Abel se dogters. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Abel se dogters - Helene de Kock страница 8
“As jy dink kru taal laat jou volwasse klink, dink weer,” sê Adelien styf.
Christelle lag en staan op om die borde by haar te vat. “Aag … ’skuus! Dis net dat jy my so vies maak as jy dink ek is nog jou klein sussie.”
“Jy is dit,” sê Adelien kwaai, “en ’n mens is g’n volleerd as jy in matriek is nie!”
“Bla, bla, bla …” giggel Christelle en verdwyn die kombuis in.
Abel sit kop onderstebo sodat Adelien die pienkerige kroontjie tussen die ylwordende hare kan sien. En ’n wilde paniek swel in haar. Hierdie mens is hoegenaamd nie opgewasse teen sy tienerdogter nie. Waarom het sy dit nie vroeër so duidelik gesien nie?
Toe Christelle terugkom, gaap sy demonstratief.
“Ek wens ek kan nou gaan doeks, maar ek moet nog leer. Ek skryf môre ’n aaklige vraestel. Geskiedenis by ou Antiekus.”
“Jy bedoel … meneer Jooste,” betig Abel floutjies.
“O, is dit sy naam?” terg Christelle en kom soen hom en Adelien al twee nag.
Dis nog grysvroeg toe Adelien al roer en klaarmaak om dorp toe te gaan. Sy trek haar beige snyerspakkie met die bont sybloes aan en neem haar jas, vat haar hare agter haar kop in ’n Franse rol vas en sit pêrelknopies in haar ore. Sy bekyk haarself krities. Amper soos ’n dorpstannie, erken sy aan haarself. Tog, dit behoort te werk. Die man moet sien sy’s ernstig. Jy bedoel verstok, praat ’n stemmetjie in haar agterkop en sy draai verergd weg van die spieël af. Sy bly in haar kamer totdat Thabu vir Christelle kom oplaai het om skool toe te gaan. Toe eers glip sy uit en ry saam met Pa Abel wat ook een en ander by die koöperasie te doen het. Maar toe hy haar voor die imposante sandsteengebou met sy blinkgeverfde sinkdak aflaai, voel sy soos die eerste dag toe sy hoërskool toe gekom het. Groen. En hopeloos onbekwaam. Altyd nog het sy hierdie dowwe angs vir nuwe situasies gehad. Dis hoog tyd dat sy dit afskud. Maar … sê nou die man lag vir haar. Of erger: sê nou hy vererg hom? Dis per slot van rekening banaal om te dink dat hy meer as die gewone belangstelling in ’n skooldogter het … Sy trek haar skouers agtertoe en sluit haar mond ferm, begin aanstap met die paadjie na die groot voordeur toe. Ek kan Roald Henning hanteer, dink sy. Ek weet mos hoe werk ’n mens se kop. Ek het nie net die instink daarvoor nie – ek het ook die boekekennis en die ervaring en … Sy sien opeens haar weerkaatsing in die blinkgewaste glasdeur en skrik effens. Miskien is Nomsa reg, dink sy vervaard. Ek is hopeloos te maer. En stokkerig soos ’n meerkat. Dalk moes ek die wye denimromp en parmantige kort baadjie aangetrek het. Of die knalrooi kerkpakkie.
Maar toe een van die sekretaresses haar opmerk, kom sy dadelik en maak die deur wyd oop. “Hallo, Adelien!” lag die dikkerige vroutjie. “Lanklaas gesien! O, maar jy lyk deftig! Ek hoop dis vir ons hier by Heimat Hoër dat jy so mooi aangetrek het?!”
“Dit is, tant Geertjie,” glimlag sy. “Ek was eeue laas hier … enne … ek het gedink dit sal goed wees om meneer Henning te kom sien. U weet, met dié dat Christelle al amper die skool verlaat, en so aan …”
“En so aan, inderdaad,” knik die vrou en frons liggies. “Christelle lyk juis in die laaste tyd vir my so bietjie af. So asof sy gebuk gaan onder iets, weet jy.”
“Al die leerwerk, ongetwyfeld,” keer Adelien fluks, wel wetend dat tant Geertjie nie eens ’n halwe woord nodig het om ’n skinderstorie uit te ruik nie. Die vrou knik swaarwigtig en lei haar dadelik na die adjunkhoof se kantoor toe, kondig haar aan met ’n onderdanige teemstem wat Adelien amper laat giggel. Die liewe tant Geertjie is darem so kleindorps as wat kan kom. Die adjunkhoof is amper so goed soos die keiser en wee jou as jy ’n oneerbiedige woord uiter … Soos wat dit is, staan die keiser haar op die mat voor sy lessenaar en inwag.
