Helene de Kock Omnibus 4. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 4 - Helene de Kock страница 13
“Ja,” sê oupa Murray sag maar beheers. “En Pietman, jy kan ongelukkig ook nie weer teruggaan Tuks toe nie.”
5
As die wêreld al ooit op sy kop gestaan het, dink Pietman, is dit nou. Die aarde draai teen ’n malle spoed wat vier en twintig uur soos vier minute laat voel. En hy kan nie mooi bybly nie. Sy binneklok tik hier mis en daar raak. Want alles het net te vinnig gebeur. Die verkoop van die huis, die meubels, die skilderye, vase, borde en messegoed. Alles is omgesit in geld. Geld wat iewers in ’n gat verdwyn het. Die ergste was sy kar. Toe hy die sleutel aan sy ma teruggegee het sodat sy dit weer vir ’n harde-oogman met kepe langs sy mond kon oorhandig, het hy amper gehuil. Sy mooi, rooi kar. Die ding waaroor hy gedroom het vandat hy ’n tjokkertjie was. Wroem-wroem was jou eerste woorde, het sy ma altyd gespot. Maar toe die man met sy rooi sportmotor wegry – en hy vir die laaste maal die woema van die enjin se wroem hoor, het hy vir die eerste keer werklik besef dat daar baie dinge uit sy lewe gaan verdwyn. Dat hy stellig ’n heel nuwe woordeskat sal moet ophou – een wat deur gewone, swoegende salaristrekkers verstaan sal word. Een waaruit uitdrukkings soos eet-vanaand-uit en vertrek-Maandag-oorsee vertaal word met dis-my-laaste-sent en Keppie se geliefkoosde sêding: Pitte is soos goedkoop popmusiek – dit hou jou aan die gang, maar jy kan nie daaroor romanties raak nie. Pietman het nog nooit mooi geweet wat ou Keppie daarmee bedoel het nie, maar dis of daar ’n vae begrip vir die woorde daag. In sy nuwe lewe hier op Potch sal dit boomskraap gaan; tyd vir foefies gaan daar nie wees nie. Die dae van rooi sportmotors en oorsese besoekies is verby. Dit het hom soos ’n voorhamer getref toe hy daar op die netjiese plaveisel voor die meenthuis tussen sy ma en sy oupa toegekyk het hoe mense hul goed uitdra. En ’n dik knop het in sy keel geswel toe die man met die keepmond in Pietman se vuurwa klim en die deur toeklap asof dit die sifdeur van ’n verwaarloosde plaashuis is.
Oupa Murray het sy arm om Pietman se skouers kom slaan en hom ’n stywe druk gegee. “Kom, ou seun, ons moet nog Potch toe voor dit donker word.”
Potch . . . Dié Potch van sy kinder- en vakansietyd wat skielik so ver en vreemd soos ’n maanlandskap voel. Hoe gaan hy ooit daar kan leef? Sy hele bestaan is ingebed in Tukkieland. Die kampus en die koshuis; die pêlle en die proffies. En al die soet, soet, tye saam met Surita . . .
En heelpad Potch toe kon hy net aan haar dink. Aan die eienaardige, stram telefoongesprek waarin hy na die beste van sy vermoë probeer verduidelik het.
“. . . en Surita, dis iets wat enigeen kan oorkom. Dis moeilike tye hierdie . . . enne . . . tante Janet . . . wel, sy het beheer verloor oor die finansies . . . enne . . .”
“Waarvan práát jy, Pietman?”
Toe het hy alles uitgepak. In lang sinne asof hy soveel woorde moontlik in ’n asemteug wou inprop. “Die regsterm is insolvensie en dit beteken dat ons bankrot is en dat my ma haar huis moes verkoop en dat ek my kar moes verkoop en . . . Hel! Dis ontsettend góór!”
’n Lang stilte. (’n Swanger een, soos die liefdesverhale dit beskryf, het hy nog gedink.) En hy het gebid dat sy nie moet aflui nie; nie haar skok moet laat blyk nie; nie moet kráák nie – soos wat Keppie sou sê. En sy het nie. Sy het meteens in Surita Otto, die amper-sielkundige verander. Haar stem was klinies maar nie onsimpatiek nie; koel maar nie afsydig nie.
“Wanneer sien ek jou?” het sy net bedaard gevra.
Verligting het warm deur hom gegolf. “So gou moontlik,” het hy belowe. “Dan sal ons rustig gesels. En Surita, ek sal jou nie weer bel voor ons Potch toe gaan nie. Want sien, die telefoon . . . Hulle kom dit môre verwyder en . . .”
“Toe maar,” het sy gekeer. “Bel my wanneer jy kan.”
“Sodra ek en my ma by oupa Murray aanland,” het hy belowe.
