Abel se dogters. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Abel se dogters - Helene de Kock страница 4
“My ma sal wil weet,” antwoord Nomsa moedswillig.
“Ek vra mooi.”
“Oukei. Maar jy moet my vertel as alles finaal is, hoor.”
“Niks is finaal nie, Nomsa!” keer Adelien verskrik. Voeg darem meer besadig by: “Nou maar goed, as daar iets kom van die vriendskap tussen my en professor Henk Verwey, sal ek jou eerste laat weet.”
Nomsa snork liggies en haal haar skouers op. “As ék darem so ’n mooi man kry, sal die wêreld dit gou-gou weet.”
“Ek glo jou,” lag Adelien toe hulle met die laning kaal kerspopuliere opry na Stille Weide se spitsdakopstal. En die dak moet weer ’n slag rooi geverf word, merk Adelien op. Die dooie kannas in die ronde sirkel voor die stoep moet afgeknip word en een van die tuinkrane drup ’n silwer strepie. Sy sal maar vir Thabu vra om ’n tydjie af te knyp en daarna om te sien, want Pa Abel sal net afwesig knik en daarvan vergeet.
Hulle word soos altyd ontvang: ’n Opgewonde Christelle en lang, gryskop Abel wat sy oë bewoë knipper as hy groet. Sy oudste met ’n skraal arm ’n oomblik krampagtig teen sy bors druk en net so gou weer los, krapperig keel skoonmaak om te vra: “Het julle mooi gery?”
“Natuurlik, my Pappie,” lag Adelien en druk hom weer. Hy verduur dit, draai toe om en sê oor sy skouer: “Nou ja, ek moet kraal toe … sien julle twee later. Nomsa, sal jy regkom met jou tas?”
“Ja wat,” lag sy. “Adelien sê mos ek het sterk en vet geword!”
Latlyf Christelle kyk haar op en af en lag kop agteroor. “Dis nogal waar! Lyk my julle kry net pap in die koshuis!”
Nomsa blaas haar mond gemaak vies op en begin aanstryk oor die werf na die werkershuise se kant toe. Die meisiestemme se groet trek helder oor die skemer werf.
Adelien kyk Nomsa se ronde figuurtjie ’n oomblik goedig agterna en keer toe haar aandag na Christelle wat onophoudelik babbel oor haar tienerbestaan. Met haar swiepende bos hare, pikante gesig en vol bates, mooi lang bene en skraal arms soos haar pa s’n, beduie sy lyflik en aanskoulik oor alles en nog wat. Hulle is al amper in haar kamer voordat Adelien ’n woord inkry.
“Wat lyk jy so mooi?” wil sy met susterlike ongeërgdheid by Christelle weet. “So … soos ’n grootmens?”
“Ek is mos een,” glimlag Christelle en lig ’n wenkbrou bo ’n olyfgroen ooglid met wimpers vol maskara.
“Jy leer nog om een te wees,” maan Adelien outomaties en is glad nie voorbereid op die uitbarsting wat volg nie.
“Ag, my maggies!” roep Christelle woedend uit, haar wange bloedrooi. “Wanneer wil jy besef dat ek ’n vrou geword het?”
“Wat … bedoel jy?” vra Adelien, skielik lam geskrik.
“Niks drasties nie,” bedaar Christelle effens, “maar besef tog dat ek die drange en begeertes van ’n vrou het. Ek hou my nie meer op met skoolseuntjies nie! Ek het volwasse geword!” Sy gooi haarself op die bed neer en kruis haar lang bene, die ene balhorige aggressie. Adelien sug innerlik. Hier is verwikkelinge waarmee sy nie tred gehou het nie. Maar sy sal eers die kat uit die boom moet kyk. Hierdie kleinsus van haar was nog altyd ’n hand vol en nou nog meer. Sy met haar blonde haardos, groot groen oë en vol, koppige mond. Adelien hang haar klere weg en draai stadig om.
“Wanneer het hierdie vrou in jou ontwaak?” vra sy soetjies.
