Abel se dogters. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Abel se dogters - Helene de Kock страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Abel se dogters - Helene de Kock

Скачать книгу

      “Opvoedkunde,” sê hy en sy toon klink spottend. “Daar is ’n verskil. Skaars waarneembaar, maar tog.”

      Sy voel opeens oor die vingers getik. So asof hy presies weet wat in haar kop aangaan en net betyds uit die pad spring as sy hom wil vaspen. ’n Regte onderwyser, dink sy opeens woedend. Wil ’n mens alewig iets leer. En ek laat my nie vertel dat hy nie weet Christelle het ’n allemintige “crush” op hom nie!

      “Dan weet u hoe tieners se koppe werk?” spot sy terug, maar gedemp sodat Christelle en juffrou Steensma, wat hard aan die gesels is, nie moet hoor nie. Hy sit sy vurk neer, vou sy hande oor sy bord saam en die swartbruin oë kyk haar stip aan. “Ek dink so, ja.”

      “Kan u uitbrei op die onderwerp?” vra sy baie sag.

      “Nie hier nie, juffrou Buitendag.”

      “Waar dan?”

      “Maak u nou ’n afspraak?” wil hy doodsedig weet en Abel proes effens bo sy bord.

      “Ja,” antwoord sy net so doodkoel, maar haar kake voel styf. Hierdie man is ’n komkommer van ’n mens. So kalm asof hy heeltyd vakansie hou. Of anders dra hy ’n masker; een wat sy nog driftig van sy gesig gaan afpluk.

      Hoofstuk 2

      Wat ’n onmoontlik komplekse man, dink Adelien wroegend toe sy laataand onder die dik blou duvet opgekrul lê. Sy moes haar kop gebruik het en hom net daar aan tafel vertel het wat sy van hom dink. Dat ’n opvoeder soos hy behoort te weet hoe die kwiksilwer emosies van ’n tienermeisie werk. En ook dat hy gerus minder ongeërg kan voorkom – so asof hy van g’n sout of water weet nie. En hy moet tog weet dat Christelle ’n fatale beheptheid met hom het. Die kind se oë was kwalik van hom af tydens die ete. Sy het wel daarin geslaag om ’n gesprek met juffrou Steensma aan die gang te hou, maar haar aandag was duidelik verdeeld. Adelien sug diep en draai op haar ander sy, trek die duvet se donsige warmte tot onder haar ken op. Dis ysig koud en toe hulle netnou die twee gaste gegroet het, kon sy nie gou genoeg die voordeur agter hulle toemaak nie. Christelle het haar natuurlik in die slaapkamer ingewag en geïrriteerd gevra: “Wat het jy en Meneer so lank gesels?”

      “O … oor die psigologiese vereistes van ’n goeie opvoeder, natuurlik. Asook die ideaal van indirekte beheer in die klaskamer, ensovoorts.”

      “Wat?”

      “Ag toemaar, jy sal wel eendag kan saamgesels. Word maar eers mooi groot.” Adelien wou haar suster kwaad maak en sy het.

      “Luister, juffrou die dosent, jy probeer my verniet afsit deur akademikaans te praat! My gevoel vir meneer Henning sal nooit, óóit oorgaan nie! Ek is siel van sy siel!” En toe Adelien haar uit die veld geslaan aanstaar: “Vrydag het hy vir my ’n versreël saamgegee om te oordink. Luister net hoe mooi …” Haar stem was meteens smeltsag: “‘O ziele! u van u zachtheid onbewust …’ Dis uit ’n gedig van Jacques Perk. O Adelien … dié woorde klink soos ’n stroompie oor fyn klippies, nie waar nie?”

      “Genade!” het Adelien uitgeroep. “En ek dag die man weet van beter!” Sy het ’n dreigende voorvinger gelig: “Pa gaan hiervan hoor, ou sustertjie! En jou meneer Henning kan in die vervolg van Pa Abel se skaapvleis maar net droom. Hy eet nie wéér hier nie!”

      “Sê wie?”

      “Sê ék! ’n Groot man wat vir ’n skooldogter rympies voorlees waaroor sy aan die swymel raak, soek moeilikheid!”

      “Ag, Adelien,” het Christelle haar fyn hande melodramaties in die lug gegooi, “ek het geweet jy gaan nie verstaan nie! Wat weet jy nou ook van die liefde af? Jy’s al amper agt en twintig en jy was nog nooit verlief nie!”

