Helene de Kock Omnibus 4. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 4 - Helene de Kock страница 12
“Wat is fout?” vra hy pylreguit en dis na oupa Murray wat hy kyk.
Die ou man se blik wyk nie voor syne nie. Hy skud net meewarig kop. Toe sê hy: “Dis baie goed dat jy dink dat ek perspektief kan gee. Want nou gaan jy dit baie nodig hê.” Sy knopknieë in die donker strepiesbroek sak effens uitmekaar en hy vou sy lang arms voor sy bors. En Pietman hoor duidelik hoe ’n skor snik hier agter hom uit sy ma se keel glip. Ook oupa Murray maak eers keel skoon voordat hy praat en dis of die krapgeluid in Pietman se ore eggo. “Luister, seun, daar het iets gebeur wat ’n groot verandering in jou en jou ma se lewe tot gevolg gaan hê.”
“Wat . . . ?” fluister Pietman met ’n droë mond en sy vingers vou vanself snaarstyf om die ronding van die stuurwiel.
“Die besigheid het ’n onherstelbare knou gekry. Fotoland het gevou. Al drie ateljees. Daarby het die twee tuisnywerhede ook teëspoed opgetel.” En met ’n onverwagte woedeklank: “Alles net omrede ’n sekere, één persoon die finansies hanteer het.”
Fotoland én Lekkerland . . . ! Sy ma se suksesverhale.
“Nee!” sê hy. “Dit kan nie wees nie! Ma se besigheid was nog altyd gesond. Die ateljees en die koswinkels is dan so suksesvol!”
“Wás suksesvol,” knip oupa Murray hom ferm kort. “En jy hoor nie wat ek sê nie. Janet du Plooy, wat die meesterbrein van jul finansies was, het lang vingers ontwikkel.”
“Tante Janet?” fluister Pietman skor.
“Mevrou Du Plooy, ja. Dieselfde een wat al jou ma se kreatiewe idees opgeslurp en daaruit geld gemaak het.”
“Pa . . . moenie . . .” probeer Anita de Waal keer, maar haar stem stok en Pietman steek blindelings ’n hand na agter uit. Sy vat dit vas en hy voel hoe warm trane op sy pols drup. En vir die eerste maal sedert hy grondgevat het, steek ’n verskriklike vermoede sy lelike kop uit. Hy moet twee maal sluk voordat hy kan praat.
“Beteken dit . . . dat . . .”
“Ja, ons is bankrot.”
Dis sy ma wat gepraat het – en die woorde swel die hele kajuit vol, walm teen die windskerm aan en maak hom doodsbenoud sodat hy sy venster afdraai en lang teue van die warm middaglug insuig. Daar is ’n lang, lang stilte en toe sê oupa Murray sugtend: “Kom, laat ons ry. Ons kan by die huis verder praat.”
Pietman bestuur soos ’n outomaat, moet met alle mag sy aandag by die verkeer probeer bepaal. Hy is onnoemlik verlig toe hulle eindelik sy ma se meenthuis in Northcliff binnestap. En die heel eerste ding wat hom soos ’n vuis in die maag tref, is die kartondose wat oral rondstaan. Die ouer mense sê niks, staan net langs hom en oplaas steek sy ma ’n skigtige hand uit om sag aan sy skouer te raak. Maar dis toe dat oupa Murray hom stewig aan die arm neem en maak sit op die naaste regop, antieke stoel in die portaal.
“Jy is klaar ’n man,” sê hy kortweg. “En dis tyd dat jy leer om die klappe te vat wat ’n man soms kry. Ek is baie jammer, Pietman, maar bankrotskap het verskeie minder aangename implikasies. Een daarvan is dat die huis verkoop word. Dan is daar die motors en die meubels, die juwele en die skilderye.”
Pietman hou skielik ’n hand op, kom stram orent uit die stoel en voel die wêreld draai, draai, dráái.
“Dis . . . nié regverdig nie!” bars die woorde oor sy lippe en hy gryp met een hand na die rugleuning van die ou en skielik dierbaar bekende stoel. “Dis nie rég dat tante Janet dit oor ons gebring het nie!”
“Nee, natuurlik nie,” antwoord oupa Murray met die onbewoënheid van ’n regsprofessor, “maar niemand het ooit gesê die lewe is regverdig nie!”
“Maar,” stamel Pietman, “daar moet tog ’n manier wees om . . .”
