Helene de Kock Omnibus 4. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 4 - Helene de Kock страница 15
Hy is verlig toe hulle haar ma eindelik voor die supermark kan aflaai en die motor in ’n skadu trek waar hulle rustig kan gesels. Oomblikke lank is daar ’n swaar stilte, toe draai Pietman dwars in die sitplek, kyk na haar blink bos hare en raak liggies met sy vingerpunte daaraan. “Waarom het jy jou ouers nog nie vertel dat ons bankrot is nie, Surita?”
’n Blos skiet in haar gesig op en sy kyk by die venster uit straat se kant toe. “Dis moeilik,” sê sy oplaas eerlik. “Ek weet sowaar nie of hulle gaan verstaan nie.”
“Wat is daar om te verstaan?” wil Pietman opeens koud weet, voel hoe sy hart stram teen sy borsbeen hamer. “As ’n mens bankrot speel, is jy nie melaats nie, Surita! En daar kan enige van driehonderd redes wees waarom dit met jou gebeur het!”
Haar lip begin meteens beef en sy druk haar vingers daarop, sluk swaar voordat sy uitkry: “Ek weet . . . dis net dat die implikasies daarvan ons twee diep gaan raak!”
“Hoe diep?” vra hy onwillekeurig en steek half skamper sy hand na haar toe uit. Maar sy vat dit stewig vas, druk sy palm styf teen hare sodat die sagte warmte daarvan hom week maak en hy self sy oë vinnig moet knip. Maar hy moet weet: “Hoe diep, Surita? Gaan dit alles tussen ons verander, of wat?”
“Nee, natuurlik nie!” antwoord sy dadelik en vee haar oë ferm af. “Dis net . . . dat jy nou seker nie in staat sal wees om al die lekker dinge saam met my te doen nie!”
Pietman los haar hand, vat die stuurwiel in ’n klem vas en voel hoe teleurstelling soos ’n droë wond in hom begin trek en pyn. Wat het sy dan gedink? Het hierdie mooi meisie al óóit in haar lewe gedink? “Luister,” sê hy, “van die lekker dinge sal jy maar moet vergeet. Oorsee gaan, is uit. En daar is ander dinge wat jou nog meer gaan ontstig. Ek sal nie weer kan teruggaan Tukkies toe nie. “
Dit skok haar stil en haar hand gaan weer mond toe. ’n Hele ruk lank sit sy so, toe vra sy bewerig: “Maar wat . . . wat van jou verdere studies?”
“Potch het ook ’n universiteit,” antwoord Pietman bruut. My hemel, dink hy, ’n mens sou ook nou sweer ek dra hier ’n doodstyding aan. Dis erg, maar sowaar nie só erg nie!
“Luister, ek gaan my LL.B. op die PUK doen,” sê hy bedaard. “Ons sal mekaar nog kan sien. Daar lê nie ’n oseaan tussen Pretoria en Potch nie!”
“Dit voel so!” kap sy ergerlik terug en trek haar asem met ’n snik in. “Op hierdie oomblik is dit vir my onbegryplik dat jy hier so kalm kan sit en sito-sito vir my vertel dat jou lewe stukkend is!”
“Wág nou!” sê hy opeens hard en toe hul oë ontstemd ontmoet, draai hy om en klim uit die motor, loop staan arms voor die bors gevou onder die yl skadu van die boom op die sypaadjie. Hy sien hoedat sy snesies uithaal om haar wange en oë te klad en ’n skielike spyt swiep deur hom. Arme kind. Sy kan dit mos nou ook nie verhelp dat sy haar hele lewe nog in watte verpak is nie. Dit moet ’n yslike skok vir haar wees. Surita Otto, rykmansdogter en sosiale vlinder par excellence, se kêrel het skielik in ’n kerkmuis verander. Dit klink baie na ’n Grimmsprokie. Net, hy weet sowaar nie hóé lank sy hom sal moet soen dat hy weer van ’n platsakmuis in ’n man-met-vermoëns verander nie.
