Satyn Omnibus 4. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman страница 18

Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman

Скачать книгу

nie. Toe word Josef sommer Sef, vir die maklik. Daai hond is sy skaduwee, altyd by hom.”

      “Hoekom het hy dan gesê Sef moet vandag saam met ons gaan?”

      “Sodat hy vir Dokter kan oppas.”

      ’n Gerusstellende gedagte, wat haar geborge laat voel. Met ’n skok besef Aralie dat sy vandag nog nie een maal aan Niel gedink het nie, en dit laat haar skuldig voel. Sy ma het gesê hy is steeds lief vir haar. Was dit nog altyd …

      Toe die pad teen ’n klipperige hoogte uit kronkel, probeer sy weer bel, sommerso in die ry. Die skerm gee dieselfde boodskap: geen ontvangs. Koosjan weet van die veld alles maar van hallo-masjientjies niks. Hy het nie raad nie.

      Hy vertel hy en sy broer Anneries was van die eerste mense uit die plaaslike gemeenskap wat Franco gewerf het toe hy die reservaat agt jaar gelede begin het. Koos­jan werk al lank vir hom en ken Balelapa se hele geskie­denis.

      In die verte sien Aralie dieselfde ronde grys kolle as vanuit die vliegtuig en tel elf van hulle. Franco se kinders … Maar sy waag dit nie nader met die voertuig nie.

      Koosjan beduie die pad verby die panne, op soek na die beseerde witkruisarend en die vlakvark wat in die modder vasgeval het. By die derde suiping vind hulle albei: die arend op eie stoom ingeburger in die hoogste mik van ’n hardekool, maar die vlakvark nog op dieselfde plek as gister, hangkop en wankelrig.

      “Daai een is vannag leeukos,” voorspel Koosjan.

      Aralie ry tot so na as moontlik aan die vark sonder om hom te verskrik. “Wel, ek is baie jammer vir die leeus … Hulle moet maar leer om gras te eet,” antwoord sy en klim uit. “Ons neem hom kamp toe. Help my om die opvou­tafel uit te haal. Ons gaan dit as ’n draagbaar gebruik.”

      Koosjan is gewillig, maar skepties. Gelukkig is dit ’n jong vark en in ’n verswakte toestand. Hy kry die pa­siënt in ’n kopklem beet terwyl die Windhoek-dokter­tjie die nekvel buig en ’n spuitnaald indruk. Nogal handig, merk hy op. Lyk hom sy kan meer doen as net kar dryf. Dalk dié dat Franco so ’n mán-kyk in sy oog kry as die dokter naby is.

      Die vlakvark skop flouweg, dan raak hy rustig. Sy oë dop om en hy sak op sy knieë. Die dae sonder kos en water het sy liggaamsmassa gestroop. Hulle tel hom gemaklik op die tafel en laai hom agter in die Cruiser.

      “Sit agter by hom, Koosjan,” beveel Aralie. “Hou hom vas en keer dat hy om die draaie seerkry.”

      By die laaste watergat vind hulle nog ’n pasiënt: ’n meerkat wat blykbaar in ’n geveg betrokke was. Dié spesie is fanaties territoriaal, en Aralie raai die outjie het dit te na aan ’n opposisiegroep se blyplek gewaag. Sy sou graag by die buffels in kwarantyn wou uitkom, maar dit sal tot môre moet oorstaan.

      Sy draai die voertuig om en begin die lang terugtog.

      Die eerste wat sy opmerk toe hulle by die kamp kom, is ’n nuwe toevoeging: ’n plat tentjie aan die lapa se kant. Die landskapargitek, onthou sy. Franco het gesê hy verwag hom. Nóg ’n mansmens wat wil stort en skeer …

      Sy sug en ry verby na wat optimisties ’n “spreek­kamer” genoem word. Daar wag ’n veel aangenamer verrassing op haar: die afdak is weerskante toegemaak en aan die binnekant is rakke aangebring. ’n Ekstra tafel en stoel het bygekom, ook ’n gaslamp en ’n kastrol vir as sy water wil kook om instrumente te steriliseer.

      “Arm was ek gister, en nou is ek ryk,” haal sy Leipoldt ingenome aan.

