Satyn Omnibus 4. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman страница 17

Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman

Скачать книгу

kampe, party is in die reservaat vrygelaat, toegerus met nekbande en radio­senders vir navorsing.”

      “Geen olifante nie?”

      “Dié is Kgalagadi-oorgrenspark toe. Ek was bang vir botsings met my probleemkinders uit Angola.”

      “Gerehabiliteerde pleegkinders,” korrigeer sy en kyk nuuskierig na hom. “Ek hoor jy word die olifantflui­s­teraar genoem.”

      Sy het gedink dis gepas, maar hy hou nie van die benaming nie.

      “Dis ’n modewoord, na aanleiding van die fliek The Horse Whisperer. Dit gee egter ’n mistieke of spirituele kleur aan die ding, wat misplaas is. Enigeen kan dit doen.”

      Aralie geniet dit om na hom te luister, sy oë en sy mond en sy hande wat vol passie saamgesels … “Hoe?” wil sy weet.

      Maar hy is beskeie en bang hy verveel haar. “Maklik,” maak hy dit ongeërg af. “Al wat jy nodig het, is ’n olifant.”

      “En dan?” dring sy aan.

      “Dan gesels jy met hom. Saggies, sodat hy hom moet inspan om te hoor, sodoende kry jy sy aandag. Maar veral: jy luister as hy met jóú gesels. ‘Trompetter’ is nie al wat hy kan sê nie. Vir langer afstande gebruik hy maagrommelings. Vir emosies flappende ore, vir aggressie ’n voorpoot waarmee hy stof opskop, ensovoorts … Ek sal jou eendag aan my kinders gaan voorstel en jou ‘die taal van die groot lywe’ leer. Maar nou is dit eers tyd om te eet. Jy is seker al baie honger.”

      Vanoggend se droë beskuitjies voel soos ’n ewigheid gelede, en Aralie val met smaak weg aan die biefstuk op haar bord. Dit was ’n ryk en wonderlike dag. Saam met ’n ryk en wonderlike man. En skielik is sy nie meer kwaad vir Niel omdat hy voor ’n taxi ingeloop het nie.

      6

      Die volgende oggend is Aralie vroeg op en aangetrek. Maar toe sy die woonwa se deur saggies oopstoot, versigtig om Franco nie wakker te maak as hy nog slaap nie, is hy reeds weg. Sy bed is opgemaak, die tent aan die kant en op die tafel ’n nota: Is Etosha toe. In die yskas is kos, in die fles koffie – help jouself.

      Sy is vreemd teleurgesteld. Die kamp voel skielik leeg. Iets is saam met hom weg, iets ondefinieerbaars. Vir wie het sy dan al die moeite gedoen? Parfuum en lipstiffie aangesit en haar hare geborsel tot hulle blink oor haar skouers val …

      Toe sy naby die bed verbyloop, verbeel sy haar sy kan hom aan die lakens ruik. Suurlemoen en vars kruie. Tiemie, raai sy. Daar is iets baie persoonlik omtrent ’n mens se bed, want dit verklap iets van die eienaar daarvan. Of hy ’n stil of rustelose slaper is, koulik is of gou warm kry, slaapklere dra of nie …

      Sy stop haar verbeelding voor dit op loop gaan, drink ’n beker koffie en eet ’n oorskiet-broodrolletjie van gisteraand. Buite oor die tenttou hang ’n nat handdoek. Franco het blykbaar sy stortbeurt geneem terwyl sy geslaap het. Sy sien nie die Duitser of enige van die werks­mense nie, maar waag liewer nie ’n kans nie. Sy was en borsel haar tande sommer buite onder die kraan.

      “Môre,” groet Koosjan toe sy regop kom. “Franco het gesê ek gaan vandag saam met Dokter uit.”

      ’n Land Cruiser staan gereed in die kameeldoring se koelte. Aralie kry haar medisynetas en opvoutafel en maak die passasiersdeur oop. “Dankie. Ons kan maar ry.”

      Koosjan bly skamerig staan. “Ek kan nie dryf nie.”

      “Ek weer kan dryf, maar nie spoorsny nie,” antwoord Aralie en gaan klim agter die stuur in.

