Satyn Omnibus 4. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman страница 11

Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman

Скачать книгу

ek die … bevalling moet waarneem?”

      Franco bars uit van die lag. “Moenie soos ’n meerkat lyk wat ’n erdvarkgat soek om in weg te kruip nie. Temba sal dit nie toelaat nie, en ek ook nie.”

      Sy sug verlig. Sy het visioene gekry van hierdie grys kolos wat trompetter en dreigend bokant haar uittoring, terwyl sy met ’n stetoskoop probeer vasstel waar die geboortekanaal geleë is.

      “Ek sou dit gedoen het as ek moes.” Sy is trots daarop dat haar stem nie so flou klink soos sy voel nie.

      Franco is steeds geamuseerd. “Ek weet jy sou. Parmantige rooikoppe sien blykbaar vir enigiets kans.”

      Dis nie ’n kompliment nie, eerder asof sy domastrant is en meer ambisie as verstand het. Hoe het hy gesê? Daar’s nie op Balelapa plek vir passasiers nie.

      “Nie enigiets nie,” korrigeer sy koel. “Slegs waarvoor ek opgelei is. En dit sluit geboortes in.”

      “Die olifante is nie deel van jou posbeskrywing nie. Temba ken jou nie – sy sal ’n vreemdeling aanval wat dit naby haar of die kalf waag.” Hy maak die passasiersdeur van die Land Rover vir haar oop. “Klim af van jou perdjie en in die Land Rover in, dokter Aralie, laat ons ry!”

      Op pad huis toe gesels hy oor dit wat hom na aan die hart lê – olifante.

      Loxodonta africana is ’n unieke spesie, een waarsonder die wêreld baie armer sou gewees het. Hulle is van nature sensitief en intelligent, met ’n sin vir humor. As hulle jou aanvaar, is hulle vol terg – selfs speels. Hierdie trop is egter ontwrig en tree buite hul aard op. Ek het die groep van elf uit Angola gered, waar hulle die prooi van gewetenlose ivoorjagters was. Hulle is jonges, nadat die volwassenes in ’n bloedige slagting doodgeskiet is om die tande uit te slag.

      “Die jong olifantjies het dit alles aanskou en dis te begrype dat hulle hewig getraumatiseer was. In ’n teenreaksie het hulle soos jeugmisdadigers amok gemaak: motors aangeval, drade platgetrap, landerye voor die voet verwoes. Etosha se deskundiges het gesê hulle is onrehabiliteerbaar, en selfs die Kgalagadi-oorgrenspark en die Krugerwildtuin wou hulle nie hê nie. Hulle is as gevaarlik beskou en sou van kant gemaak moes word. Ek het ’n kans gewaag: ’n konvooi swaardienstrokke gehuur, hulle gaan haal en op Balelapa kom hervestig.”

      Aralie onthou die reddingspoging in een van die af­lewerings van die TV-reeks wat sy gesien het. Franco het die voorste trok bestuur en die filmspan het langs die pad onderhoude met hom gevoer. Hulle het die vrylating verfilm, en daar was melding van ’n opvolgreeks om die vordering van die Angola-wesies te monitor.

      Franco rem by ’n verlegging waar die teerpad stuk-stuk opgekap is. Hy kyk skuins na haar. “Verveel ek jou?”

      “Natuurlik nie,” keer sy verbaas. Vir haar is die uitbuiting van enige dier laakbaar, veral as dit gaan om geld ten koste van die dier se lewe. Wat Franco gedoen het, is prysenswaardig. Die hele konsep van Balelapa as ’n plek vir bewaring en rehabilitasie is ’n projek wat bewondering afdwing.

      Terug op die gelyk pad sit hy weer voet in die hoek, sy skouers breed hier langs haar en sy hande ontspanne op die stuurwiel. Sterk, bruingebrande hande met groot kneukels, die naels skoon en kortgeknip. Oorweldigend manlike hande … Sy wonder hoe dit sal voel as hulle aan jou raak. Ru, of sal hulle aanraking sag wees, soos sy stem as hy oor die trauma van sy aanneemkinders praat?

      Sy is bang hy let op hoe sy hom bestudeer en draai haar kop weg. Reg langs die pad is ’n versamelvoëlnes wat soos ’n vyfverdieping-woonstelblok lyk. Hier is genoeg voëls om die kieskeurigste voëlkyker tevrede te stel en dis ’n fees om hulle dop te hou.

      “Kon die groepie in ’n nuwe habitat aanpas?” vra sy.

