Kruispad. Deon Opperman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kruispad - Deon Opperman страница 7
“Ek gaan ophou rugby speel.”
Mariana draai bekommerd na Andries.
“Mensdom, Henk,” sê oupa Soois, “maar dis ’n ernstige besluit.”
“Ag, Oupa, hy maak net ’n grap,” sê FG.
“Nee, ek dink hy’s doodernstig,” sê Frik. Hy draai na Andries. “Hoe lyk ’it, swaer? Dit wil voorkom dat jy en Henk ’n paar geheimpies het waarvan die res van ons nie weet nie.”
Andries se oë is op sy seun. “Dis die eerste wat ek daarvan hoor.”
“Ek dink jy skuld ons ’n verduideliking, Henk,” sê Mariana.
Alle oë is weer op Henk.
“Dit was nie ’n maklike besluit nie,” begin hy verduidelik, “maar ná die bom vandag het ek vir die eerste keer besef dat almal in hierdie land besig is met iets baie belangriker as rugby. Vandag voor die wedstryd, Oupa, het meneer Roux gesê dis nie ’n wedstryd nie, dis ’n oorlog … en later,” hy kyk so teen die tafel af, “toe ek by die huis kom … het dit my getref dat al is daar nie ’n oorlog met gewere en kanonne nie, gaan dit wel soos ’n oorlog wees.” Hy kyk na sy pa. “En die enigste wapen wat ek gaan hê, is wat ek met my kop kan doen. Nie met ’n bal nie.”
Mariana se vingers gaan stadig en stilletjies oor haar mond. Sy sukkel om die trane terug te hou.
“Daarom,” sluit Henk af, “het ek besluit om vir die res van die jaar te fokus op my studies.”
Niemand praat nie. Niemand wil praat nie. Die bomontploffing weerklink weer in hul gedagtes – ’n groter dreuning as dié van die skare vanmiddag ná FG en Henk se drieë.
FG praat eerste. “Pa … ek en Henk het klaar geëet, mag ons verskoon word?”
“Ja.”
Nadat FG en Henk opgestaan en uitgestap het, bly ’n ongemaklike stilte ’n hele ruk hang, met niemand wat weet presies wat ’n mens nóú veronderstel is om te doen nie.
Izel gee uiteindelik moed op. “Ma, mag ek ook verskoon word, asseblief?”
“Nee.” Mariana is ferm, maar gee geen rede nie.
Izel staar dikbek na haar bord, totdat Sophia die silwerklokkie lui wat langs haar op die tafel staan. Ná ’n paar oomblikke kom Netta ingestap, gereed om die borde af te dek en die nagereg te bring. Terwyl sy besig is, besluit Mart om tog te sê wat op haar hart is. “Dit spyt my dat die kinders nie kon hê wat ons gehad het nie.”
Soois is die enigste een wat haar durf antwoord. “En dis presies wat ons ouers oor óns gesê het,” sê hy.
FG stap agter Henk sy slaapkamer binne. Hy weet hy moet nou keer. As Henk voortgaan met sy besluit, gaan daar baie groot bollie by die skool wees. FG val agteroor op sy bed. Hy konfronteer Henk dadelik: “Wat’s jou probleem, swaer?”
“Dieselle as joune.” Henk het met een boud op FG se lessenaar gaan sit.
“Se gat, man! Jy kan nie net eendag wakker word en besluit jy gaan die team drop nie.”
FG, bekend vir sy eie impulsiwiteit, praat so heftig dat Henk geneig is om te glo dat sy neef ernstig glo wat hy sê. “Daar’s baie ouens wat jeuk om my plek te vat,” sê hy.
“Dis nie die punt nie. Jy’t self gesê dis soos ’n oorlog. ’n Soldaat kan nie net besluit om sy geweer neer te gooi en weg te loop nie.”
“Rugby is nie ’n oorlog nie, FG. Dis net ’n game. En volgende jaar is daardie game verby, en dís wanneer die oorlog begin.”
“Dis volgende jaar se worries.”
Henk wéét hy en sy neef sal nooit dieselfde opvatting oor die toekoms hê nie. Dit lê nie net in hul geaardhede nie. Dit lê ook in die verskil tussen Frik en Andries. “Vir jou miskien,” sê hy. “Jy kan bekostig om later te worrie; ek kan nie.”
“Moenie nou daardie arme-Henk-met-sy-arme-pa vir my gee nie. Kom wees ’n bietjie my pa se seun en sien of dit alles so lekker is as wat dit vir jou lyk.”
“Gaan jy volgende jaar varsity toe?”
“Dis nie waaroor ons praat nie.”
“Wie gaan jou klasgeld betaal?”
FG swyg. Die antwoord is vanselfsprekend.
“Ek vra: Wie gaan jou klasgeld betaal?”
FG kom regop en gaan sit op die rand van die bed, kyk Henk uitdagend aan. “Wat, gaan jy nou saam met jou pa in ’n garage sit omring deur blikkieskos?”
“Nee. Ek gaan in my kamer sit omring deur boeke.”
“Wat’s die verskil?”
“Wat jy uit die boeke kry hou langer.”
FG weet nie hoe om hierdie tameletjie te kou nie. “So, niks wat ek sê gaan jou mind verander nie?” FG is nou kalmer. Hy begin die span se lot aanvaar.
“Nee.”
“Kan ons nog steeds elke nou en dan uitgaan vir ’n jôl?”
“Hei, ek het gesê ek gaan harder swot … ek het nie gesê ek gaan ophou leef nie.”
Hulle skud hand, ’n mengsel van bladskud en ’n vingerspeletjie wat hulle Dan Aykroyd die vorige jaar in Coneheads sien doen het.
“Cool. Wel, daar’s een goeie ding wat nou gaan gebeur … Noudat jy nie meer in die span is nie … is al die glory myne.” FG buk af in sy kas, kom met twee blikkies bier te voorskyn.
Henk kraai van verbasing en afwagting. Sy hande maak ’n gebaar wat vra: Hoe toor FG sulke dinge uit?
FG gee vir Henk een. “By my pa gesteel,” sê hy laggend terwyl Henk die kamerdeur toemaak, ’n groot, vrolike glimlag op sy gesig.
Sophia en Frik onthaal hul gaste volgens ’n patroon wat sy in ’n ou Britse tydskrif afgekyk het, vroeg in hul huwelik al. Dit werk soos klokslag om die tonge los te kry van mans wat nie graag aan tafel praat nie, en dan gee dit ook die volmaakte oorgang tot die afsluiting en die “verdaging”, soos Frik dit altyd spottenderwys genoem het en in hul jonger dae die voorspel was tot groot bedbetuiging tussen hulle twee. Met die politiek wat alles so oorheers, is daar selde nog groot jovialiteit ter sprake einde se kant toe, maar Sophia hou by haar patroon.
Met die kinders uit die pad, dek Netta af en laat ’n fles brandewyn en drie bolglase agter vir die mans. Die vrouens keer terug na die sitkamer, maar die mans sit aan by die tafel vir ’n bietjie gesels. Frik spot altyd dat Netta die eetkamer in ’n oogwenk omskep in ’n cigar lounge. Sophia trek, soos sommige mans gou agtergekom het, net dáár die streep – geen sigare in haar huis nie, dankie.
Frik, Andries en Soois sit nou by die tafel aan, elkeen met ’n glas brandewyn in die hand. Andries het tydens die maaltyd twee glasies wyn geniet, maar hy kry nou eers rigting. “Die rede hoekom hulle dit nog nie gedoen het