      “Ek dra ’n geweer, maar Franco het gesê Dokter moet Sef ook saamvat,” sê Koosjan en gee ’n skerp fluit. Die volgende oomblik kom die skaaphond aangehardloop, ’n swartbont streep.

      “Hoekom moet ek hom saamneem?” vra Aralie.

      “Ek weet nie. Jy vra nie vir daai man ’n hoekom nie.”

      Sy is nuuskierig. “Hoekom nie? Word hy gou kwaad?” Dan is sy nie al een nie. Koosjan het blykbaar ook al onder sy tong deurgeloop.

      “Nee,” keer hy koue water op haar vuur om. “Jy vra nie, want hy is slim. Hy is altyd reg.”

      Aralie weet nie wat om daarop te antwoord nie, maar dit gee nogal stof tot nadenke.

      Die pad is rof, maar Koosjan se talente is nie net tot dierespore beperk nie. Hy gee raad hoe sy moet ry om in die uitgetrapte voertuigspore te bly. Hulle kry ’n lieflike familie koedoes wat besig is om ’n klapperbos te stroop, min gepla deur die nabyheid van die voertuig. Dan ’n kameelperd wat hulle uit die hoogte aanstaar, en verder op leeuspore in die los sand.

      “Uitgegroeide kraagman, dikgevreet, lui ná vanmôre se vangs. Twee wyfies, jongste een gepaar. Vier kleintjies, laas lente aangekom.”

      Agter haar donkerbril rek Aralie se oë. “Weet jy al daardie goed deur net na die spore te kyk?”

      Koosjan lag breed. “Dis my werk, Dokter.”

      “Hoe weet jy al dié dinge?”

      “ ’n Kraagman is swaarder as ander mannetjies,” verduidelik hy. “As sy maag dik is, dan trap hy dieper spore. As hy lui loop, dan soek hy slaapkoelte. Die wyfies se voete is kleiner en die kleintjies die heel kleinste. Maar bietjie groter as hulle laas lente aangekom het.”

      Aralie klap vir hom hande. “Jy sal my seker ook kan sê wat hulle gister vir brekfis gehad het!”

      Sy het dit skertsend bedoel, maar Koosjan antwoord ernstig: “Eers as ek na die mis gekyk het.”

      Sy wonder of hy gewillig sal wees om haar te leer. As sy lank op Balelapa sou bly, sou sy dit oorweeg het, en in ruil vir Koosjan bestuurslesse gegee het.

      Dié plek kruip onder haar vel in ná slegs een dag, besef Aralie. En sy moenie toelaat dat dit gebeur nie. Dis net ’n locum-joppie. Oor ses weke is sy weg.

      Skaars vyf minute later kry hulle die groep leeus, lui­lekker aan die slaap onder ’n spekboom, presies soos Koos­jan voorspel het.

      “Jou naam moes Slimjan gewees het!” prys sy hom.

      “Nee, my naam is reg so.”

      “Waar kom dit vandaan? Is dit jou ma en pa wat nie kon besluit nie? Sy wou hê die kind moet Koos wees en jou pa wou hê hy moet Jan wees, toe maak hulle maar een naam daarvan?”

      Hy lag sy tandelose lag, van oor tot oor. “Dis nie so nie. Ek is Koisan: half-Boesman, half-Hottentot, en my naam is !Xauklo. Dis swaar vir wit tonge om te sê, toe noem hulle my vir die maklik sommer Koisan. Toe word dit Koosjan.”

      Hulle kyk lank na die leeus voor hulle aanry.

      Dis asof Balelapa konsert hou vir die nuwe veearts. Op pad na die rehabilitasiekampe kry hulle ’n trop elande, swartneus-rooibokke en ’n hiëna in die middel van die pad. Koosjan vertel dis een van dié wat destyds uit Irak gered is. Hy is fris en gesond, met sy kenmerkende afdraande-rug en kleiner agterpote, amper soos ’n groot hondespesie. Sef herken dit ook – dié verwantskap met ’n halfbroer uit die oertyd – en grom diep uit sy keel.

      “En Sef se naam?” vra Aralie. “Waar kom dít vandaan?”

      “Dit

Скачать книгу