Gerugte van reën. André P. Brink
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Gerugte van reën - André P. Brink страница 15
Negentien jaar oud. Op dié leeftyd behoort hy soos ander van sy jare te wees: die ene emosie en oorywerigheid, oorhoops met die eerste eksperimente met sy eie seksualiteit, die brawade en vertroebeling van nog onverwerkte ligaamlikheid; en die roeringe van die onheimlike, die amper-wil-huil oor ’n maan agter takke, of die vorm van ’n meisie se oor; alles storm, alles drang. Maar hý nie. In sy oë was daar iets ouds, iets antieks. Moegheid? Ontgogeling? Sinisme? Op negentien? Dit alles, ja, maar méér. Asof heeltemal niks hom meer óf kon skok óf kon bly maak nie. Asof hy eintlik anderkant beland het. Anderkant alles wat ek self ken, anderkant die landskap waarvoor ek hom ’n kaart sou kon gee. Ook nie eintlik eers anderkant iets nie – doodgewoon anderkant. En dit was vermetel om te dink ek sou in ’n naweek saam plaas toe iets van die afstand tussen my duskant en sy anderkant afgelê kry. Nie net vermetel nie, absurd.
Ek wou nie stilhou oor die muggies nie; mens kon tussen die smeersel deur darem iets van die pad uitmaak en dit was nog lig buite, nog nie vyfuur nie. Ek hou nie van stilhou as ek ry nie; ook nie destyds toe die kinders klein was en op die onmoontlikste tye of plekke moes uitklim nie – nooit tevrede om net vyf minute, net ’n minuut te wag nie: dit moes nóú wees, op die daad, op die plek. Wanneer ek ry, wil ek aanhou: die blote momentum van die beweging is op sy eie manier sinvol. As jy ’n emmer water in die rondte swaai en skielik ophou, dan stroom dit alles oor jou uit. Net deur aan te hou, aan te hou, bly alles in ewewig. As jy eers toelaat dat jou ritme versteur raak, loop alles baie gou verkeerd en skielik is jy nie meer in beheer nie.
“Ons ry maar so,” het ek probeer spot. “Mens kan darem nog sien. Through a glass darkly.”
Links van my het Louis voor hom bly uitkyk en nie geroer nie. Miskien het hy my nie eens gehoor nie.
2
Eintlik het dit uit die staanspoor verkeerd geloop. Ons was ’n stuk of veertig kilometer anderkant Johannesburg toe dit tot my deurdring: dis mos die verkeerde pad. Ek wou oor Vereeniging en Parys gery het, die gemakliker en vinniger roete wat ek gewoonlik volg – ek hou nie daarvan om sonder meer ’n gewoonte te verbreek nie – maar nou was ek Potchefstroom toe op pad. Waarskynlik meganies, want dit is Westonaria se rigting, wat ek die afgelope week so telkens heen en weer gery het, die laaste keer met die gebreekte voorruit. Dit was nie eens die aanmaning oor wat gebeur het wat my geërger het nie (dit ook, natuurlik): dit was net die irriterende besef dat ek op ’n roete was waar ek sou verkies het om nie te gewees het nie. Soos later, met die stukkende ruitveër, was daar die gevoel: Ek is nie heeltemal in beheer van wat gebeur nie; iets het teen my sin vanself sy gang gegaan en sy koers gekies.
Op die duur sou dit nie veel verskil maak nie (al sou dit miskien die muggies uitgeskakel het!): ’n vyftien of twintig minute langer op die pad, wat nie veel is op ’n reis van tien of meer ure nie. Buitendien het ons vroeër weggekom as wat ek verwag het, omdat ons toe nié eers versuim het vir ete nie. In plaas daarvan het ek anderkant Johannesburg by Uncle Charlie’s stilgehou.
“Bestel jy vir ons,” het ek met ’n doelbewuste poging tot gulheid vir Louis gesê. “Net wat jy wil.”
“Ek weet mos nie waarvan Pa hou nie.”
My gemaakte geesdrif het verslaan. Maar ek het tog volgehou: “Enigiets waarvoor jy lus het.”
Hy het sy skouers opgehaal en deur sy afgedraaide ruit bestel: vir hom ’n hamburger en Coke, vir my ’n koppie tee en ’n geroosterde kaas-en-tamatie-toebroodjie. Het ek heimlik gehoop hy sou vir ons enerse bestellings plaas? En iets seunsuitheems soos ’n double-malt of ’n cream soda met roomys of ’n parfait? Dat ek gaar tamatie nie verdra nie, het hy waarskynlik glad nie besef nie; en om hom nie te affronteer of teleur te stel nie, het ek maar my toebroodjie heeltemal opgeëet. Ek weet nie of ek iets daarmee bereik het nie, maar ek wou tog alles in my vermoë doen om die atmosfeer tussen ons gemoedelik te hou.
