekant die dorp, maar na ’n rukkie is dit heeltemal onsigbaar deur die digte reënsluier wat nader kruip. Haar pa en Hettie kom die kamer met haar tasse binne, en dan draai sy stadig van die venster af weg.

      “Ek sal nou weer moet gaan,” sê haar pa. “Dit word laat, en ek wil nog by mevrou Pelser, die vroedvrou, aanry om vir haar te sê jy is hier. Sy sal alles vir jou met die plaaslike dokter reël, Tina, dus is daar niks om oor bekommerd te voel nie.”

      Hy groet die weduwee en haar dogter, dan stap Tina saam met hom tot op die voorstoep.

      “Gaan Pa vandag nog terug Johannesburg toe?” vra sy.

      Hy knik sy trotse kop. “Ek moet, my kind, ek kan dit nie bekostig om twee dae van die kantoor af weg te wees nie. Daar is sake wat my aandag dringend vereis. Jy moet maar bel as hier iets onvoorsiens gebeur.”

      Hy buk af en soen haar vlugtig. “Tot siens, Tina, mooi bly!”

      “Tot siens, Pa, versigtig ry!” Met haar hande diep in haar duur pelsjas se sakke staan sy daar op die stoep totdat die motor uit haar gesigsveld verdwyn. Toe hoor sy Hettie van die voordeur af sê: “Mamma sê tannie moet kom tee drink.”

      Tina merk nou eers dat daar ’n gesellige vuur in die sit­kamerkaggel brand. Sy trek vir haar ’n stoel naby die kaggelvuur en neem plaas. Hettie maak haar op ’n lae bankie langs Tina tuis, dan kom Rita Jordaan die vertrek met die teegerei binne.

      Gerhardus se motor en Tina se jas moet bepaald ’n groot indruk op Hettie gelaat het, want sy streel saggies met haar hand oor Tina se arm en sê kinderlik onskuldig: “Julle is seker baie ryk, nè, tannie?”

      ’n Weemoedige glimlaggie verskyn om Tina se sagte mond toe sy die kind se koue handjie in hare neem en met ’n tikkie hartseer in haar stem sê: “Dis nie geld wat ’n mens ryk maak nie, Hettie. Rykdom is hier binne-in ’n mens.” Sy wys na haar hart. “As dit binne-in jou hart mooi is en jy het baie liefde vir jou medemens, dan is jy ryk.”

      Hettie drink haar tee in stilte, toe tref iets anders haar. Sy kyk Tina ernstig aan en vra dan weer: “Tannie, hoekom sê jy vir jou pappa Pa? Is jy nie lief vir jou pappa nie?”

      “’n Mens vra nie sulke persoonlike vrae nie, Hettie,” bestraf haar ma haar goedig. Sy draai na Tina en vervolg verontskuldigend: “Jy moet haar asseblief verskoon, mevrou Dreyer. Sedert my man se afsterwe, lewe ek en Hettie baie na aan mekaar. Ons vreugde en ons probleme deel ons gewoonlik met mekaar, dus is sy daaraan gewoond om openhartig met my te praat.”

      “Dan hoop ek dat sy met my ook openhartig sal praat,” stel Tina die ouer vrou dadelik gerus. “Trouens, ek beskou haar vraag van so ewe as gesonde belangstelling. Kinders van haar ouderdom is gewoonlik vol vrae; ek was ook so.”

      Sy draai na Hettie en verduidelik gemoedelik: “Ek het my pa ook altyd Pappa genoem, Hettie, en ek was baie lief vir my pappa. Maar drie maande gelede het hy my vreeslik hartseer en ongelukkig gemaak, en van daardie tyd af sê ek vir hom Pa, en nie meer Pappa nie.”

      “Voel jy nog hartseer en ongelukkig, tannie?” vra Hettie simpatiek. Dit klink vir haar ondenkbaar dat sulke skatryk mense ongelukkig kan wees. ’n Mens kan mos nie ongelukkig wees as jy alles kan koop wat jou hart begeer nie! As sy maar net daardie mooi kamera kon koop wat in die apteek se venster is . . .

      “Ek sal bepaald baie, baie jare nog hartseer en ongelukkig voel, Hettie,” antwoord Tina weemoedig. “Dit is ’n soort seer wat net die tyd kan genees . . .”

      Tina stuur die gesprek werktuiglik in ’n ander rigting deur Hettie uit te vra na haar skoolwerk en ander belangstellings. Op hierdie manier vind sy uit dat Hettie ’n goedkoop kamera het en baie belangstel in fotografie. Sy neem graag foto’s van voëls, velddiertjies en mooi natuurtonele.

      Uit Rita Jordaan se gesprek lei sy af dat die ouer vrou vir die een of ander winkel naaldwerk doen om haar en Hettie aan die lewe te hou. Die huisie huur sy teen ’n lae prys.

      Van haar en Renier se huwelik, die egskeiding en haar pa se aandeel daaraan sê Tina nie ’n woord nie. Sy luister simpatiek na hierdie moedige weduwee se stryd om kop bo water te hou.

      Hettie het al nader aan Tina geskuif, en nou leun sy vertroulik teen die ouer meisie aan met haar wang liefkosend teen die sagtheid van die pelsjas.

      Tina plaas haar arm om die kind se skouers en druk haar liggies teen haar vas.

      “O, maar tannie se jas is so lekker warm en sag, net soos ’n Persiese katjie,” glimlag Hettie ingenome. “Wanneer ek eendag groot is, gaan ek al my geld spaar en vir my ook so ’n jas koop.”

      “Wanneer jy eendag groot is en jy sien al die pragtige rokke in die boetieks, sal jy nie eens aan ’n pelsjas dink nie, Hettie,” gesels Tina gemoedelik. “Jy sal net aan die pragtige rokke en skoene dink, en die jas sal glad nie meer vir jou so belangrik wees nie.”

      Hulle gesels voor die kaggel totdat dit tyd is vir aandete. Daarna gaan pak Tina haar tasse uit, met Hettie as toeskouer op die voetenent van die bed. Sy pak al haar tasse uit, behalwe die een waarin die baba se klere is. Dié laat sy eenkant teen die muur staan.

      Nadat al die tasse uitgepak is, neem Tina haar breiwerk en stel voor dat hulle weer voor die kaggelvuur moet gaan sit. Dit het haar nog altyd ’n heerlike gevoel van rustigheid gegee om voor ’n lekker gesellige kaggel te sit terwyl die wind en reën buite hoogty vier. Hettie sê sy het nog ’n bietjie skoolwerk om te doen en sal haar later by Tina aansluit.

      Terwyl Hettie se ma haar by die kombuistafel met haar werk help, sit Tina voor die vuur aan haar baba se baadjie en brei. Sy hoor

Скачать книгу