      “Die eerste paar maande was hulle aggressief en het vir ’n klompie noue ontkomings gesorg. Die boomveld en heinings het dit ontgeld en ons het meer as een keer moed verloor, reg om tou op te gooi. Maar met genade het ons deurgedruk – twee jaar lank. Twee lang jare van begrip en geduld, terwyl ek saam met die trop in die veld geleef het. Ek moes hulle leer ken, leer om hul lyftaal te lees om hul emosies te kan verstaan. Geleidelik het hulle aan my gewoond geraak en geleer om my te vertrou.”

      Homo sapiens te vergewe, dink sy. En hulle ’n kans te gee om te vergoed …

      “Elkeen van die elf het ’n eie persoonlikheid. Temba het van die begin af uitgestaan. Sy is die oudste en die slimste, die eerste een wat besluit het ek hou nie ’n bedreiging in nie. By olifante is koeie die tropleiers en die mantel van matriarg het outomaties op haar geval. Sy was maer en uitgeteer en eers het ek gedink dis die beter lewe hier wat haar lyf gee. Toe besef ons die groot nuus: sy is dragtig. Oor die datum het sy ons almal aan die raai gehou, en Koosjan het op die trop se spoor gebly. Hy was eerste om te sien die ander olifante begin kringmaak om haar. Dis hulle gewoonte: om só ’n pasgebore kalfie teen roofdiere te beskerm.”

      “Ek het jou televisiereeks destyds gevolg,” sê Aralie. “Die filmspan sal seker kom om die groot gebeurtenis te verfilm?”

      “Ek hoop so. Ek wil hê Temba moet blootstelling kry, om mense bewus te maak van diereregte en om die verbod op ivoorhandel te handhaaf.”

      Hy het ’n trefferboek oor olifantgedrag geskryf, onthou sy. En hy word wêreldwyd as ’n kenner beskou. Die “olifantfluisteraar”, het die verteller in die TV-reeks hom genoem. ’n Prikkelende en romantiese titel. ’n Naam wat pas by ’n prikkelende en romantiese man …

      In lewende lywe is hy aantrekliker as op televisie. Sy bewonder dit wat Franco Conradie doen, maar dit beteken nie sy hou van hom as mens nie. As dit hom pas, draai hy die sjarmekrane oop, maar onderliggend is hy arrogant en ongeskik. Hy beskou haar as ’n meulsteen om sy nek, en dit maak hom nog dom daarby. Sy sal nie weer na hom uitreik nie. Sy sal doen waarvoor sy betaal word en verder ’n professionele afstand behou.

      Hulle draai van die teer af op ’n uitgetrapte grondpad wat deur ’n plaat kokerbome kronkel, teen ’n klipperige bult uit. Van bo af kan sy Balelapa se boskamp-in-aanbou sien. Aan die duskant herken sy die hoofgebou wat halfpad voltooi is. Volgens Niel sal dit uit die ontvangskantoor, restaurant en winkel bestaan. Verder op is ’n gat waaraan ’n ywerige stootskraper werk. Blykbaar die swembad in wording, met weerskante twee wye halfmane, uitgemerk deur eweredig gespasieërde sirkels. Die rondawels, waarvan die laaste fondamente gegooi is terwyl Franco in Walvisbaai was.

      Aralie soek na die tentdorp waarvan Niel gepraat het, maar dis blykbaar buite sig. Al wat sy van hier af kan uitmaak, is ’n paar woonwaens, sommige met sytente. En ’n sinkgehuggie ’n entjie weg onder ’n boom. Nie baie belowend nie.

      Sy let op na die Land Rover se afstandmeter. Soos sy verwag het, is dit oor die veertig kilometer van Otjikavi tot op Balelapa. Tipies Niel, dink sy. Sy “nege en dertig” was rooskleurig gestel, soos ’n geadverteerde winskopie van R99.99 wat stukke goedkoper klink as R100. Niel sou sommer drie gekoop het, want hoe meer jy koop, hoe meer spaar jy …

      Is dit dalk goed om soos hy te wees? Optimisties en positief, eerder as sinies en krities? Daar is ’n kinderlike onskuld in Niel wat haar aanvanklik aangetrek het, maar later uitgeput het omdat dit moeilik is om met ’n onrealistiese man getroud te wees. Met énige man, besluit sy. Sy is beter daaraan toe op haar eie. As sy eensaam is, kan sy teen ’n snoesige teddiebeer in die bed opkrul, ’n budjie kry om mee te praat, en ’n bottelprop wat vassit onderstebo in kookwater dompel. Sy het nie ’n man se spiere of sy lyf nodig nie.

      Franco se hand stamp per ongeluk teen haar knie toe hy onder in ’n drif ratte verander. Soos toe sy vinger oor

Скачать книгу