“Alles te herstel?” vra oupa Murray met die glimp van ’n glimlag in sy grys oë. Toe tree hy nader aan Pietman en sit ’n hand op sy skouer. “Daar is, ja. Maar nie soos wat jy beplan nie. Jy sien, dis soos wanneer glas breek. Jy kan las en plak, maar dit sal nie werk nie. Jy kan wel ’n ander glasstuk gaan koop.”
Pietman se kop ruk ergerlik op.
“Dis tog belaglik!” stry hy pervers. “Kóóp is mos buite die kwessie!”
Maar professor Murray is oud en der dagen wys. Hy glimlag net skeefweg vir Pietman se magtelose tirade.
“Koop met silwer en goud is buite die kwessie, my kind. Maar jy kan leer koop met jou hart en met jou gesindheid.”
“Ek verstaan nie,” sê Pietman bot – maar in die helderte van hierdie seer oomblik, sien hy tog wat sy oupa bedoel. Alles gaan verander, en hy sal moet aanpas. Tot sy innige konsternasie begin sy onderlip beef en hy moet wegdraai van hulle. Hy stap blindelings deur die huis, hoor hoe sy ma doenig raak met die ketel en koppies in die kombuis en hoe oupa Murray ’n stoel uittrek om by haar te sit. Oral sien hy dieselfde ding. ’n Huis in die teken van vertrek. Selfs sy goed is al netjies in bokse gepak en die kamer waarin hy grootgeword het, is leeg en onpersoonlik. Selfs sy plakkate van kriekethelde uit sy hoërskooldae is afgehaal en opgerol. Hy gaan sit op die kant van die bed en laat toe dat daar trane uit sy oë loop. Dit brand sy wange en hy vee dit hardhandig met sy vuiste weg, dwing homself om te dink. Logies en analities soos wat hy geleer is om te dink. Sy blik tas sentimeter vir sentimeter oor die kaal mure, die leë venster wat uitkyk op die digbegroeide klein patio, die los, geweefde mat wat klaar vasgebind is. Die weggaan is hiér, besef hy. Dinge is baie verder gevorder as wat hy ooit kon vermoed. Hulle het dit vir hom dig gehou om redes wat hy ineens kan begryp. Daar was die eksamen en daar was die vakansie saam met Surita wat hulle klaarblyklik vir hom ongeskonde wou laat geniet. Maar hy weet nou ook waarom byna alles wat sy ma in die laaste tyd gesê het, so melankolies geklink het. Sy het hierdie ding sien kom en sy was magteloos . . .
Hy vlie meteens op, maak ’n vuis en slaat dit donderend teen die kasdeur vas, byt op sy tande totdat sy kieste pyn. Die verpeste, mislike tante Janet. Hy het nooit juis van haar gehou nie. Sy gee die indruk van seepgladde bekwaamheid; van iemand wat net die beste wil hê en dit dan vasgryp. Aanvanklik het dit Pietman nogal geïmponeer – dié vriendin van sy ma wat so breedsprakig is oor wat alles met geld gedoen kan word. Want sy het nie net gepraat nie. Anita de Waal het die kreatiewe idees gehad, soos sy oupa gesê het, en Janet het dit help vergestalt. Sy het die geld wat Pietman se pa aan hulle nagelaat het, geneem en ’n baie lonende besigheid op die been gebring. Eers net die tuisnywerheid. Toe nog een en later die ateljees. Met die jare saam het hy en sy ma nie eens meer gewonder oor tante Janet se flair met geld nie. Nee wat, sy was bekwaam. Té bekwaam, dink hy nou en voel die emosie weer opdam in sy bors. Die vrou se flair was toe al die tyd ’n flirtasie met die wortel van alle kwaad.
Lank staan hy nog so. En hy wag dat die skrik moet krimp. Maar die impak was te groot. Hy moet nou eers weer met sy ma en sy oupa praat of in trane uitbars. Hy hol die trappe af soos duisende male vantevore, kry hulle by die teepot wat al half gedrink is. Sy ma kyk skaars op, gooi luiters vir hom ook in toe hy gaan sit. ’n Ruk lank drink hulle net in suwwe stilte. Toe vra Pietman: “Wanneer moet ons hier uit?”
“Oormôre,” antwoord sy ma. “Ons sal dit juis vanaand bespreek as my prokureur hierheen kom. Maar voordat ek vergeet – Keppie het gebel toe jy in Frankryk was. Hy het ’n boodskap vir jou gelaat.”
“Wat . . .?” vra Pietman half lusteloos.
“Net