Abel se dogters. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Abel se dogters - Helene de Kock страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Abel se dogters - Helene de Kock

Скачать книгу

gesels. Gee volledig verslag oor Nomsa se doen en late op kampus en voel verlig toe Anna tevrede knik.

      “Solank sy net mooi leer,” sug die vrou. “My geldsak is dun. Ek weet nie wat ons sou gedoen het sonder jou pa se hulp nie. Nomsa moenie dink omdat sy ’n beurs het en baie goed word vir haar gegee, alles sal maar net goed gaan nie.”

      “Sy dink nie so nie,” troos Adelien. “Die een waaroor ek bekommerd is, is Bernadette. Nomsa sê sy sleep met ’n wilde man. Een wat kort-kort ’n ander meisie het.”

      “Auk!” klik Anna verskrik met haar tong. “Waarom praat jy nie met haar nie?”

      “Ag Anna, as ek haar loop soek, is sy alewig iewers heen en buitendien, op haar ouderdom luister sy nie meer na ’n ouer suster nie!”

      “Maar jy’s baie ouer as sy! Sy móét mos luister!”

      Adelien skud haar kop. “Nee, dit werk anders met vandag se jongmense. Hulle luister net na hulleself, Anna.”

      “Tot hulle in die moeilikheid is. Dan hardloop hulle gou-gou huis toe.”

      “Moenie so praat nie, asseblief. Dis erg genoeg dat ek hier moet kom en sien hoe Christelle ’n gek van haarself maak.”

      “En nou?” wil die vrou grootoog weet en roer rukkerig in die kastrol op die stoof. “Jy sal iets móét doen, Adie …”

      Adelien druk ’n stuk beskuit so heftig in die vol beker koffie dat dit stort. “Ek gaan die man sien.”

      “Wat gaan jy sê?”

      “Ek weet nog nie. Maar ek sal moet slim wees. Dis nie ’n maklike saak nie.”

      “Maar … dis baie maklik!” sê Anna met ’n gesig rond van verbasing. Sy klik weer met haar tong en sit die deksel terug op die pruttende kooksel. “Jy moet net maak of jy hom óók laaik.”

      “Ek laaik hom glád nie!” roep Adelien uit. “Jy laat dit nou klink asof ons twee terte is! Die jongste het ’n ‘crush’ en die oudste het troukoors!”

      Anna gooi haar kop agteroor en lag dat die trane blink paadjies oor haar gladde wange maak. Toe vee sy dit met haar hande weg en glimlag breed: “Is dit nie so nie? Jy moet tog nou ’n man kry, Adie! Jy kan nie altyd so alleen loop nie!”

      “Ek loop regop en alleen!” antwoord Adelien vies. “Ek het nie ’n man nodig om te kan asemhaal nie. En Christelle soek net aandag, dis wat. Hoe gouer sy ook Pretoria toe kom waar ek ’n oog oor haar kan hou, hoe beter. As ons haar net deur hierdie laaste paar maande van graad twaalf kan kry sonder dat sy skade optel, sal ek dankbaar wees.”

      Anna klik ergerlik. “Dink jy ek en Thabu en jou pa kyk nie mooi genoeg na haar nie?” wil sy kwaai weet. “Thabu sê sy is soos ons aanneemkind. Hy vat haar nou in die eksamen elke dag skool toe en terug en ons praat meer met haar as wat Abel kans kry om te doen.”

      Adelien sprei haar hande in ’n vredesgebaartjie oop. “Ek weet hoe onmoontlik dit vir Pa is om ’n hand vol soos Christelle te hanteer. En ek waardeer elke ding wat jy en Thabu vir my sussie doen, glo my.” Sy frons opeens. “Sê my, kuier Pa Abel nog by daardie weduwee wat musiek gee op Fouriesburg?”

      “Nee,” skud Anna kop. “Sy bel hom nou en dan maar hy gaan nooit meer nie. Ek en Thabu sien hy sit maar weer saans so voor die televisie. Hy kyk nuus en dan gaan slaap hy, want die ligte in die huis gaan voor agtuur al uit.”

      “En wyle dominee se vrou? Kom sy nog hier?”

      “Nee wat, Adie. Jou pa was laas toe sy hier aangekom het nors met haar. Het nie drie woorde gepraat nie en toe ry die vrou. Sy vat mos nie nonsens nie. Voorlaas Saterdag toe ek en Thabu dorp toe was, het Evelina vir my gesê haar mevrou sal ook nie weer kom nie, want sy loop nie agter ’n man aan wat nie van ’n graf kan wegkom nie.”