“Pietman . . . ? Ek . . . ek is lief vir jou.”
“Dankie.”
Dis daardie woorde wat hom deur die laaste drie dae gedra het. Ten minste praat sy nog met hom; gee sy dalk werklik om vir hom. Dit was asof sy intuïtief geweet het om vir eers min uit te vra. Buitendien wil hy haar in die oë kyk as hy verder met haar praat. Want sy weet nog nie daarvan dat hy sy LL.B. op die PUK sal moet doen nie. Dat hy sal moet werk soek om sy studies te betaal, is ook ’n begrip in kodetaal wat hy eers vir haar sal moet ontsyfer. Dit gaan sy wraggies nie vanself verstaan nie. Dalk was sy maar net so gawerig omdat sy nie mooi weet wat dit alles behels nie . . .
Heelpad in oupa Murray se geel sewentiger-kombi, luister hulle drie na die Cranberries en die Beatles. Oupa was nog altyd verstommend inskiklik oor popmusiek. En vandag waardeer Pietman dit eers werklik. Sê nou hy moes nou, op hierdie eindelose plat stuk pad, na Wagner of Bach geluister het. Dan sou hy darem gesterf het van die blues. Maar net kort voordat hulle Potch se groen buitewyke binnery, vra oupa Murray drogies dat hy liefs ’n kassetjie van Cliff Richard moet insit. ’n Stadige enetjie, net om sy bloeddruk weer te stabiliseer. Pietman bars uit van die lag en maak so. Ten minste sal sy lewe saam met Oupa nie vervelig wees nie. Sy ouderdom ten spyt, is hy ’n sielsjonge mens. Iemand wat bitterheid agtergelaat en gegroei het in begrip. ’n Diep sug ontglip Pietman toe hulle onder Tomstraat se donkerdik eike deurry en oplaas by oupa Murray se plek indraai. Agter die groot grasperk met die twee donkergroen eikebome lê die huis versteek. Pietman staar ’n oomblik na die outydse rooi spitsdak, die wit pilare en poeierblou krismisrose al langs die stoepmuurtjie. Alles so bitterlik bekend. En tog voel dit skielik asof daar ’n amper obskure geheimsinnigheid daaraan kleef. So voel ’n mens, dink Pietman, as jy nie gereed is vir ’n plek nie. As jy lus is en hol weg na die eindpunt van die aarde. Hy weet sowaar nie wat hy gaan doen nie. As hy net dink aan die nuwe akademiese jaar op ’n vreemde kampus, sonder Surita, kry hy koue koors.
“Kom,” sê oupa Murray, “laat ons aflaai.”
Maar toe Pietman begin afdra, sien hy sy ma se gesig en dit voel asof hy net daar kan neerslaan. Sy is doodsbleek. Haar oë groot en haar mond ’n dun lyn. Dit moet vir haar verskriklik swaar wees. Terug waar sy begin het. En dit met niks. Hy druk haar vlugtig teen hom aan toe hulle die huis binnestap en vra: “Kry ’n man dan nie koffie nie?” Oupa Murray glimlag goedkeurend en knipoog vir Pietman toe hulle twee weer uitstap om nog tasse te gaan haal.
“Dis reg, jong. Ons moet alles nou so normaal moontlik hou. Hoe gouer ’n mens jou aanpas by moeilike omstandighede, hoe groter is jou kans om dit te verander.”
“Ja, Oupa,” sê hy en weet dat dit seker waar moet wees – maar toe hy die laaste sak met boeke en papiere en goeters sy kamer op die agterstoep indra, slaat die besef hom soos ’n seer hou op die krop van sy maag. Hier staan hy nou. In sy oupa se huis in die kamer waarin hy altyd bly as hy en sy ma kom kuier. Net: hy het nie kom kuier nie. Hy het gekom om te bly. Tensy dit skielik rande begin reën, of so iets.
Dis of die afgewitte mure van die kamer hom vasdruk. Hy gooi die venster wawyd oop en teug aan die drukkende lug. Dis Januarie in die Noordweste en dis ongenadiglik warm. ’n Stil, loom hitte wat jou laat voel jy moet daardeur waad. En toe weet Pietman: as hy nie nou weghol nie, sal hy dit nooit doen nie. Al is dit net vir ’n paar uur. Want terugkom, sal hy moet. Waar de hel moet hy in elk geval heen gaan?
Hy stoom die kamer uit, verby sy oupa en sy ma en het nie eens die moed om na hulle kant toe te kyk nie. Hulle roep hom vreemd genoeg ook nie terug nie. Oupa skree net luiters agterna: “Vat die fiets – dis vinniger!”
Hulle weet hoe hy voel, flits dit deur sy kop en vir ’n oomblik maak dit hom redeloos vies. Maar toe steek hy in sy spore