Christelle kom orent, slaan haar arms om haar knieë. “Vandat ons ’n nuwe adjunkhoof gekry het. Hy doseer Afrikaans …” Haar oë raak blink. “Hy’s bitter streng, hoor! Maar as hy gedigte voorlees, is dit of sy stem soos … soos ’n balm om jou hart vou. Daarby het hy die ongelooflikste bruin oë. Donker en diep en …”
“Spaar my dit,” sug Adelien voordat sy kan keer.
“Geensins,” antwoord Christelle kalm en staan op, vee plathand oor haar smal heupe. “Ek het hom en juffrou Steensma vir aandete genooi – en Pa het geen besware nie!”
Adelien staan versteen. Natuurlik het hy nie kapsie gemaak nie. Pa Abel is veels te sag met sy jongste en buitendien sal hy ook nie gevaar ruik nie. Nie voordat dit te laat is nie.
Sy loop deur toe. “Wag,” sê sy, “ek wil vir Anna gaan dag sê en sommer hoor wat sy gaan kook aangesien ons gaste kry!”
Christelle kom huppelend agterna. Beduie uitasem dat sy reeds opdrag gegee het dat Mamma se wit kanttafeldoek en Ouma se porseleinservies uitgehaal moet word. En daar sal skaapboud en doekpoeding en so aan wees. Meneer is mál oor skaapvleis …
Sy hoor Nomsa met haar ma in die kombuis klets en Anna groet skaars voordat sy grootoog beduie: “Jy sal moet praat met daai sussie van jou! Dis nie behoorlik vir ’n skoolkind om onnies huis toe te nooi nie. Laas Sondag het sy dit ook gedoen. Hy en jou pa het lekker gesels en Chrissie het gesit en tande tel tot die man weg is. Dit hóórt nie!”
Toe Adelien haar pa later in sy studeerkamer alleen kry, gooi hy allerlei draaie. Nee, maar die kind is dan nou so gelukkig. Hy het nie die hart gehad om nee te sê nie. Sy wat Adelien is, moet maar praat as daar gepraat moet word. Maar sy moet eers die saak uitkyk.
En sy doen dit. Trek haar beste, formele swart rok met die hoë kragie aan en maak haar hare in ’n stylvolle bolla hoog op haar kop. En sy raas met Christelle toe dié in ’n mini verskyn. Dat die kind pragtig lyk, is nie te betwyfel nie. Haar vol, vroulike kurwes en die dun middeltjie … maar nee, hemel, die rokkie is darem te skraps. Stuur haar summier kamer toe om ’n langbroek teen die koue aan te trek.
“Daar sal ’n tyd kom,” waarsku Christelle en haar oë skiet blougroen vonke, “dat ek my mini’s sal dra wanneer ek wil!”
“Vir seker,” stem Adelien koel saam, “maar nie nóú nie!” En toe die gaste opdaag, dank sy haar sterre dat sy streng was. Die man is inderdaad ongelooflik. Lank en effens asketies van voorkoms. Donker hare met diep, blink oë onder swart wenkbroue. En ’n mond wat net so ferm soos sy handdruk sluit toe hy klaar gegroet het. Dis Christelle en die piepjong juffrou Steensma wat aanhoudend gesels. Ook Pa Abel sit met ’n mond vol tande aan tafel sodat dit Adelien se plig word om as gasvrou darem iets uit die man te probeer trek. “Van waar is u, meneer Henning?” vra sy en klink selfs vir haarself ongelooflik outyds. Vies vir haarself, pers sy haar mond saam en sny vir hom nog ’n stukkie skaapboud af.
“Kaap,” antwoord hy kortweg. “Dankie, dis nou genoeg. Ek eet te veel van oom Abel se lekker skape op! Ek hoor u is ’n vermaarde sielkundige. Vertel my waaroor u u doktorsgraad skryf.”
Sy haal haar skouers op. “Die mens,” antwoord sy moedswillig, sien hoedat die wakker oë effens vernou en voeg gou by: “… se vermoë om aan te pas onder haas onmoontlike omstandighede.”
“Is dit die volle, formele titel?” vra hy koel.
“Ek is nog besig om dit te formuleer,” erken sy stywerig. En sy dink: hierdie man is gevaarlik. ’n Mens moenie met hom speel nie. Roald Henning is ’n aanloklike trofee vir