      Sy het die vlakvark en duiker klaar versorg en is besig om die meerkat se wonde toe te werk toe Franco opdaag. Haar hart spring baldadig in haar keel en sy steek amper ’n gat in haar vinger.

      “Dankie,” knik sy bedees, verlig dat geen van haar emosies in haar stem deurskemer nie. “Ek waardeer al die luukse toevoegings.”

      “Dis minder as wat jy verdien, maar ek het jou gewaar­sku ons is ’n rowwe klomp hier. Ek gaan môre dorp toe – onthou om jou lys voorrade vir my te gee.”

      Hy kom staan langs haar en gee om die beurt die sjirurgiese gare of die skêr aan, terwyl hy geïnteresseerd luister na wat sy van hulle dagrit vertel.

      Nadat hy help opruim het, hou hy sy hand na haar uit. “Kom saam, en sê of jy tevrede is.”

      “Waarmee?”

      “Kom kyk,” hou hy vol.

      Dis heerlik toe sy groot hand om hare vou. Hy weet dit nie, maar hand aan hand met hom sal sy tot in Siberië loop …

      Hy lei haar verby die badkamer en wys na ’n konstruksie wat nie gister daar was nie. “Daar’s hy: jou eie ablusieblok!”

      Aralie kan dit nie glo nie. Daar is selfs warm water en ’n deur wat kan sluit. En bo-op die dak wapper ’n ligpienk flentertjie lap.

      Sy staan op haar tone en soen hom impulsief op die wang. “Vreeslik baie dankie!”

      Sy arm gaan om haar rug en hy gee haar ’n stewige druk. “Vir so ’n beloning bou ek môre vir jou nog so een!”

      Hy móét haar hart teen sy bors voel skop, dink sy be­noud. Al was dit broederlik, gaan haar verspotte hart tekere asof Franco haar gevra het om saam met hom voor die preekstoel te gaan staan.

      Sy maak haar versigtig los en plaas ’n veilige afstand tussen haar lyf en syne. Toe sy opkyk, is daar ’n eien­aardige, onpeilbare uitdrukking op sy gesig. Hul oë ontmoet en sy is die een wat eerste wegkyk.

      “Ek is vol stof, ek gaan nou dadelik my stort inwy,” sê sy half kortasem.

      Hy glimlag lui. “Tussen die bosveldstof darem nog ’n vroulike blomgeur wat deurkom … Katjiepiering?”

      Tot haar ergernis voel Aralie hoe sy bloos. Die kruis waarmee rooikoppe opgesaal is … Sy het gehoop dis ’n gewoonte wat mens in volwassenheid afsterf, soos hakkel of naels byt. Ook maar goed hy was nie vanoggend hier nie, want as hy nou nog haar parfuum kan ruik, het sy te veel aangewend. Hy sou gedink het dis spesiaal vir hom.

      Aralie is uit haar vaarwater. Voor sy in dieper water beland, skoert sy liewer en gaan kry ’n handdoek en skoon klere.

      Waar sou hy die ligpienk flentertjie op die dak gekry het? Dit lyk na ’n dun, syerige tipe materiaal. Sy sidder om te dink wat dit mag wees, of waar dit vandaan kom.

      In haar haas het sy ingedagte een van haar kortbroeke uit die kas geneem. Sy bekyk dit en wonder dan: Hoekom nie? Dis nie styfpassend nie en hang net bokant haar knieë, met nuttige kantsakke. Dis wat sy in die praktyk gedra het en wat die meeste mans hier rond dra. Niemand sal snaaks dink nie.

      Op pad terug van die ablusieblok kom sy die Duitser teë. Hy het nie sy bril op nie en loop haar amper onderstebo. Hy mompel ’n verskoning en staar bysiende in haar rigting. “Tian?”

      “Ja,” bevestig sy met ’n diep stem.

      “Guten Abend,” groet hy en stap aan.

      Amper lag sy hardop. Ekskuus, Franco, vra sy onhoorbaar verskoning. Dis die tweede keer dat ek jou van ’n lieg verdink het, en die tweede keer dat ek verkeerd was.

      Dis haar beurt om aandete te maak, maar Aralie voel ontuis in die tent

Скачать книгу