      Adelien se mond sak oop. “Praat die mense dan so?” wil sy weet al ken sy die antwoord. Anna klik net met haar tong.

      “Niemand is meer jammer vir hom nie … En dis sleg. Jy weet mos hoe maak mense. Hulle sê dis al jare en jare. Abel Buitendag moet nou al gesond wees.”

      “Maar hy is mos,” brom Adelien en weet dat sy kinderagtig is. Sy is net so oneindig moeg vir hierdie soort gesprek oor haar pa. Sy staar moedeloos na Anna waar sy nou ’n paar eiers in ’n hopie meel in ’n bak breek en dit vernuftig met ’n houtlepel bykom. Die vrou bewerk die deeg totdat dit botterglad is en toe eers kyk sy op.

      “Jou pa sal nie weer trou nie, Adie. Hy wil nie. Hy het sy hart baie diep gebêre.”

      Adelien snuif-snuif aan die geur van die lou deeg en sug swaar. “Ek wens soms so hy wil weer begin lewe. Regtig lewe, weet jy. Nie dat ek mooi kan onthou hoe dit nou eintlik was nie. Maar ek dink hy het regtig nou ’n vrou nodig.”

      Ná middagete stap sy oor die werf verby ’n klompie weglêhennetjies wat ywerig skrop en deur ’n strook hoë bloekoms al op met die sandsteenkop tot heel bo. Daar gaan sy sit en tuur ver uit oor die wit stoppels van die afgeoeste landerye. En ’n ent nader onder aan die kop se verste kant, knus tussen ’n klomp ou populiere se dik silwerkaal stamme, lê die ou ruïnes van die Voortrekkerhuis van die Geysers. Toe die ander Voortrekkers in 1837 hier weg is die Drakensberge oor, het hulle agtergebly, betower deur dié wêreld van pienk en ligbruin sandsteenrotse, hoë koppe en sagte deinings. Soos van kindsbeen af verwonder Adelien haar aan die verkrummelde tekstuur van die horingou mure. Selfs ’n deel van die kraal met sy ronde rivierklippe het behoue gebly. Die suurlemoengeel van die winterson glim koesterend op die stukkende ou sandsteen. Baie vertrekke se buitelyne het verstommend heel gebly deur die jare, maar die dak is natuurlik toeka daarmee heen. Maar Pa Abel en Thabu sorg nogal dat dit nie verder verweer nie. Het selfs hier en daar al iets vasgesement.

      “Hoekom doen Pappa dit?” het Adelien as sesjarige verstom gevra. “Gaan hier iemand kom bly?”

      Abel het orent gekom met die troffel en Thabu se langsame bewegings soos wat hy ’n klip optel en op sy plek sit, het verstil. “My kind, hier hét iemand gebly … ménse … En hulle moenie heeltemal wegraak nie.”

      Woorde wat haar nog altyd bybly. Ménse het daar gebly … Sy het haar later jare toe sy daarlangs gestap het, verbeel sy kon stemme tussen die ou mure hoor. Sy frons skielik. Een naweek nie lank gelede nie was Bernadette saam met Dirk hier. En hulle het na die ou ruïne toe gestap – ongelukkig net nadat Dirk en pa Abel vasgesit het oor die politiek.

      “Nutteloos om die ou plek te probeer dokter,” het hy gebrom toe hy die vars sement opmerk waarmee Abel net die vorige week nog ’n ruwe stuk sandsteen op sy plek teruggesit het.

      Adelien het die onrus in die man aangevoel en die simpel opmerking geïgnoreer, en vooruitgeloop. Sy was nie lus vir die aanvoelbare dog onderdrukte onmin tussen dié twee nie. Na agtertoe kon sy die gedempte drif van Bernadette se antwoord hoor alhoewel die krummelrige ou mure die woorde gesmoor het. En dié Dirk was opgeruk totdat hulle laat die middag teruggery het Pretoria toe. Adelien sug swaar. Ag, sal haar liewe rooikopsuster tog nie maar van die man afsien nie? Dis meer as genoeg dat Christelle so onstuimig is.

      Die winterson op haar kop maak haar effens loom en toe haar oë begin knip-knip, vis sy gou haar selfoon uit haar sak. Toe Henk antwoord, is sy onnoemlik bly. Sy groet hom jubelend sodat sy die gespanne opwinding in sy stem hoor toe hy haar antwoord: “Waaraan het ek dié heerlikheid te danke? Hier sit ek in ’n muwwe ou kantoor en haal stapels werk

Скачать книгу