Vermis op Allesverloren. Anchien Troskie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vermis op Allesverloren - Anchien Troskie страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Vermis op Allesverloren - Anchien Troskie

Скачать книгу

wys.

      Sy was nie gelukkig toe hy dit onder haar aandag bring nie. Maar sy kon nie met die syfers stry nie. Dus het sy weer huisvrou geword. En hom in stilte daarvoor verkwalik.

      Hy skiet die stompie by die venster uit, maak die ruit toe en trommel aan ’n woordelose deuntjie op die stuurwiel, bewus van die stilte in die motor. Die enigste geluide is sy asemhaling en die sagte gesuis van bande op die teer. En die monotone stem van Kaartkop, die GPS. Ná 500 meter. Draai. Links. Hy het die aankoop daarvan binne die eerste dag berou, bloot omdat die stem hom so grensloos irriteer. Maar die alternatief was dat hy óf met ’n padkaart óf met handgeskrewe notas sy bestemming vind. Hy het die ding al op Engels gestel, maar het onmiddellik onpatrioties gevoel. Nou verduur hy die stem, het selfs geleer om dankbaar te wees daarvoor.

      Hy volg Kaartkop se aanwysings, draai links en begin die bergpas stadig uitkruip. Die pad is stil. Bo-op die berg hou hy by ’n uitkykpunt stil. Klim uit, strek sy lyf met ’n harde kreun en haal ’n toebroodjie uit die blik. Hy skink ’n koppie koffie en laat sy blik die kronkelpad tot onder by die dorpie volg. Hy het vergeet, wéér, om Kaartkop se aanbly-funksie te druk. Nog ’n irritasie, want nou moet hy die hele proses van adres intik herhaal.

      Gelukkig weet hy darem nou waar hy is, dink hy terwyl hy na die dorpie onder hom staar en tydsaam aan sy tamatie-en-kaasbroodjie kou, afgewissel met slukke koffie.

      As hulle finansies dit sou toelaat en sy vrou kon kies, weet Barrie, sou sy verkies het dat hy afgetree bly. Sodat hulle kon reis en lees en voëls kyk. Haar tweede keuse sou wees dat hy ’n posisie met ’n salaris en byvoordele aanvaar. Dis gemaklik. Dis veilig.

      Maar in daardie stadium het privaat speurder vir hom meer sin gemaak.

      “Jy kan altyd vir ’n sekuriteitsfirma gaan werk. Of iets geheel en al anders doen,” het sy hom probeer oortuig.

      “Vir ’n baas? Sodat ek vir hom moet ja en amen terwyl hy tien teen een minder weet as ek? Nee, ek dink nie so nie.”

      “Barrie, vir jare al leef ek in vrees dat daar iets met jou sal gebeur. Dat jy eendag iets sal sien wat jou gaan laat knak. Ek wil nie meer so lewe nie. Ek wil nie meer bang wees namens jou nie.”

      “Niks sal met my gebeur nie,” het hy haar verseker. “Ek is slimmer as dit.”

      Wys jou net, dink hy terwyl hy die laaste hap van die toebroodjie neem, hy is ook nie so slim soos wat hy soms wil glo nie. Want daar sit hy toe, in sy nuwe kantoor met die ligpienk mure (sy dogter se keuse toe dit nog haar kamer was) en die dungeloopte mat. Nadat ’n buitedeur (vir die kliënte) uitgebreek is en die ingeboude kaste verwyder is (sodat dit nie soos ’n slaapkamer moet lyk nie), was daar nie genoeg geld oor vir verf of ’n nuwe mat nie. Breëbors agter ’n splinternuwe lessenaar met ’n splinternuwe rekenaar voor hom. En hy weet nie eens waar om die ding aan te skakel nie. Die telefoon het in stilte toegekyk hoe hy binne ’n paar weke al krommer geraak het. Pateties afgeblaas soos ’n ballon ná ’n partytjie.

      Hy drink die laaste van sy koffie, skud die beker uit en pak alles terug in die bak. Stap ’n entjie weg van die motor, draai sy rug op die stil pad en urineer in die stof. ’n Paar miere kom uitgelate aangestring na die nat kol.

      Hy stamp-stamp sy voete voordat hy in die motor klim en dit aanskakel. Sy hande klem styf om die stuurwiel. Hy sou wát wou gee om weer ’n kind in ’n verspotte reënjas te wees, eerder as die man wat hy nou is.

      ERTA

      Ek voel ’n weemoedigheid oor my sak. Want presies hier by die uitkykpunt waar die privaat speurder gestop het, het ek dertig jaar gelede ook my motor geparkeer.