Wat is die natuurlike verhouding tussen vader en seun: kameraadskap of antagonisme? Of ís daar geen “natuurlike” verhouding nie? Maak mens dalk juis ’n fout as jy jou verlaat op wat so ’n verhouding “behoort” te wees? Miskien begin julle, soos in enige ander verhouding, gewoon as vreemdelinge wat hulle pad na mekaar vind – of nie vind nie. Die omstandighede van ’n gesin skep die illusie dat daar iets meer op die spel is, iets wat uit die staanspoor vanself, “natuurlik”, teenwoordig is. Dan gebeur daar iets toevalligs – ’n ongeluk, ’n sterfte, ’n gelukskoot, ’n oorlog in Angola – en skielik besef julle: ons weet niks van mekaar nie. Onder ander omstandighede kon dit daarby bly en elk sy eie gang gaan. Maar nou voel jy die verpligting om “iets daaromtrent te doen”. Een van ons onvryhede, in Bernard se terminologie.
Tussen hóm en my was daar tog ’n keuse: ons kon besluit om vriende te word, of nie; om mekaar te leer ken, of nie. Of is ook dit ’n illusie? As ek oor die jare moes antwoord op die vraag: Wie is die mens wat jy die beste ken? dan sou ek sonder nadink geantwoord het: Bernard Franken. Tog moes ek die afgelope paar weke, gedurende die saak, voortdurend herontdek dat daardie man voor die hof iemand was van wie ek eintlik niks weet nie, ’n volslae vreemde. Daarvoor het ek hom eintlik kwalik geneem. Dit was asof hy verraad teenoor mý gepleeg het deur iemand anders te wees as die man wat ek geken het.
Waarom moet ek voortdurend só te staan kom voor ander se vreemdheid: Elise, Louis, Bea, Charlie, Bernard, noem maar op? Sonder hierdie nege dae in Londen sou ek dit in bedwang kon gehou het, soos altyd. Maar noudat ek begin het met die skrywery, is ek ook verplig om die moeite te doen om te vra: Waar lê die fout of die oorsaak of die wat-ook-al hiervan? Moeite, inderdaad. Op my leeftyd, of ná my soort skok, word mens bewus van die moeite wat met soveel dinge gepaard gaan en probeer jy om daarvan uit te skakel. Dit was natuurlik futiel om dit selfs te hoop.
Ná die sensasionele arrestasie teen die end van Februarie het die koerante aan die storie begin bou, oordeelkundig gevoed uit “ingeligte bronne”. En toe die saak die derde week van Mei in Pretoria open, was daar al ’n byklank van histerie in die gerugte.
Dit het die afgelope paar jaar nogal dikwels met sulke sake gebeur dat die eintlike hofverrigtinge ná die buitensporige verwagtinge vooraf iets van ’n antiklimaks word. In Bernard se geval was die klagstaat tog formidabel genoeg: ’n lys van dertien aanklagte kragtens die Wet op Terrorisme en die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme. Daar was sprake van ’n landswye organisasie met stedelike terrorisme, sabotasie en uiteindelik ook politieke sluipmoorde as oogmerke; die werf van rekrute vir dié doel en die opleiding van guerrillas in die buiteland; die verspreiding van opruiende pamflette, skakeling met verbode organisasies – die hele kermis. En daar was insinuasies omtrent medepligtiges wat nog later voor die hof sou verskyn (d.w.s. afgesien van dié wat drie jaar tevore al gevang en gevonnis was).
’n Lang reeks getuies het dag na dag hul voorspelbare rol gespeel: Veiligheidsmanne, insluitende ’n paar wat “geplant” was in die organisasie; rekrute en medepligtiges wat verkies het of gedwing is om vir die Staat te getuig; en ’n hele paar vorige veroordeeldes wat uit die tronk gehaal is, twee selfs van Robbeneiland. (Tussenin natuurlik ook die sensasie van selfmoord en pogings tot selfmoord in aanhouding.) Dit alles om bo alle twyfel te bewys dat Bernard Franken nie maar ’n ratjie in ’n groot masjien was nie, maar die beplanner en brein daarvan. Dít het minstens geklop met die soort mens wat ek geken het.
“Gaan jy nie vir die saak Pretoria toe nie?” het Elise vroegtydig al gevra.
“Waarom sou ek? Ek het soveel werk om in te haal.”
“Julle