Kruispad. Deon Opperman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kruispad - Deon Opperman страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Kruispad - Deon Opperman

Скачать книгу

wysheid sal lei in die verkiesing wat kom en in die vreedsame oorgang tot ’n nuwe Suid-Afrika. Ons vra dit in u Naam … amen.”

      Die afrigter en seuns lig hulle kop. Vir ’n oomblik is daar stilte, niemand weet mooi wat om volgende te doen of te sê nie.

      Dan red FG die situasie. “Verkiesing of nie,” skree hy, “manne, ons het ’n wedstryd om te wen!”

      Die span juig soos een man en draf met mening na die slagveld.

      Soois van Rooyen glimlag toe een van die ander onderwysers – een van die vlagmanne gedurende die wedstryd – hom die storie vertel.

      Dis nou maar van Henk, dink Soois. Hy is ’n denker. Sien altyd die groter prentjie.

      Dié keer was dit Sophia wat haar ma gebel het. So tussen die rugby deur bel sy, want sy sukkel om lank te konsentreer op enigiets wat sy nie met die uithaal van haar kredietkaart die nekslag kan toedien nie. En nou was dit nie rugby wat vir haar die nuus was nie, maar die bom.

      Mart neem die oproep in die huis op hul landlyn – selfoonontvangs hier op die plaas is nie altyd na wense nie. Soois bly op die stoep agter, ’n kalmte oor hom wat, sal hy self erken, saam met die jare se sukses as boer gekom het. Hy hou nie van ’n vertonerigheid nie, en dit blyk ook uit die eenvoudige klere wat hy altyd dra, koöperasiekakie, en die karige meubels wat op die stoep steun vir moeë ledemate moet bied. Soois sit net en staar na die velde voor hom, na landerye wat hy met sy eie hande help vestig en in stand gehou het.

      Mart kom uitgestap, gaan sit langs haar man. Die jare saam met ’n staatmaker soos Soois het ook ’n rustigheid oor haar gebring. Hulle praat nie baie nie, maar wanneer hulle gesels, is dit oor dinge wat saak maak.

      “Dit was Sophia. Hulle’s almal by die seuns se wedstryd. Almal behalwe Andries. Hy’t by die huis gebly.”

      Soois knik sy kop stadig, staar na die landerye. Hy en Mart weet albei hoekom Andries liewer tuis bly. Naby sy skade.

      “Is dit hoekom sy gebel het?”

      “Nee.”

      Mart wei nie uit nie.

      “Wou sy iets hê?”

      “Nee. Sy’t gebel om te sê daar was ’n bom.”

      Vir die eerste keer kyk Soois na Mart.

      “Pretoria se middestad,” sê sy.

      Soois verteer die nuus ’n oomblik lank, wend hom dan weer na die weidse toneel voor hom voor hy praat: “Wie’t hom geplant?”

      “Hulle weet nog nie.” Die nuus het Mart meer omgekrap as wat haar gelaat verklap. “Soois …” begin sy uiteindelik.

      “Mmm?”

      “Dink jy dat ek en jy … in ons lewe … die beste van hierdie land gehad het?”

      “My vrou, as ek t’rugkyk oor die eeue heen, dan lyk dit vir my dat g’n land in die wêreld ’n beste tyd of ’n slegste tyd het nie. Hy’t net sy tyd, met die beste en die slegste saam gebrei soos meel en water in ’n brood.”

      Mart versink weer minute lank in stilte. “Dit spyt my dat Andries nie vir Henk gaan ondersteun het nie,” sê sy uiteindelik. “Frik is daar vir FG.”

      “Andries is bang.”

      “Ons is almal bang.”

      “Ja, maar die Afrikaners wat nou in die staatsdiens werk, is die bangste. Dis die eerste werk wat ’n nuwe regering vir sy ondersteuners gee. Dis wat ons ná die verkiesing in ’48 gedoen het.” Hy raak weer in sy gedagtes weg, ou herinneringe wat hulle aanmeld. “Hoe laat moet ons daar wees?”