Hy staan en kyk na die verkeer wat verbystroom, wens meteens dat sy oupa se ou dikwielfiets nou hier was sodat hy sommer kan opspring en die dorp uitry die bosse in. Hy staan nog daaraan en dink, toe jaag daar ’n meisiekind op ’n fiets verby. Haar woeste, donker krullebos wapper in die wind en hy kry net-net die geur van rose. Hy kyk haar ietwat verdwaas agterna. Smal heupies in ’n blou denim, dun armpies bo die nousluitende pienk T-hemp. Seker ’n kind nog. Net toe kyk sy om en hy kry ’n glimp van blinkbruin oë en ’n pienk lagmond. Maar sy het haar misgis met die lagie gruis langs die sypaadjie en hy sien wat gaan kom nog voordat sy dit weet. Die agterste fietswiel glip onder haar uit en sy skuif oor die teerpad. Gelukkig kom daar nie op die oomblik motors aan nie en Pietman draf dadelik nader om haar op te help. Maar toe hy aan die skraal boarm met die sygladde bruin vel vat, pluk sy haarself verwoed uit sy greep. “Los!” roep sy uit. “Lós my tog!”
“Ek wil net help!” proes Pietman en kry ’n kyk wat hom platvee met die aarde. Sy is nie ’n kind nie, sien hy. Die T-hempie het sagte, vol rondings en sy dra lipstiffie en maskara aan die lang, lang wimpers. Sy strompel orent, druk op haar heup waar die harde pad haar moet gekneus het en onwillekeurig steek hy weer sy hande uit. Maar sy pers haar mond saam, skud die krulle uit haar gesig en sê koud: “Ek kan sélf, dankie!”
Hy staan haar swyend en betrag, kyk opeens met volslae verbasing om toe hy Surita skuins agter hom hoor praat. Hy’t skoon van haar vergeet.
“Hallo, Yental,” sê sy en haar mond trek geamuseerd bo die rooigehuilde oë. “Wat het jy nou weer aangevang?”
Die meisie se gesig verstil, die blinkbruin oë word koud.
“Dag, Surita,” groet sy styf, vryf nog ’n slag oor haar stowwerige sitvlak en buk toe om die fiets op te tel. Maar Pietman spring haar voor, lig dit met een haal van sy arm en plaas die stang in haar hande. Haar vingers vat dit met ’n abrupte gebaar vas. Skraal, bruingebrande vingers, voëltjie-fyn en tog raakvat-bekwaam. Dit kan hy sien aan die kort, netjiese naels, die effense skurwigheid op die kneukels.
“Stel my voor, Surita,” glimlag hy opeens, maar die meisiekind se mooi handjie vee sy woorde geïrriteerd weg.
“Dis nie nodig nie, meneer. Ons sal beslis nooit weer ontmoet nie!” Toe gee sy Surita ’n skuins kyk en spring op die fiets, trap dat die gruis onder die wiele wegspat. Hulle staan haar swyend en agterna kyk.
“Wie is sy?” hou Pietman vol, kyk om na Surita. Haar mond is ergerlik saamgepers en haar oë is bot.
“Yental Niklaus,” antwoord sy nietemin. “Niemand van belang nie. Sy was saam met my op skool en ek dink sy werk iewers op ’n groenteplaas.”
“O,” sê Pietman, en toe nadenkend: “Yental . . . dis ’n vreemde naam?”
Surita gee ’n blaaslaggie. “O, bepaald, ja. Haar ma was glo so ’n romantiese vrou. Die naam was vir haar mooiklinkend. So het Yental altyd beweer as die onderwysers haar daarna gevra het.”
“Maar dit is mooi,” sê Pietman. “Dit . . . dit klink soos . . . soos ’n klok wat lui . . .”
“Nou toe nou!” ruk Surita haar op en stap vooruit motor toe.
Dis toe hulle weer inklim dat Pietman haar sag op die wang soen. “Toe nou maar, ek sal self vir jou pa van ons dinge vertel.”
Sy hou haar mond vir nog ’n soen en toe hul lippe raak, voel hy hoedat sy bewe. Hy vat haar vas en soen haar opeens met ’n woedende drif en ’n malende, vretende bitterheid. Vir wat kon die blessit tante Janet du Plooy nie haar gierigheid bedwing nie? Waarom moet een mens se misstap ’n klomp ander ook in die put dompel? Dis of die kwaad hom oorrompel en hy voel sy arms staalstyf om Surita span. Maar sy beur los en hy hoor haar snik. Skrik spring in hom op.
“Ek is vreeslik jammer . . .” stamel hy en trek haar saggies weer nader, vee die trane van haar wange af. “Dit . . . was nie reg nie.”