Kruispad. Deon Opperman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kruispad - Deon Opperman страница 6
“Ek’s jammer, ek kan nie lank kuier nie. Ons gaan by my oom-hulle eet en ek moet nog stort.”
“Dis great, ek’s skaars hier en jy jaag my al weg.”
Hy het speels aan haar gevat. “Dis nie wat ek bedoel nie en jy weet dit.”
“Bewys dit.”
Wat hy toe ook gedoen het, al het ’n ander gedagte hom toe begin pla.
Toe hulle klaar gesoen het, het sy eerste gepraat: “Veels geluk met jou drie. Dit was baie mooier as FG s’n.”
“Dankie, maar soos meneer Roux altyd sê: Geen man druk ’n drie alleen nie, die span druk saam.”
Dit is half ’n verpligting om dit te sê, hy wil nie windgat klink nie, maar eintlik glo hy dit ook.
“Dis nie wat FG sou sê nie.”
“Dan’s dit waar ek en my neef verskil.”
Die gedagte het teruggekeer om hom te pla.
“Wat dink jy?” het sy gevra. Hulle is skoliere, nuwelinge op die terrein van minnaarstaal.
“Ag, sommer niks.”
“Mens dink nie so hard aan niks nie.”
“Ek dink oor swane.” Hy was eerlik met haar.
Wilmien frons. “Soos in voëls op die water?”
“As jy nou rêrig die verskil tussen my en FG wil weet – sy Pa kan bekostig om vir hom te betaal om volgende jaar varsity toe te gaan en myne nie.”
“Oukei …? Swane … varsity …?”
“As ek ’n goeie kwalifikasie wil hê, sal ek ’n beurs moet kry. En om ’n beurs te kry, gaan ek ’n klomp onderskeidings moet kry. En om dit te doen, gaan ek harder moet swot as ooit tevore. En dit beteken dat ons mekaar nie meer sal kan sien nie.”
Wilmien se mond hang geskok oop.
“Het jou!” het hy skielik gekraai. “Ek maak net ’n grappie, man.”
Sy het hom teen die skouer geklap.
“Maar wat dit wel beteken, is dat ek vir die res van die jaar die rugby sal moet los.”
Sy het verstaan. Maar sy het geweet wat die gevolge sou wees. “Meneer Roux gaan nie daarvan hou nie.”
“Meneer Roux was nie in matriek toe hulle die swart swane ontdek het nie.”
Sophia se hand is nog omhoog, die heildronk weerklink nog in almal se ore. “Meneer Roux was seker in sy noppies,” sê sy.
“Hy was,” antwoord FG. “In die kleedkamer ná die game het hy gesê ons gaan nou dubbel so hard oefen sodat ons hierdie seisoen onoorwonne kan wees.”
“En waar dink meneer Roux gaan julle die tyd kry om dit te doen en nog al julle ander werk ook?” Mariana kan dit nie help nie. Sy het ’n bekommerde geaardheid – ’n natuurlike gevolg vir ’n vrou wat balans moet vind tussen gesonde verstand en haar man se vrese. En Henk se toekomspad vul haar met angs.
“My kind,” sê Soois op sy bedeesde manier, “vir ’n skool soos daardie is daar rugby, en dan’s daar die res.”
Ja, daar is die slimmes, en die slimmes wat deur hul base gevang word, dink Sophia. Sy kan dit nie help nie. Sy het só gehoop die aand gaan sonder voorvalle afloop, maar daar het sy en Frik ’n helse rusie nog voor die gaste aankom. Eintlik FG se skuld, wat vol stories was toe hy laat opdaag, en Frik – wel, Frik is nie vandag se kind nie en ken self al die truuks in die boek. Dit het Frik net ’n paar vrae gekos om agter te kom dat Sophia agter sy rug vir FG geld gegee het vir die middag.
Sy het met ’n wit leuentjie probeer ontglip. “Hy’t my nie kom vra nie, ek het ná die wedstryd vir hom ’n paar rand in die hand gestop – prysgeld vir die drie wat hy gedruk het.”
“Dis ’n rugbyspeler se werk om drieë te druk,” het Frik geantwoord. “Mens kry nie pryse omdat jy jou werk gedoen het nie.”
Nadat Frik weggestap het, het Sophia eers vir FG gaan paai en toe vir Frik gaan soek. Sy kon die saak nie net só laat verbygaan nie.
“Ek weet wat jy gaan sê,” het hy gesê toe sy aangestap kom.
“As jy weet wat ek gaan sê, hoekom doen jy dit aan die kind?”
“Want jy bederf hom. Hy gaan moet leer wat dit vat om ’n rand te verdien.”
“Jy’s te streng met hom, Frik. Dis nie regverdig om te sê dat ek hom bederf het nie; ons het hom saam bederf.”
“Dis waar. Maar hy is nie meer ’n kind nie. Volgende jaar stap hy die wye wêreld in, en dit gaan nie ’n maklike wêreld wees nie.”
“Wel, jy gaan dit nie vir hom in die toekoms makliker maak deur dit nou moeiliker te maak nie.”
“Hy kan gerus ’n kers by Henk loop opsteek; die mannetjie verdien sy eie sakgeld, vaar goed op skool en het ook vandag ’n drie gedruk.”
“Ek gaan nie toelaat dat jy my seun met my suster se seun vergelyk nie!”
Sy en Frik het mekaar stil aangekyk, haar opmerking soos ’n roof wat albei nie wil afkrap nie, wetend dat die wond nooit sal genees nie.
Die voordeurklokkie het in die voorportaal gelui. Sophia het by die venster uitgekyk na die voorhek. “Ma en Pa is hier.” Sy het begin uitstap, maar vasgesteek en na Frik teruggedraai. “Dis nie sy skuld dat hy in ’n huis met geld gebore is nie. Moet ons nou maak asof ons arm is?”
“Jy vergeet dat ek nie ryk gebore is nie.”
“Daar is niks edels aan armoede nie,” het sy geantwoord, die sagte beligting van die vertrek wat die harde lyne om haar mond maskeer.
Izel bewonder haar tante Sophia se ringe en die netjiese manier waarop haar naels gedoen is. Sy kan nie ophou vat en streel aan haar tante se hand nie. Sophia geniet die aandag. Die rugbypraatjies staan Izel niks aan nie. Haar oupa se woorde oor rugby op skool laat haar kriewel. “Ja, en almal word verplig om die rugby te gaan kyk, maar niemand word verplig om die netbal te kom kyk nie,” mor sy.
Sophia steek haar ander hand ook na Izel uit om haar te troos.
“My meidjie, in my dag was dit ook so,” sê haar ouma. “Mens sou dink dat dit teen hierdie tyd sou verander het.”
“Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde,” antwoord Sophia haar ma, wynglas steeds omhoog.
“Wel, ek hoop dat meneer Roux verstaan dat julle ook ander verpligtinge het,” sê Mariana.
Frik sien die saak soos net Frik dit kan sien: “Meneer Roux word betaal om dit juis nie te verstaan nie.”
Henk kies hierdie oomblik. “Ek het besluit ek gaan ophou,” sê hy.
Henk