Saartjie Omnibus 3. Bettie Naudé

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé страница 2

Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé Saartjie Omnibus

Скачать книгу

maar nog nie stamper nie,” sug Saartjie verlig en hop weer verder. Sy spring nou nie so vinnig nie en maak seker dat sy nie eens naby ’n gleuf te lande kom nie.

      Sonder enige probleme – sy hoef gelukkig nie weer van voor af te begin nie – kom Saartjie by die einde van die betonplaveisel.

      Sy hou die brief – die belangrike brief – nog styf in haar hand vas.

      Net langs Saartjie-hulle in die Johannesburgse voorstad Lynnekom woon die Strydoms. Anna Strydom is Saartjie se ouderdom en hulle twee is al maats vandat hulle eers agterdogtig en toe vriendelik uit hul kinderwaentjies vir mekaar geloer het.

      Saartjie en Anna het saam grootgeword. Hulle was saam op laerskool hier in Lynnekom en is daarna saam na die beroemde Hoërskool Saamwerk in die stad. Hulle is albei in graad agt en sit, soos hul hele skoolloopbaan tot dusver toe nog, langs mekaar.

      Die twee meisies se ander maat is Lina Rens. Sy het in graad vyf by hul geledere aangesluit. Die drie – Saartjie, altyd die voorbok, Anna en Lina is alombekend as Lynnekom se Drie Muskiete.

      Saartjie besluit om eers gou by Anna in te loer voor sy die brief gaan pos. Sy wil hoor hoe vorder Anna met die veldtog wat hulle twee beplan het om soet en gehoorsaam te wees, en altyd meer as gewillig om te werk.

      Sy drafstap met die tuinpaadjie op na die Strydoms se huis toe.

      Toe sy ’n entjie van die stoeptrap af kom, gaan staan sy stil. Sy kyk ingedagte na die trap. Sy het dit nog net een keer reggekry om vinnig te hardloop, te spring en bo-op die stoep te lande te kom sonder dat sy aan ’n trap raak. Maar ongelukkig het haar maats haar dié een keer nie gesien nie en toe sy hulle daarvan vertel, wou hulle haar nie glo nie. Hulle wou hê sy moet hulle weer wys.

      Saartjie het geweier. Sy het koppig volgehou dat sy dit een keer gedoen het en dat sy nie kon sien hoekom dit nodig is om dit weer te doen nie. Sy het dit natuurlik nie gesê nie, maar sy was skrikkerig dat sy dit nie weer sou regkry nie. Dis hoekom sy nie weer wou probeer nie.

      Sy staan reg. Sy gaan nou weer probeer. As sy dit weer regkry, sal sy nie bang wees om vir die ander te wys hoe goed sy is nie.

      Sy hardloop – al vinniger en vinniger. Sy trap vas en spring. Sy trek deur die lug en kom hard te lande op die trap net onderkant die stoep.

      Saartjie sit moedeloos. Dis snaaks dat sy dit een keer reggekry het – en toe nooit weer nie.

      Sy vryf haar enkel en dan hoor sy die gelag.

      “Hie-hie-hie!” kom ’n piepstemmetjie.

      Vies kyk Saartjie na die een hoek van die stoep waar Anna se sesjarige sussie, Muggie, sit. Die kleintjie hou haar maag vas soos sy lag. Saartjie kyk haar suur aan. Sy weet die skepseltjie gaan nou vir almal sê sy kan nie van die grond af tot op die stoep spring nie.

      Muggie is nie baie gewild by die Drie Muskiete nie. Hulle moet haar en haar pop, Trienkie, oral saam met hulle karwei. As hulle weier, sit Muggie só ’n keel op dat hulle maar moet kopgee. Haar keel kan dit hou, maar hul oordromme definitief nie.

      “Sy het mos ’n blikkeel,” het Saartjie al meer as een keer gesê. En die Drie Muskiete glo dit vas.

      “Waarvoor lag jy?” vra Saartjie vies toe sy opstaan.

      “Vir jou, natuurlik,” en “hie-hie-hie!” gee Muggie weer ’n aansitlaggie. Sy kom nader met haar pop, Trienkie, in haar arms.

