Vermis op Allesverloren. Anchien Troskie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vermis op Allesverloren - Anchien Troskie страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Vermis op Allesverloren - Anchien Troskie

Скачать книгу

dit was nie julle skuld nie!”

      “Los dit.”

      Wanneer Johannes sê los dit, dan los jy dit.

      Ek kyk weer na die tafel teen die muur en die kinders wat daar rondstaan. “Wat gaan daar aan?”

      “Brood en koffie,” sê Johannes. “Wil jy hê? Ek sal gaan haal.”

      “Toemaar, ek sal gaan.”

      Ek staan op en stap na die tafel. Daar is toebroodjies met botter en konfyt in groot silwer bakke. Die brood is dun gesny. Langsaan staan twee groot silwer kanne met ’n kraantjie vooraan. Daaruit laat ’n tannie die koffie in blikbekers loop. Suiker en melk waarop die room dik lê, staan langsaan.

      Ek sukkel om die drie bekers en drie toebroodjies te dra, stort van die koffie oor my hand.

      “Hoekom het jy so baie brood en koffie, hè?”

      Ek gaan staan, draai effens dat ek die gesig agter die stem kan sien. Ben.

      “Is omdat hulle nie kos het nie. My ma sê so.” Frans staan langs Ben, ’n bruin kardoessak in sy hand.

      “Los haar, Frans.”

      Dis Gertjie. Hy vat twee van die bekers by my en loop saam met my na my broers toe.

      “Visser-Pisser, Visser-Pisser, Visser-Pisser …” lag Frans en Ben terwyl ek sukkel om die trane te keer. Gertjie draai dreigend om en die twee spring so vinnig weg dat daar stof in die lug hang.

      Terug in die klas sê juffrou Mulder dat ons langs ons banke moet bly staan en ons ore moet spits. “Wanneer die klok trieng-trieng-trieng lui in plaas van triiiiiiieeeeeng, is dit die teken dat daar ’n bom op pad is.”

      Langs my begin Susanna kliphard huil. Sy pie haarself nat.

      “Nee, o magtig!” brul juffrou Mulder. “Kry die mop en maak skoon! En dan gaan maak jy jouself skoon!”

      Eers toe Susanna terug is, sê juffrou Mulder: “Dis net ’n oefening, nie ’n rêrige bom nie. Sodat julle kan weet wat om te doen as dit die dag rêrig is. Ons is in die groot oorlog en ons moet paraat wees! Wanneer julle die klok hoor, duik dadelik onder julle banke in en sit julle arms oor julle koppe.”

      Die klok lui en ons duik. Daar is ’n nat kol voor my oë en ’n slegte reuk in my neus.

      “Nou toe, dit was goed, kom maar uit. Volgende keer wil ek dit baie vinniger hê.”

      Ek steek my hand op. “Dit gaan boggerôl help, juffrou. Pa sê as ’n bom hierdie ingat dorpie tref, bly daar net ’n stofkol oor.”

      Agter my gaan die klas aan die lag. Selfs Susanna giggel agter haar hand.

      “Stilte! Onmiddellik!” Juffrou Mulder pluk my aan my kraag tot voor haar tafel. “Ek sal nie sulke taal in my klaskamer duld nie! Onder geen omstandighede nie! Hou uit jou hande!”

      Die liniaal brand drie keer op elke hand. Ek huil, blaas op my hande, spring op en af, maar niks help teen die brandpyn nie.

      Ná skool loop ek sleepvoet saam met Johannes en Stefaans huis toe. Ek sukkel om my kop te lig.

      Totdat Johannes vererg stop. “Vat haar koffer,” sê hy vir Stefaans.

      Hy kom hurk voor my. “Klim op my rug, Erta-Kepêrta, dan pêpa ek jou. Anders kom ons donkernag by die huis.”

      “En jy sê nie vir Ma van die skool nie. Anders neuk sy ons weer.” Stefaans vat my koffer en stap aan, onder ons uit.

      Het dit alles in een dag gebeur? Dalk eerder oor weke, selfs maande.

      Nie dat dit die verloop van tyd is wat saak maak nie. Dis die wete dat daar mense soos juffrou Mulder, Frans en Ben en die ander naamloses is. Mense wat jou bestaan kan reduseer tot niks.

