Satyn Omnibus 4. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman страница 22

Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman

Скачать книгу

het al van haar dreigement vergeet, maar Tian blykbaar nie. Aralie is geamuseerd en besluit om hom nog ’n rukkie te treiter, dan sal hy nie gou weer skoorsoek nie.

      Sy hou hom ongemerk van onder haar wimpers dop. “Dis nie moeite nie, ek doen dit met graagte.”

      Hy trap-trap agteruit. “Ek wil nie hê nie.”

      “Ek sal self eers ’n sluk neem, nadat ek dit geroer het,” bied sy sedig aan.

      Hy gluur haar aan.

      “Of jy kan self die suiker ingooi as jy dit verkies.”

      Tian lyk of hy verkies om haar te verwurg en mompel iets wat klink soos “blerrie biets”. Hy stamp ’n stoel uit die pad en maak hom skaars.

      Phillip kyk hom verward agterna. “Waaroor was dié vloermoer?”

      “Oor ek vir hom koffie wou gee.”

      “Is hy allergies vir koffie?”

      “Blykbaar vir die manier waarop ek dit maak.”

      “Dan kon hy mos gesê het hy verkies tee.”

      Botter kan nie in Aralie se mond smelt nie. “Ek glo nie tee sou die probleem opgelos het nie.”

      Phillip haal sy skouers op. “Dan moet die dude maar bier of water drink …” Nadat ’n derde beskuit sy beker leeggesuig het, staan hy op.

      “Dankie vir die brekfis. Nou moet ek gaan soek waar om blommetjies te plant.”

      “En ek gaan pasiënte gesond maak.”

      Toe Aralie buite kom, lê Sef beteuterd voor die tent.

      “En jy? Steeds aan die waghou?” vra sy en vryf sy ore. “Waaroor het jy vanoggend raas gekry? Omdat jy eerder saam met jou baas wou gaan as om my op te pas?”

      Die skaaphond kyk haar verwytend aan. Maar toe sy na haar spreekkamer stap, volg hy ewe gehoorsaam.

      Koosjan wag haar by die hokke in, trots op die vlakvark wat regop-kop staan, dik gevreet aan ’n bos wortels. Hy wei teen die draad en laat selfs toe dat Aralie sy rug krap.

      “Is dit ’n bietjie brandsiek wat jeuk of herken jy my?” vra sy en bederf hom met ’n hand vol van die soetgras wat Koosjan met ’n kruiwa vir die duiker aangery het.

      Ghuff, klink dit agter haar toe sy langsaan by die meer­kat hurk.

      “Is dit ’n snork of ’n dankie?” wil sy weet.

      Die vark wys sy tande vir haar.

      “En dit? ’n Glimlag?” Sy gee hom die voordeel van die twyfel en ’n laaste kousel gras.

      Die meerkat se klein, sagte lyfie herinner haar aan die worshonde en maltesies wat sy so dikwels in die praktyk behandel het. Dit was lonend en bevredigend. Maar die werk hier in die veld, met diere wie se oorlewing van haar vaardigheid en kennis afhang, raak haar diep in haar wese, daar waar dit saak maak. Hier kan sy vasgroei, haar hart aan ’n kameeldoring vasknoop en nooit weer weggaan nie.

      “Dink jy dié passie het te make met daardie groot blonde man wat jou uit die slagyster gered het?” vra sy saggies toe sy by die beseerde duiker hurk.

      Hy weet nie, lê net met stom bokkie-oë na haar en kyk terwyl sy die seerplek aan sy agterbeen ontsmet.

      “Jy is gelukkiger as julle regte veearts,” gesels sy met hom. “Die ander dokter Van Dyk. Jy kan al loop, maar hy lê nog been in die lug. En ek kan nie eens bel om hom te troos nie.”

      Ghuff, gesels die vlakvark saam.

