Helene de Kock Omnibus 4. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 4 - Helene de Kock страница 11
“Ek glo jou,” sug by geïrriteerd, “maar ek glo nie dat dit juis Keppie was wat jy gesien het nie!” En toe sy nog wil asem intrek, neem hy haar aan die hand en trek haar saam oor die nat straat. “Kom ons gaan kyk na daardie Romeinse ruïnes waarvan jy gisteraand gepraat het!”
Sy stap sonder ’n woord saam. Hulle loop al langs die ou Romeinse stadsmuur tot by die verbrokkelde ruïnes van ’n ou Romeinse teater. En Pietman betrap homself dat hy nou en dan skigtig omkyk. Wat makeer jou? betig hy homself. Keppie is iewers in songebakte Suid-Afrika saam met sy pa op ’n padroller, besig om gruis in gesmelte teer in te trap, of so iets . . .
“Vreemd dat daar so min van iets groots kan oorbly, nè,” sê Surita wrang toe hulle by die paar verkrummelde sitplekke langs die nat pappery van die huidige voetbalveld staan. “Om te dink hier was eens plek vir vyftienduisend mense!”
“Hm,” mymer Pietman, “maar tante Juliette sê mos darem die dorpie se ou Romeinse geskiedenis word elke somer hier gerekonstrueer, nie waar nie?”
“O ja,” glimlag Surita, “daar neem glo oor die seshonderd dorpsinwoners deel daaraan. Dis trouens ook iets waaroor ek met jou wil praat.”
“Ja?” sê hy ingedagte en sy oë streep al met die kantlyn van die voetbalveld langs toe hulle omdraai om terug te stap. Maar daar is niemand nie en hy vra weer: “Ja . . . ?”
Sy lag opeens, druk sy hand in albei hare vas. “Ek is bly jy stem sommer klaar in. Want jy móét net ja sê, Pietman! Tante Juliette wil hê ons twee moet weer Juliemaand kom as die opvoering hier in die ‘Théatre Romain’ plaasvind. Sy neem ook altyd deel. Dié jaar is sy ’n ryk Romeinse edelvrou!”
Pietman skater dit terstond uit. Hy kan hom die wakker, voëltjiegesiggie van die ou dame kwalik onder ’n antieke hooftooisel met lang lokke voorstel. “Dit sal ek gráág wil aanskou! “ proes hy.
“Nou ja, dan kom ons!” lag sy ingenome. Op pad terug na tante Juliette se huis gaan sy opeens staan, vat albei sy hande en druk die koue vingers teen haar warm keel vas, kyk koket op in sy oë. “Is jy gelukkig, Pietman?” vra sy uit die bloute.
Gelukkig . . . ? wonder hy half vervaard. Seker tog, ja. Op hierdie oomblik en op hierdie vrieskoue plek, met sy hande knus in sy meisie se sagte greep, is hy wel gelukkig. Hy glimlag skewerig, knik net.
“Dan is ek bly,” sê sy en huppel-stap vinnig vooruit sodat hy moet draf om by te bly. Hulle kom uitasem tuis aan. Tante Yvonne is al aan die inpak, beduie dat hulle môre maar vroeg sal moet terug Parys toe, want dan is dit nog net ’n paar uur voordat hulle twee op Charles de Gaulle moet wees om die vliegtuig te haal. Maar gelukkig kom hulle sommer gou weer, straal tante Juliette. En dis toe dat Pietman besef dat die drie vroue mos lankal die plan gesmee het. Hy het self geen besluit geneem nie; hy is net ingelig. Maar tog, dink hy toe hy in sy dakkamertjie aan die pak is, waarom nie? Dit sal lekker wees om Juliemaand weer te kom. Hy kan selfs daaraan dink om sy ma te vra om saam te kom. Dis hoog tyd dat sy en Surita se mense mekaar beter leer ken. Dalk kom sy beter klaar met tante Yvonne en die vrolike tante Juliette as wat tot dusver die geval was met die stywe, beuselagtig korrekte Mariaan Otto.
Maar dwarsdeur die lang vlug huis toe maal die wete in hom: hy wat Pietman de Waal is, dans soos ’n willose toutjiespop op maat van ’n wysie wat vir hom voorgespeel word. Ag twak, keer hy sy gedagtes op ’n kol vas, moenie dat klein dingetjies jou so bodder nie. Die meisiekind is lief vir jou. Sy doen alles binne haar (fenomenale!) vermoëns om die lewe vir jou lekker te maak. Waardeer dit dan nou . . .
Asof hy die seël op dié gedagte wil sit, buig hy oor na haar toe en soen haar skrams op die wang. Van haar syige hare kleef aan sy lippe vas en hy vee die goudblonde drade met sy vingertoppe weg. “Dis lekker by jou,” sê hy toe sy vraend opkyk van die tydskrif wat sy lees. Sy glimlag en tik hom speels oor sy knieë, tuur meteens verby hom deur die ronde venstertjie na wolkmassas ver onder hulle. Toe vra sy sag: “Wanneer sien ek jou weer, Pietman?”