      As ek in reïnkarnasie geglo het, sou ek wou terugkom as ’n persoon met mag in ’n dorp soos Allesverloren. Sodat ek die bose kringloop van baas en klaas kan verbreek.

      BARRIE

      Vrydagoggend

      Aftrede is nie vir sissies nie, het Barrie op die harde manier geleer. En terwyl hy gras gesny en in die tuin gevroetel het, terwyl hy lekkende krane en pype herstel het, terwyl hy tienuur soggens tee in die kombuis en vieruur smiddae koffie op die stoep saam met sy vrou gedrink het, was sy kleintydse droom van privaat speurder wees al waaraan hy kon dink. Soos sy held Sherlock Holmes, en later die onortodokse Columbo.

      Columbo was nie ’n privaat speurder nie, onthou hy nou. Maar hy kon homself nog altyd met Columbo vereenselwig: die effens beteuterde uitdrukking wat ’n skerp brein en goeie instink kamoefleer. Hy het in sy kinderjare daarop aangedring om ’n reënjas te dra. Hy kry lag vir homself. ’n Reënjas! Selfs in die erge humiditeit van die Natalse dorpie waar hy grootgeword het, het hy sy reënjas gedra.

      Wat keer hom? het hy met die beker koffie in sy hand op die agterstoep gesit en dink. Terwyl sy vrou hard probeer het om hulle toekoms te beplan. Hulle moes reis. Hulle moes by ’n boekklub aansluit. Hulle moes voëlkykers word. Hy het in die verte getuur en nou en dan ’n geluid gemaak wat as instemming moes dien.

      In elk geval, het hy by homself geredeneer, is hy nie die een wat al vir agt-en-twintig jaar na sy gesin omsien nie? Wie sorg vir die dak oor hulle koppe? Hy. Wie het hoe lank afbetaal aan universiteitslenings vir die kinders? Hy. Wie sorg vir kos op die tafel en klere aan die lywe? Hy. Is dit selfsugtig as hy hierdie één keer aan homself dink?

      Hy het sy planne daar op die stoep agtermekaar gekry, dit oorweeg en heroorweeg. Met sy pakket het hy die verband op die huis afbetaal. Die rekeninge vereffen met sy pensioenuitbetaling. Die spaarrekening met geld vir hulle oudag het hy onaangeraak laat lê.

      Die huis het drie slaapkamers en die kinders kom kuier net oor Kerstyd, het hy verder beplan. Hy kan een van die slaapkamers as kantoor inrig. Sy vrou kan sekretaresse speel, sy het lank genoeg kinders grootgemaak en die huishouding behartig. Dis net hulle twee en die hond. Hoeveel werk kan daar nou in ’n huis wees met net twee mense en ’n stokou hond?

      Maar toe hy haar geesdriftig van sy planne vertel, het sy, sy sterk vrou, aan die bewe gegaan soos ’n windhond wat natgereën het. Sy eens sterk vrou, het hy besef, het deur sý toedoen in ’n bewende bondel senuwees verander.

      Hulle is jonk getroud. Sy het pas haar graad as bibliotekaresse voltooi en het voltyds gewerk. Met die eerste swangerskap het hulle saam besluit dat sy by die huis sou bly, die kinders grootmaak en die huishouding behartig. Met die klein salaris wat hy verdien het, sou hulle moes uitkom. Die kinders se opvoeding was die belangrikste.

      Met die kinders eindelik op laerskool, het sy ’n oggendpos aanvaar in die hoop dat hulle finansies sou verbeter. Wensdenkery, met drie kinders kort opmekaar en skoolgeld en skoolklere en skryfbehoeftes en sport. Maar sy was gelukkig. Die kinders ook. Toe die jongste hoërskool toe is, het haar oggendpos ’n voltydse werk geword. Sy vrou het gereeld gelag.

      Twee jaar nadat die jongste matriek geskryf het, het hy gaan sit en somme maak. Besef hulle sal beter af wees as sy nie werk nie. ’n Vaste betrekking, en spesifiek een met haar soort salaris, het die volgende geverg: ’n huishulp, petrol, motoronderhoud,

Скачать книгу