Chuck Norris kan deel deur nul. Annelie Ferreira

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Chuck Norris kan deel deur nul - Annelie Ferreira страница 3

Chuck Norris kan deel deur nul - Annelie Ferreira

Скачать книгу

die atletiek al verby was. Maar hy’s groot vir ’n graad agt dude. Omtrent twee keer so lank as enigiemand anders in die klas.

      Oukei, as ek.

      Oukei, selfs Marlie is omtrent twee keer so lank soos ek. Maar dis nie hoekom ek nie baie van hom hou nie.

      Ek hou nie regtig van enigeen in die agterste ry nie. Dis waar al die ouens sit wat soos bere lyk, en net so saggeaard is ook. As hulle jou nie skud soos ’n Kersklapper nie, besproei hulle jou met koeldrank, of stamp jou uit die ry voor die saal.

      En dan was daar die bal teen die kop in LO. Dit was in rounders, wat mens amper sou kon geniet het as dit nie deel was van LO nie. Mens sien regtig sterre, vra my. Net ’n ongeluk, het die Yskoningin omtrent twintig keer gesê terwyl sy oor my gebuk het, Lungelo het dit nie bedoel nie, dit was jy wat misgevang het. Wel, ek sweer daai bal sou selfs Graeme Smith misgevang het, dit het vinniger as ’n vuurpyl op my afgekom.

      “… die beste krieketkaptein ooit.” Die Yskoningin knik terwyl Jonker verlig terugsteier na sy bank.

      Ek skuif reg. Nou Lungelo. Ek koes toe hy van agter verby my loop, net vir ingeval.

      Hy gaan staan voor in die klas, sy oë op die vloer voor hom. Die een kant van sy hemp flap oor sy broek. Die Yskoningin kry ’n pyntrekkie om haar mond.

      “My held is Steve Jobs.”

      Waaat?

      “Steve Jobs het moeilik grootgeword.”

      Hy het nie!

      “Dis hoekom hy so ’n moeilike ou was.”

      Dis nie waar nie! Steve Jobs was moeilik want hy was ’n genius!

      “Steve Jobs het Apple gestig in …” Tjommel tjommel. “… en toe is hy uit sy eie maatskappy gefire …” Tjommel tjommel. So? Dis nie die punt nie! Dis nie waaroor Steve Jobs gaan nie.

      Lungelo weet nie waarvan hy praat nie.

      Wag, dis mos my kans dié, is dit nie? Ek haal vinniger asem. Ek sal hom wys. Ek sal ’n beter speech gee as hy.

      ’n Skaduwee gly verby my terug agterbanke toe. Eers toe die Yskoningin vir die tweede keer “Muller?” sê, lig ek my kop.

      Die Yskoningin kyk na die lys op haar tafel voor sy sê “Albert”, asof sy ná ’n kwartaal en ’n half van register én LO net doodseker wil maak my naam het nie stilletjies na ’n ander van geskuif nie.

      Ek lig my uit my bank, my ore raas soos ’n radio op static. Ek kan die stampe nog vat, en die bal teen die kop en die koeldrank en …

      Maar Steve Jobs!

      My mond is droog toe ek voor die klas gaan staan. Voor my dobber kinders in hul banke rond, aan my regterkant is die Yskoningin dof. Ek lek oor my lippe, toe praat ek.

      “My held is nog beter as Steve Jobs,” sê ek. “Toe Steve Jobs die heel eerste iPhone aangesit het, was daar drie missed calls. Van Chuck. Chuck Norris.”

      Die klaskamer dreun soos ’n sportstadion toe ek terugstap na my bank. Dit lag, fluit, stamp voete. “Whoo-hoo!” skree iemand. “Go, Albert!” roep iemand anders.

      Net een persoon lag nie. Van heel agter in die klas boor ’n paar donker oë deur my. Lungelo s’n.

      “Dink jy jy is snaaks, meneer Muller?” Ys, yser, Yskoningin.

      Ek haal my skouers op. Die klas dink so. Wie is ek om te stry?

      Haar pen beweeg stadig op die bladsy, ek kan dit sien van my bank af. Dit moet langs my naam wees. Sy trek ’n sirkeltjie.

      “Die e-pos is gestuur,” sê ek. “Ek sal dit druk en môre vir Pottie gee, dan kan hy ophou moan oor die taak nie volledig is nie.” ’n Paar vinnige klieks. “Ek het dit ge-spellcheck en als, vir American English. Dink jy hy sal dit self lees?”

      Ashish lê op die ander bed in my kamer en surf op Pa se laptop. “Ek glo nie,” sê hy. “Sulke belangrike ouens het personeel wat al daai goed vir hulle doen.”

      Mnr. Kaktus begin oor my skerm hop. “En in elk geval hoef Pottie nie te moan nie,” sê Ashish. “Ons het moeite gedoen met die taak.”

      Kabam! Daar trek mnr. Kaktus se kop.

      As ek aan die mondeling dink, is ek nog omgekrap. Ek het darem twee friend requests gekry ná vanoggend. Nou het ek ’n hele nege Facebook-vriende, van wie Ouma een is. Ek het nie die hart om haar te unfriend nie, maar sy cramp nogal my style. Such as it is.

      Kapaa! Mnr. Kaktus lê in stukkies. Do you want to continue? vra die skerm bekommerd.

      Daar is ’n klop aan die deur.

      “Kan ons inkom?” Dis Marlie.

      Ons?

      Ek vlieg regop. My kamer is so deurmekaar soos altyd, behalwe dat daar op my ander bed ook nou ’n ekstra ou rondlê. Wat ook dadelik regop sit en baie vinnig Exit op Pa se laptop druk.

      “Ja?” antwoord ek.

      Eerste die bos krulle om die deur.

      “Is hy hier?” vra Marlie.

      “Wie?” Ek rek my nek om te sien wie agter haar is.

      “Die Koning van Engeland, wie dink jy?”

      O, Dompeldorius.

      Ashish stryk sy hare vinnig plat agter. “Nee, hy’s seker buite op sy plant, nè, Albert?” sê hy.

      Blonde hare blink agter Marlie. My hart begin galop. Suzanne. Sy het mooi groen en wit klere aan, Marlie kan regtig by haar leer. En min daarvan, selfs al is dit koelerig vandag.

      “Ons het hom net die een keer ingebring,” verduidelik ek vriendelik, “om te kyk of hy blou sou word op die deken.”

      Marlie ril. “’n Verkleurmannetjie,” sê sy vir Suzanne. “Flippen creepy ding. En die slang was nog erger. Hy was kastig in ’n hok, maar toe kom hy uit en toe kan niemand hom kry nie.”

      “Slang?” Suzanne kyk skrikkerig om haar rond.

      “Hy is nie meer in die huis nie,” sê ek haastig. “En dit was net ’n molslangetjie, ek het hom in die straat gekry. Dit het gelyk of hy seergekry het.”

      Iets ruik lekker, amper soos die pers gel-goed waarmee Marlie stort. Ek kreukel my neus liggies in Suzanne se rigting.

      “Die mens moet respekvol wees teenoor alle lewende wesens,” sê Ashish ernstig. “Dis ons Indiërs se kultuur.”

      “Aww, sweet,” sê Suzanne.

      “Presies!” sê Marlie terwyl sy op my bed afstap. ’n Mou flap. “Wees respekvol. Los die goed in die natuur.” Sy gryp my laptop. “Dankie, Boetie!”

      “Hei,

Скачать книгу