      “Noudat ek hom weer gesien het, kan ek hom nie uit my gedagtes kry nie,” erken Aralie. “Ek begin dink ek was te gou om hom te veroordeel. My kop haak uit as ek kwaad is. Noudat ek afgekoel het, moet ek miskien meer vergewensgesind wees. Ek was baie lief vir hom, al het hy ’n oog vir ander vrouens gehad. Dis maar hoe party mans is. Nooit grootgeword nie. Dalk het hy nou sy les geleer. Hierdie Franco-man is fassinerend en hy het my voete onder my uitgeslaan. Hy is soos ’n koors in my bloed. Maar dis net tydelik, net omdat ek eensaam is. Sodra ek aan hom gewoond is, sal dit oorwaai. Sal ek besef dit was heldeverering omdat ek hom bewonder vir wie hy is en die werk wat hy doen.”

      Die duiker raak rustig onder haar strelende stem, maar skarrel mank weg toe sy die kniehalterriem losmaak, en gaan skuil in die verste hoek.

      “Spreekure verstreke,” sê Aralie toe sy by Koosjan kom. “Tyd vir die mobiele kliniek om by die buffelkamp uit te kom. Ek wil gaan bloedmonsters trek.”

      Laatmiddag, op pad terug, kry hulle die donkergroen Land Rover by die brug. Dit staan dwars geswaai by ’n bok wat teen ’n miershoop lê. Dit lyk na ’n koedoe wat sleg seergekry het.

      Die Cruiser sleep tot stilstand en Aralie spring uit. “Wat het gebeur?”

      Franco is vol bloed waar hy langs die bok hurk. “Geskiet,” kry hy dit deur saamgeperste kake uit. “Wilddiewe. Ek het teruggeskiet, maar die vuilgoed het weggekom. Anneries is agterna.”

      Dis ’n nekwond, ’n koeël wat blykbaar die slagaar getref het en daarna in een van die werwels vasgeslaan het. Sonder om op bevele te wag hardloop Koosjan om die mediese trommel te kry.

      Franco weet wat hy doen, maar hy het nie genoeg hande nie. Aralie druk hare bo-oor syne waar die dikrooi bloed met elke hartslag uit die nek pomp. “Klamp!” skree sy vir Koosjan. Hy druk dit in haar grypende vingers.

      “Nog een! Die grote!”

      Die bok roggel en skop paniekbevange, sodat al drie van hulle met brute krag die glibberige, bebloede lyf vaspen, desperaat om te keer dat die klampe loskom. Aralie improviseer ’n toerniket met ’n rubberband om die druk op die klampe te verlig. Bykomend ruk sy ’n stuk crêpeverband af en vou dit halsoorkop in ’n drukkussing teen die aar. Nog een, en nog ’n hele pak …

      Gaandeweg lyk dit of hulle besig is om die stryd te wen. Die bloed word taai en dik, ’n teken dat die vloei gestelp is en die bloed begin stol.

      “Spuitnaald,” vra Aralie met een hand steeds op die toerniket.

      Dis Franco wat die spuit aangee, saam met ’n ampule doofmiddel. Hy kniel langs haar en pen die horings vas om te keer dat sy seerkry as die bok sou wegruk.

      Die uitwerking van die doofmiddel is byna onmiddellik. Aralie wag tot die groot lyf verstil en lig ’n ooglid om die wydte van die pupil te toets.

      “Hy slaap.” Sy vee met ’n moeë hand ’n haarsliert uit haar gesig en kyk op na Franco. “Wil jy hê ons moet hom inlaai en kamp toe neem?”

      Hy knik en kom stram orent, steek ’n hand uit om haar op te help.

      Sy keer. “My hande is besmeer van die bloed …”

      “Myne ook.”

      Sy sterk vingers sluit om hare en hy trek haar op haar voete. Met sy wysvinger vee hy die haarsliert wat losgekom het weer agter haar oor in. “Dankie, Dok … Alleen sou ek

Скачать книгу