Satyn Omnibus 4. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman страница 23

Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman

Скачать книгу

drie mans, nie jy nie. Jy het genoeg gedoen.”

      Sy let nou eers op dat Anneries bygekom het. “Het hy die stropers gekry?”

      Franco skud sy kop. “Stoot solank die Cruiser tru en maak die rugluik oop.”

      Die drie mans sleep die bok tot op ’n grondseil, wat ’n stewiger greep bied. Met die agterste bank wat verwyder is en die oop luik pas die koedoe agter in. Sef kry sy hartsbegeerte: hy moet na die Land Rover oor­skuif om vir Koosjan en Anneries plek te maak.

      Franco ry voor om die pad te wys – ’n kortpad oor die rivier, wat vir Aralie nuut is. Hy het Tian blykbaar geradio, want hy wag hulle in vir die aflaaislag. Van die konstruksiewerkers het na die drama kom kyk en selfs Phillip daag op met sy kamera.

      “Het die diewe weer deur die rivier gevlug?” vra Tian. “Slim, want dan verloor ons die spoor.”

      “Hierdie keer was óns slimmer. Anneries het kortpad gevat en die bende voorgelê, hulle ver genoeg gevolg om te sien na watter stat hulle vlug – die mense wat hulle skuilplek gee en waarskynlik in die buit deel. Ek het klaar die polisiepos geradio. Die patrollies sal die res doen, hopelik voor hulle oor die Angolese grens kan ontsnap.”

      Franco vee moeg oor sy gesig. “Verlede maand ’n renoster, toe ’n rooibok en nou ’n koedoe … Kort-kort slagysters en strikke. Hierdie stropery moet end kry. As die polisie die vuilgoed nie kan vastrek nie, kry ek ’n kommando op die been en neem die wet in eie hande. Só kan dit nie aangaan nie. My bloed pomp swart en as ons nie resultate kry nie, is dit ’n volskaalse oorlog. Ek soek afdrukke van daardie foto’s, Phillip – as bewysstukke, en ook vir die koerante.”

      Aralie het opgeruim, Koosjan gehelp om die Cruiser af te spuit en haarself daarna gaan skoonskrop. Toe sy uiteindelik by die woonwa kom, sit Franco afgetrokke by die vuur, arms gevou en sy voete op ’n boomstomp gestut. Hy kyk nie op toe sy verbystap nie.

      Sy vryf haar hare droog en hang die handdoek uit. Dan kyk sy besluiteloos deur die tent. Die tafel staan vol inkopiesakke en daar is twee bokse mediese voorrade. Maar niks is uitgepak nie en dit lyk nie of Franco beplan om te braai nie. Die doel van die vuur is blykbaar nie vir kos maak nie.

      Sy haal ’n kastrol uit en begin soek in die koskas wat om te kook.

      “Ek’s nie honger nie!” roep Franco kortaf oor sy skouer.

      Sy bêre die kastrol en neem ’n appel. Dan gaan sy na die woonwa en maak die deur agter haar toe. In hierdie luim is dit beter om uit Franco se pad te bly, voor sy in ’n eie oorlog met hom beland.

      “Wil jy wyn hê?” roep hy ná ’n halfuur se afsydige stilte.

      Sodat hulle ’n herhaling van gisteraand se fiasko kan hê? “Nee dankie,” roep sy terug.

      Hy bied nie weer aan nie. Seker tevrede dat hy sy plig nagekom het en hom nie verder aan haar hoef te steur nie.

      Aralie trek haar slaapklere aan, klim in die bed en skakel die lig af. Dit was ’n vermoeiende dag, fisiek sowel as geestelik.

      Sy het al ingesluimer toe ’n klop aan die deur opklink. Sy skrik regop. “Wat is dit? Wat’s verkeerd?”

      “Niks nie,” antwoord Franco. “Sal jy oopmaak, asse­blief?”

      “Ek het my pajamas aan.”

      “Dit maak nie saak nie.”

      Natuurlik maak dit saak. Sy het drukkend warm Novem­bernagte voorsien en haar dunste, ylste pajamas ingepak.

      “Net ’n oomblik …”

      Sy pluk ’n sweetpaktop bo-oor aan. As dit enige ander man was, het sy gesê hy moet gaan doppies blaas, gevra wat hy dié tyd van die nag by haar soek. Franco Conradie is egter nie enige ander man nie. Vir hom sal sy nie net die deur oopmaak nie, maar ook haar hart.

      Sy kam haar vingers deur haar hare en draai die deurknop.

      “Wát, geen toegegrendelde skuifie nie?” vra hy met geligte wenkbroue.

      Aralie bloos. Ná haar gedrag gisteraand is dit seker wat hy verwag het: ’n oop deur en ’n ope uitnodiging om in te kom wanneer hy wil.

      “Hoe laat is dit?” vra sy, nog half deur die slaap.

      “Elfuur.”

      Sy het gedink dis later, naby middernag. Franco het nog dieselfde klere aan en sy let nou eers die twee bekers op wat hy vashou.

      “Ek het vir jou koffie gebring.”

      “Dankie.”

      Hy oorhandig die koffie en buk af om die twee borde te neem wat op die trap staan. “En toebroodjies. Jy kan nie met ’n leë maag gaan slaap nie.”

      “Dankie.”

      Hy wag, maar sy bly staan en nooi hom nie in nie.

      “Daar’s ’n paar lêers in die kas wat ek wil kry,” sê hy verskonend.

      So, dís wat hy soek – lêers, nie haar geselskap nie. Wat het ek verwag? dink Aralie, ergerlik oor haar verspotte hart wat skielik sulke wilde spronge gemaak het.

      “Natuurlik,” antwoord sy en staan tru sodat hy kan verbykom. “Dis jou woonwa, help jouself.”

      “Ek wil net gou iets nagaan.”

      Hy sit die borde neer, maak die kas oop en blaai deur die voorste lêer op die rak. Hy vind blykbaar wat hy gesoek het, lees hier en daar iets en plaas die lêer terug. Dan draai hy om, neem sy koffie en maak hom tuis op die voetenent van die bed.

      “Ek was netnou weer by die koedoe. Die bloeding het nie weer begin nie en hy is so uit soos ’n kers.”

      “Sal so bly tot môreoggend,” bevestig Aralie.

      Wat moet sy doen? Daar is nie stoele nie. Ook maar op die bed sit en saamgesels, asof dit normaal is?

      “Ek sal nie byt nie,” sê Franco rustig. “Sit gerus, en drink jou koffie voor dit koud word.”

      Sy gaan sit op die verste punt by die koppenent, maar dit voel steeds te naby – in mekaar se persoonlike ruimte, waar albei ontuis is. Sy neem ’n hap brood. Dik skaapwagtersnye, met dik botter en polonie op. Tipiese man-toebroodjies, maar vullend.

      “Kom jy reg met die werk? Is dit nie te veeleisend nie?” vra hy.

      “Glad nie. Ek kom reg en ek geniet dit. Balelapa is ’n inspirerende omgewing.”

      “Ek het alles op jou lys by die apteek en koöperasie gekry, behalwe ’n klompie handelsname wat hulle nie ken nie. Hulle sal dit vir jou bestel.”

      “Ek het die bokse gesien. Dankie.”

      “Ek het ook vir jou sonroom gekoop. En ’n hoed. En handskoene.”

      Sy moet seker bly wees, maar Aralie wens hy het dit nie gedoen nie. Sy wil nie in die skuld by hom wees nie.

      “Dit

Скачать книгу