      Dertig jaar gelede het Allesverloren só vanuit die hoogte gelyk: die lokasie met sy sinkhuise en rookwolk en twee spreiligte links. Dan die spoorlyn. Dan die stasiegebou ingedruk tussen twee huise, die stasiemeester se huis effens groter. Stofstraat. ’n Ry met vier identiese stasiehuise: klein, vierkantige boksies. Agter die huise was ’n groot stuk oop veld.

      Die agterjaarts van die eerste ry van vyf huise van die onderdorp grens aan dié veld. Ons huis was derde in die ry, aan die veld se kant. Die onder-onderdorpse deel. Dan weer ’n stofstraat. Identiese vyf huise aan die oorkant. Agter dié ry se agterjaarts die agterkant van die Koöperasie en die Handelshuis.

      Dan begin die bodorp, met die park reg in die middel. Toe was die wêreld groen. Gesond. Mooi. Allesverloren is skaap- en bokwêreld. Volstruise ook. Rykmanswêreld. En dan was daar ons: die arm Vissers.

      Die uitsig het nie veel verander nie, behalwe vir die kleur. Nou is dit skakerings van bruin. Die buitelyne dof, soos ’n kinderprent geteken deur onbekwame vingers. Die primêre kleure té helder: die rooi stof, die blou lug, die geel van die son. Die afwesigheid van groen té opvallend. Asof dié kleur opsetlik uit die boksie vetkryte verwyder is.

      Die groot uitsondering is Huis Gevonden, gebou in die jaar 2000 van onse Here. Dit staan soos ’n baken in die middel van die dorp op die plek van die destydse park. Dié was die privilegie van die uitverkorenes. Die plek waar die gemeente Sondae piekniek gehou het, waar gelag opgeklink het. Die plek waar die Vissers selde gekom het.

      Behalwe natuurlik snags, wanneer die gesalfdes ’n goeie nagrus geniet het. Dan het die Visser-broers en -suster in die park ’n bottel brandewyn (vroeër by hul pa geskaai) en ’n sigaret (ook geskaai) van hand tot hand aangegee. Dan het die Vissers gelag. Uit ons mae. Vir die dorp. Vir die absurditeit van alles. Gelag tot die trane loop.

      Nou is ’n smal strook gras met bankies al wat van die park oorgebly het.

      My broers … Ek kan nie hulle gesigte herroep nie. Asof vuil vingers hulle dof gevat het. Ek onthou wel dat hulle alomteenwoordig was, daar was nooit ’n privaat hoekie waar ek kon gaan sit en droom nie.

      Hulle was lank, soos Pa, maer en tog sterk. Kon ook nie anders nie. As jy ’n Visser was, moes jy sterk wees. Fisiek én geestelik. Ons het geweet van oorleef. Omdat ons nie ’n keuse gehad het nie. En tog, as dit nie vir Johannes en Stefaans was nie, sou ek nie daardie eerste jaar op skool gemaak het nie. Hulle was my redding: Johannes met sy sagte woorde en omgee, Stefaans met sy vuiste.

      Johannes was amper veertien en Stefaans net elf toe Pa hulle uit die skool gehaal en saam met hom laat werk het. Ma het gepleit dat Stefaans ook tot standerd vyf moet leer, maar hy’t gesê nottehel bly hy ’n dag langer op skool. Pa het gelag, hom só hard op die skouer geklap dat sy knieë geswik het. Daarmee was die saak afgehandel.

      Ek het erg na hulle verlang, skooltyd. Daar was niemand wat my kon help nie, niemand wat kon keer as ek met die gehate Visser-Pisser-bynaam gespot is nie. Ek het geleer om my kop te laat sak en pouses alleen onder die boom te gaan sit. Tot die dag toe Susanna langs my kom sit het. Sy het nooit gepraat nie, nie ’n woord nie. Maar sy was darem ’n asem. En ons het amper dieselfde gelyk. Haar swart skooljim was net gryser as myne. En sy het nuwe skoene gehad, terwyl ek Stefaans se oues gedra het wat net ’n bietjie te groot was. Kaalvoet was vir my beter.

      Maar Susanna was ook nie elke dag in die skool nie. Soms het sy dae lank weggebly, en wanneer sy terug was, was daar kringe onder haar oë. Wanneer sy afwesig was, het Gertjie by my kom sit. Wat natuurlik gemaak het dat ek soggens gehoop het Susanna is die dag afwesig.

      Gertjie Scheepers … so genoem omdat sy pa ook ’n Gert was. Die ironie was dat Gertjie sy pa op dertien al in lengte en breedte verbygegroei het. Gertjie wat verby die reuk van drank en armoede gekyk het en my raakgesien het.

      Hy sak langs my onder die boom neer, sy rug teen die stam. Hou ’n kosblik uit. “Kry

Скачать книгу