“Dankie, mevrou Kestel,” sê hy sag, “maak asseblief die deur toe.”
Tant Geertjie se ronde mond gaan gaperig oop en toe maak sy maar so. En opeens kan Adelien dit nie meer hou nie en sy sê glimlaggend: “Sy sou baie graag hierdie gesprek wou hoor!” Sy steek haar hand uit na hom en hy vat haar vingers stewig vas, sy blinkbruin blik stip op haar. Toe glimlag hy ook.
“Vir seker sou sy dit wou hoor. Dis nie elke dag dat ’n leerling se mooi suster hier besoek aflê nie.”
Adelien voel ergerlik hoe die bloed na haar gesig stoot, maar nog voordat sy iets kan sê, val hy haar in die rede. “Dis nie ’n kompliment nie, juffrou Buitendag. Dis bloot ’n estetiese feit, as daar so iets is. Sit gerus.”
Sy besluit om hom ook onkant te vang. “Meneer Henning, ek is veel meer as Christelle se suster. Ek is in baie opsigte ook haar primêre opvoeder en versorger.”
“En ek, as haar onderwyser, is jou gesagsvennoot. Trouens, in loco parentis beteken tog dat ek in jou plek staan hier by die skool, nie waar nie?” Sy swyg verleë, maar hy maak ’n paaiende handgebaartjie. “Is dit waaroor jy my kom sien het? En kom ons gebruik voorname. Ek is Roald, soos wat jy seker weet.” En toe sy opsigtelik huiwer: “Dis wat ek so aangenaam vind van die platteland. ’n Mens kan mense op hul voorname aanspreek en niemand dink jy probeer glibberig familiêr wees nie!”
“Ek … goed, Roald. Want ek het juis ’n punt waaroor ek ernstig voel.”
“Christelle, natuurlik,” sê hy en vou sy hande rustig voor hom op die lessenaar. Sy staar gefassineer na die skraal, sterk vingers, die goedversorgde, kortgeknipte naels.
“Natuurlik,” beaam sy gou-gou. “En ek dink jy weet dat dit nie oor haar skoolwerk gaan nie.”
“Nee, dié is besonder goed. Wat my wel opgeval het, Adelien, is dat Christelle in die laaste tyd besonder emosioneel is. Sy vererg haar gou, huil oor kleinigheidjies …”
“En swymel oor gedigte,” keer Adelien hom kortweg. “Sy raak bewoë van bewondering as sy die versreël voorlees wat jy vir haar gegee het.” Sy maak plegtig keel skoon. “Roald … sy is hoegenaamd nie opgewasse teen …”
“Het sy dit al voltooi?” vra hy met rustige belangstelling.
“Wat?” vra Adelien uit die veld geslaan.
“Die versreël,” sê hy. “Ek het aan elkeen van die graad twaalfs ’n versreël uit ’n bekende digter se werk gegee. Die opdrag was om die volgende reël te probeer skryf. Sommer net ’n manier om hulle te laat dink. Veral diegene wat nie ooghare vir die poësie het nie. Hulle sing ’n ander deuntjie as hulle eers besef hoe ’n fyn en verhewe kuns dit is. Dis nie sommer vir inspring en …”
“Roald,” onderbreek sy hom uitasem, “die versreël wat jy vir haar gegee het … ek dink sy neem dit te persoonlik op.”
“Wat was dit dan?” vra hy met ’n ligte frons. “Ek het net die papiere met die versreëls op uitgedeel. Nie tyd gehad om te sien wie kry wat nie.”
Adelien se mond word droog. Sy was gek … Sy moes net met Christelle gepraat het. Hierdie man weet van g’n sout of water nie. Hy is nié die soort wat sal vermoed dat skooldogters hul hart op hom verloor nie. Hy dink nie eens aan sulke dinge nie. Sy teug na asem, kry dit reg om skeefweg te glimlag. “Ag toemaar wat, dis nou ook nie so belangrik nie.”
“Maar dit is,” antwoord hy sag en die donker oë pen haar vas. “As dit jou so gepla het dat jy skool toe gekom het, is dit baie belangrik.”
Hemel tog, dink sy, sluk swaar. “Wel …