      “Sy’t gesê so teen sesuur. Frik moet ná die wedstryd nog ’n draai by sy kantoor maak. Hy en Albert het glo heeloggend vergader. Sy weet nie waaroor nie.”

      “Het sy al ooit?”

      “My man, Sophia is Sophia en Mariana is Mariana, en ons laat dit daar.” Mart glo in onvoorwaardelike liefde. “Ek het klaar ons goedjies ingepak vir die aand. Ek gaan vir ons ’n toebroodjie maak vir die pad, dan kan ons ry.”

      Sy stap die huis binne.

      Soois bly agter. Hy dink aan sy dogters en hoe een appelboom sulke uiteenlopende vrugte kan dra.

      ’n Ander verkiesing doem in Sophia se gedagtes op, of sy dit nou wil of nie. Die rugby is agter die rug, en so ook ’n heerlike lang lê in ’n warm bad met genoeg badsout en dinge om ’n mens jou hele lewe lank welgeluksalig te hou, en nou trek sy en Frik aan vir vanaand se ete. Haar grimering is afgehandel en sy neem Frik onder hande. Dit hinder haar al die hele dag dat hy hom so laat voorsê deur Albert. Hemel, die man is net sy ouditeur!

      “Jy is ’n entrepreneur en Albert is nie. So eenvoudig soos dit. Waar Albert ’n probleem sien, sien jy ’n geleentheid. Dit was nog altyd so. Ek weet nie hoekom jy nóú toelaat dat Albert se probleem jou pla nie. Jy sê mos altyd, hoe groter die probleem, hoe groter die geleentheid.”

      Met soveel stelligheid gesê, hoe kan Frik nog twyfel? Hy kom aangestap uit sy verklee-hoekie, knoop sy hemp so in die stap vas. “Ja, maar dis die eerste keer in jare dat hy my projeksies so sterk bevraagteken, en ek vertrou sy oordeel meer as dié van enige iemand anders in my maatskappy.”

      Sophia staan op. Sy is gereed vir die gaste. “En ek vertrou jou. Jy’t in die verlede uitgewerk wat om te doen, en jy sal dit in die toekoms ook doen.” Sy gee hom ’n soen en wil uitstap, maar Frik keer haar.

      “Sophia, jy besef dat ná hierdie verkiesing als gaan verander.”

      “Dis wat hulle vier jaar gelede gesê het toe Mandela vrygelaat is, en hier is ons almal nog steeds. Die politici gaan hulle werk verloor, maar jy kan nie, want jy is die baas van jou eie besigheid, een wat hierdie land altyd gaan nodig hê.”

      Sy laat hom agter om na te dink oor haar insig. Frik wonder of sy verder gedink het as net die politici wat hul werk sal verloor.

      In die kombuis begin Netta met Sophia gesels, tussen die seker maak dat alles gereed en gedoen is deur. Die een oomblik is hulle nog by die lamsboud wat nie moet droogkook nie, die volgende by die verkiesing.

      “Mies,” begin Netta vol respek, “ek wil net seker maak. Die dag van die verkiesing. Ek dink daar gaan baie lang queues wees … ek sal moet af wees die hele dag.”

      “Ek het so verwag, ja. Die hele land gaan tot stilstand kom. Jy’s seker opgewonde, nè?”

      “Nie vir my nie. Vir my kinders.”

      “Hoe kan jy dit sê? Ná al hierdie jare het julle uiteindelik one man, one vote gekry.”

      “Al die mense daar by die township, hulle dink hulle gaan ’n groot huis kry en ’n kar, maar ek weet voor ek stem, is ek ’n domestic worker en ná ek gestem het, is ek nog steeds ’n domestic worker. Die nuwe Suid-Afrika gaan nie vir mense soos ek wees nie, dis vir ons kinders.”

      “Dis waar, Netta, maar ten minste sal jy ’n domestic worker wees met ’n stem. En met daardie stem kom verantwoordelikheid en baie rekeninge –

Скачать книгу