Hy kyk na haar vol mond se roering en sê roekeloos: “Sommer baie gou! Ek gaan net ’n week of wat by my ma bly om haar hart tevrede te maak en dan sal ek op Goue Kring kom kuier. Reg so?”
“Hm . . .” antwoord sy luiweg, laat sak haar kop agtertoe teen die sitplekleuning. “Dan moet ons die reëlings vir gradedag bespreek. Ons kan dit tog nie sommerso laat verbygaan nie. My ma het lankal al gereken ons behoort ’n groot opskop te hou.”
“Waar nogal?” vra Pietman en sonder dat hy mooi weet waarom, stoot daar ’n suwwe moedeloosheid in hom op. Hier gaat dit al weer . . .
“Wel, wat daarvan as jou ma en my ma ’n bietjie saamgesels en op ’n plek besluit? Sê nou maar by Diep in die Berg, of so?”
“Goeie plan,” antwoord hy neutraal. En dink: Laat ek my hier uithou. Dis die vroumense se ding hierdie. Wat maak dit saak waar ons gaan paartie hou? Die hoofsaak is dat ek my graad gevang het. Die geweldige verligting toe hy huis toe gebel het om sy ma te hoor lag en huil oor die uitslae, laat hom nou nog hoendervleis kry. Hulle was ’n week of twee in Parys toe Tuks se eksamenuitslae gekom het en hy en Surita het albei staan en rondtrippel by die telefoon. Hulle het mekaar vasgegryp en rondgedans totdat selfs Jeanne met haar suur glimlaggie begin giggel het. En dit was een van die min kere dat hy en Surita alleen kans gekry het om weg te glip en dit te gaan vier. Hulle het hand in hand in die Champs Elysées gaan wandel, kort-kort op die bankies onder die nat bome gaan sit en sommer net gelag. Later het hulle ’n fortuin betaal vir twee biere en lustig ’n heildronk gedrink op sy B.Proc. en haar geslaagde B.A.-jaar. Maar iewers in sy gemoed was daar ’n skadu. Sy ma het niks gesê van Keppie nie. Nie dat dit nodig was nie, want hy het mos geweet sy ou pêl gaan dit nie maak nie. Maar hy het nogtans – teen alle hoop in – gehoop dat Keppie se naam darem ’n slag die koerant sou haal. Vreemd tog, hoe ’n diep en vaal verdriet soms saam met die omgee-vir-ander kom. En hy gee wragtig om vir Keppie, dink hy en maak sy oë met ’n suggie toe, hoor hoe Surita rondblaai in die tydskrif.
Toe hy wakker word, sak die vliegtuig om te land en Surita draai met ’n lang gaap na hom toe: “Onthou nou . . . om met jou ma te praat oor die gradedagviering!”
My gradedag, wil hy teëkap. Myne. Nie óns s’n nie. En ek wil dalk nie eers ’n paartie hê nie. Dis heeltemal genoeg om net bly te wees. Maar hy swyg. Stap twintig minute later saam met die ander passasiers af om sy ma en oupa Murray hartlik om die hals te val. Dis toe hy haar ’n tweede maal vasdruk dat hy eers opmerk dat Saul en Mariaan Otto ook nader staan met Surita knus tussen hulle. Saul hou sy groot hand na hom uit en sy vrou haar pienk gebloste wang. Pietman druk en pik soos wat van hom verlang word; knipoog vir Surita wat die prosedure met ’n goedkeurende glimlag beskou. Daar volg ’n skattige onderonsie waartydens die vroue vreeslik vriendelik nuus uitruil – maar toe vat oupa Murray Pietman se boarm stewig was en sê in sy moenie-sukkel-nie gromstem: “Dit was gaaf om u te ontmoet. Anita het my al vertel van Surita se gawe mense. Maar nou moet ons gaan.”
Wonderlik om ’n oupa te hê, dink Pietman en maak asof hy nie die ligte irritasie in Surita se groot kykers gewaar nie. Wat sal sy nou ook weet van die geborgenheid wat ’n oupa kan gee. Sy blote teenwoordigheid maak alles sommer makliker. Die Otto’s se opgeblasenheid lyk opeens heel belaglik en selfs die sensuele erns waarmee Surita na hom kyk, is eensklaps van minder belang. Dis nou van oupa Murray, dink Pietman – hy het ’n vermoë om ’n mens perspektief te gee op ’n situasie.
En toe almal oplaas gegroet en weer gedruk het, sê hy dit vir hom. Die ou man gee ’n grinterige laggie en stoot sy benerige vingers deur sy grys krulkuif. “Ek is bly, Pietman. As ek vir jou enigsins kan lig werp op dinge, is ek regtig baie bly!”
“Hoe