      Die kleintjie staan voor Saartjie en loer met skrefiesoë na haar.

      “Ek dag jy’t gesê jy kan van die grond af tot bo-op die stoep spring.”

      “Ek het so gesê, ja, en ek kan dit doen ook.”

      “Maar hoekom het jy dit dan nie nou gedoen nie?”

      “Ek wou nie,” sê Saartjie kil. “Ek wou dié slag net tot op die trap onder die stoep spring.”

      “Hie-hie-hie!” lag Muggie weer. “Dink jy ek’s simpel?”

      Saartjie kyk na die koddige figuurtjie voor haar. Dan sê sy kil: “Ja, ek dink so.”

      Muggie dink hieroor na. Dan sê sy met haar skril stemmetjie: “So, nè! Ek gaan vir my ma sê jy’t my bedinges …”

      “Wat?”

      “Bedinges …” Muggie se voorkop is op ’n plooi soos sy probeer om aan die regte woord te dink.

      Saartjie besluit om haar te help: “Jy bedoel ek het jou beledig.”

      “Ja.” Muggie se hele gesiggie straal. “Dis wat ek bedoel: jy’t my beledig.”

      “Nou wat daarvan?” vra Saartjie en sy stap weg.

      Toe sy by die voordeur instap, byt sy op haar onderlip om nie hardop te lag nie. Sy hoor duidelik hoe Muggie vir haar pop sê Saartjie het haar “bedinges”, haar beledig, en dat dit nie mooi is om ander mense te “bedinges” nie net omdat jy te sleg is om tot bo-op die stoep te spring.

      Saartjie hoor die kleintjie vir die soveelste keer agter haar giggel, maar steur haar nie daaraan nie. Sy gaan reguit na Anna se kamer toe. Sy weet haar maat sit en huiswerk doen.

      Anna was vandag in die moeilikheid by die skool. Sy moes ’n Engelse opstel vir juffrou Necker, Ou Nukke, inhandig en sy het dit nie gedoen nie. Die juffrou het gewaarsku dat as Anna dit nie môre ingee nie, sy haar vel van haar lyf gaan aftrek.

      Almal is maar skrikkerig vir die oujongnooi, Ou Nukke, en Anna doen vanmiddag haar Engelse huiswerk én haar opstel én die strafwerk wat die juffrou vir haar gegee het.

      Op die stoep koggel Muggie nog steeds en hoop die mense wat op die sypaadjie verbystap, kan haar hoor: “Hie-hie-hie! Saartjie kan nie spring nie. Hie-hie-hie! Saartjie kan nie spring nie …”

      Saartjie maak Anna se slaapkamerdeur oop en is glad nie verbaas om Lina ook daar te sien nie.

      “Haai, julle!” groet sy.

      Die twee meisies in die kamer sê albei tegelyk: “Haai jouself.” Dit is hoe Lynnekom se kinders mekaar altyd groet.

      Lina, ’n langbeenmeisie met twee vlegsels, sit-lê op die bed. Saartjie maak haar ook daarop tuis en trek ’n tydskrif nader. Anna doen huiswerk by ’n tafel. Sy is kort en effens geset. Haar ronde, goedige gesig glimlag altyd. “Ek’s amper klaar, julle ouens,” sê sy en skryf al hoe vinniger.

      Dis nie lank nie of Anna kondig verlig aan: “So ja! Klaar!” Sy rek haar uit. “Môre sal Ou Nukke nie my vel van my lyf kan aftrek nie.” Sy stoot haar opstelboek eenkant toe en kom sit by haar twee vriendinne op die bed.

      Saartjie sien die belangrike brief wat sy nog steeds in haar hand het, is effens klammerig van die sweet. Ingedagte, sonder om eintlik daaraan te dink, gooi sy die brief op die tafel neer – op Anna se opstelboek.

      “Hoe lyk dit, Anna?” vra Saartjie. “Gaan ons twee die langnaweek saam met jou pa Durban toe?”

      “Ek hoop so!” Anna se gesig vrolik op. “Vandat ons met ons plan begin het, gedra

Скачать книгу