      Adelien wou stik van verontwaardiging. Maar opeens het kennis en ervaring haar te hulp gekom. Christelle is net ’n kind. En sy gaan deur ’n traumatiese fase. Die eindeksamen met al sy angste lê voor. Daarby is daar die onsekerheid oor volgende jaar. En onwetend mis sy die vertroeteling van ’n moeder ook. Sy is ’n weerlose teiken vir kragtige emosies. Hier sal baie suutjies getrap moet word. So sagkens dat Christelle nie agterkom sy word in ’n ander rigting weggelei nie.

      Adelien het swaar gesug en haar hand paaiend in die lug gehou. “Toe nou maar … ek … ek begin begryp. Roald Henning is inderdaad ’n … ’n indrukwekkende man. Enne ek glo hy weet wat hy doen. Belowe my net dat jy nou eers jou aandag by jou studies sal bepaal.”

      Christelle het haar bedug aangekyk. “Is jy ernstig? Aanvaar jy dat my gevoelens vir meneer Henning nie sommer spookasem is nie?”

      Adelien het net geknik, want sy kon haar stem nie vertrou nie. En haar kop het oortyd gewerk. Sy sal iets moet doen en gou ook.

      Sy en Nomsa is net vir ’n kort vakansietjie hier, dan moet sy weer terug om klas te gee en aan haar proefskrif te werk. Intussen moet sy sorg dat Roald Henning se greep op Christelle verbreek word. En dit sal sy moet regkry sonder om haar kleinsus van haar te vervreem.

      Sy lê ure lank wakker, sluimer eers in ná die staanhorlosie in die gang al twee slae geslaan het. Sy word met ’n ruk wakker toe Anna haar kom roep vir telefoon. En sy strompel gangaf in haar dik japon wat sy koulik om haar lyf vou. Dis Henk. En hy klink ver en vreemd ten spyte van die duidelike verlange in sy stemtoon.

      “Ek dag plaasmense roer vroeg?” terg hy met ’n sagte laggie.

      “Ek is nie juis ’n ware plaasmens nie,” skop sy teë. “Maar my pa is seker al weg kraal toe.”

      “Adelien …?”

      “Ja?”

      “Ek wens ek kon ook kom …”

      Selfverwyt prik opeens deur haar hele lyf. Sy kon hom maar gevra het om ’n paar dae plaas toe te kom, ja. Wat keer my? wonder sy wrang, maar kom tog nie sover om die uitnodiging te rig nie. Sy stoot ’n laggie uit haar keel: “Toe nou, ou martelaar!” terg sy. “Volgende keer as ek kom, kom jy saam! Jy sal stom staan so mooi is die lente dan in die Oos-Vrystaat! Nou is dit vrieskoud en ’n gebore Gautenger sal sommer verkluim!”

      “Praat ons oor die weer?” wil hy sag weet.

      “Nee,” sug sy dadelik berouvol. Sy kan tog nie oneerlik wees met hom nie. “Nee, Henk. Die waarheid is dat hier op die oomblik ’n paar komplikasies is wat ek eers moet hanteer. Enne … ter wille van … van sekere mense is dit beter dat daar nie nou ’n buitestander hier is nie.”

      “Is dit wat ek is?” vra hy dadelik maar keer self sy woorde spytig weg: “Nee wag, dis nie ’n regverdige vraag nie.”

      “Nee, dit is nie,” sê sy paaiend, “en jy moenie só dink nie. Jy sal baie welkom wees hier, Henk. Dis net …”

      “Toemaar, ek verstaan. Belowe my net dat jy my sal bel as jy vashaak.”

      “Ek sal,” beloof sy dadelik. “Want ek dink ek het nog ’n oor nodig. Jy weet hoe moeilik dit is om mense na aan jou te analiseer. ’n Mens is eenvoudig te betrokke.”

      “Vertel,” smeek hy saggies.

      Maar sy loer gangaf, skud haar kop asof hy kan sien. “Nee, nie nou nie. Later …” Sy groet en lui af. En sy dink: dis nie ’n slegte plan nie. Ek sal vanmiddag ná ete gaan stap en hom met my selfoon uit

Скачать книгу