Chuck Norris kan deel deur nul. Annelie Ferreira

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Chuck Norris kan deel deur nul - Annelie Ferreira страница 4

Chuck Norris kan deel deur nul - Annelie Ferreira

Скачать книгу

sê Marlie terwyl sy deur toe loop. “Moenie bekommerd wees nie, hy’s nou gered. Dis my laptop ook, onthou. Ons moet goed soek vir ons Engels-taak.”

      “Jy kan my laptop kry,” sê Ashish dadelik. “Ek bedoel, jou pa se laptop.”

      “Dis oukei. Thanks, guys.” By die deur draai sy om en flits ’n glimlag vir ons.

      “Baai!” waai Suzanne.

      Die deur klap agter hulle toe. Net die sagte geur hang nog in die lug. Ek sak terug op die bed, in ’n salige droom.

      Ashish begin weer op Pa se laptop kliek.

      Eintlik weet niemand presies waar die ander laptop oorspronklik vandaan gekom het nie. Ouma het gesê sy het dit in hulle kerk se lotery gewen, vir my en Marlie. Net die laptop, sonder ’n charger of boks of enigiets.

      Pa het nog gesê wag, laat ek net kyk wat hier aangaan, maar toe verstop ’n drein by die woonstelblok net langs die Akasia Mall, én ’n stormwatersloot voor ’n meenthuiskompleks nie ver daarvandaan nie. Die munisipaliteit het hom spesiaal laat kom, hy help hulle partykeer uit.

      Teen die tyd dat hy weer gesurface het (so to speak) het ek alles wat nodig was op die laptop gelaai en Marlie was op die kortlys vir die FBI-prys vir al die passwords wat sy opgesit het. Asof ek sou belang stel in haar goed. En ek gebruik in elk geval nog Pa se laptop as hy nie hier is nie, Ouma gebruik dit nie so baie nie.

      “Jou suster kon regtig maar hierdie laptop gekry het,” sê Ashish.

      “Dis orraait.”

      Marlie. Ek kou my onderlip. “Iets is nie lekker met Marlie nie,” sê ek. “Sy is baie vriendelik die laaste tyd.”

      “Vriendelik.” Ashish dink na. “Jy sal ’n bietjie moet uitbrei.”

      Ashish sal nie verstaan nie, hy het nie ’n suster nie. Of selfs ’n broer nie, hy is die enigste kind.

      “Dis ingewikkeld.” Ek staan op van die bed. “Kom ons kry iets om te drink. Hou jy van Fanta Grape? My ouma het ’n kis vol gekry op ’n special iewers.”

      “Fanta Grape sal lekker wees.” Ashish sit die laptop langs hom neer.

      Ek kyk op my horlosie. Amper tyd om aandete te begin, vanaand is dit gebraaide hoender en aartappels in die oond. Ek het gesê ek wil begin met gewone kos, met gewone name.

      “Ek het gehoor hulle gaan die games arcade by Akasia Mall toemaak ná die naweek,” sê Ashish terwyl hy my in die gang af volg. “Wat van ons gaan Saterdagoggend vir oulaas daar speel?”

      “Ons kan maar.” Ek was lank laas daar, ek speel deesdae net games by die huis, of by Ashish-hulle. Partykeer speel sy neef Ashit en ’n pel van hom saam met ons online, dis ook cool.

      Ek hou van games. Dis pret. En jy kry baie kanse.

      Marlie se kamerdeur is toe, maar mens kan stemme daaragter hoor.

      ’n Gilletjie. “You’re kidding me!” Dis Suzanne. Ek spits my ore. “Italië!”

      Ek buk om my been te krap sodat ek nog ’n paar sekondes kan luister. Mompel, mompel, giggel.

      Toe moet ek orent kom. In die kombuis kan mens niks meer uit Marlie se kamer hoor nie.

      Daar’s ’n sagte doef voor die agterdeur, toe nog een. Ek kyk op van waar ek voor die stoof staan. Dit sal Pa wees wat sy skoene uittrek. Hy is vroeg hier, hy sal seker aandete saam met ons eet.

      ’n Skim beweeg agter die dowwe glas, die deur swaai oop. Dit lyk of iemand ’n yslike sif bo Pa geskud het. Sy donker krulhare is grys gespikkel, sy hemp vol stof en vuil.

      “Jis-jis,” groet hy. Een van sy groottone steek deur ’n sokkie.

      “Het julle weer ’n geyser uitgehaal?” vra ek.

      “Ek sweer dis die oudste geyser wat ek nog gesien het. Sjeesj, hulle maak nie meer daai klas goed nie.” Pa se gesig vertrek, toe nies hy dat die kaste ratel. “Maar van die stof,” snuif hy. “En spinnerakke! Jy moet sien hoe het Frikkie gelyk. Hoessit hier?”

      Ek is nog halfpad met “Orraait” toe Pa sy duim lig. Hy loop verby my.

      “Spring gou deur die stort,” sê hy.

      Ek hoor hoe hy in die gang af roep na Ouma en Marlie. Net Marlie antwoord. Dalk is Ouma in haar kamer. Dit was eers ’n buitekamer met ’n badkamer, wat verbind is met die huis toe ek en Marlie te groot geraak het om ’n kamer te deel.

      Ek maak die oonddeur oop en loer in die oondskottel. Ooh, baby, come to Papa. Die hoender is bros gebak, die aartappels blink goudbruin. Die geur is hemels. Ek maak my oë toe om dit behoorlik in te snuif. Ek is só bly ek is nie ’n vampier nie.

      Die agterdeur kraak weer. Ouma sukkel die kombuis binne.

      “Omtrent ’n plaag van wurms in die tuin, sulke groot rooies,” sê sy omgekrap. “Ek weet nie waar hulle skielik vandaan kom nie.” ’n Spinnerak en droë blare klou teen haar skouer, bo-op ’n papegaai.

      “Hier’s iets op Ouma se hemp,” sê ek en trek dit versigtig af.

      Sy kyk af en vee oor haar skouer. “Dankie, Albert.”

      Ek kyk weer. “En Ouma se oorring is weg,” sê ek. “Hierdie oor,” wys ek. Ouma lyk ’n bietjie soos ’n seerower se ma, met haar papegaai-hemp en alles.

      “Ja, dit het in my kamer uitgeval,” sê sy en vat-vat aan haar oor.

      “Ek dink die kos is reg,” sê ek. “Pa is hier, hy het net gou gaan stort.”

      “Gaaf. Hy werk te hard, jou pa. As hy net wil ophou met die 24-uur-diens.”

      Sy kyk in die oond. Die vet in die bak spat gesellig.

      “Dit lyk goed, Albert,” sê sy en skakel die oond af. “Ons maak gou die slaai, dan sny jy die hoender op.”

      Raait. Ek het nog nooit hoender opgesny nie, maar ek kan probeer.

      “Vat net die regte mes.” Ouma grawe in die laai vir die mes wat sy altyd gebruik, die een waarop ’n samurai trots sou gewees het.

      Ek soek ’n slaaibak. Hoekom mense van slaai hou, kon ek nog nooit uitfigure nie. Wie het eerste na ’n haas gekyk en gedink sjoe, watter lieflike ore en awesome voortande, ek wil ook eet wat jy eet?

      Die slaaibak kry amper ’n ongelukkie toe ’n voël skielik agter ons begin tjilp.

      Ek swaai om. “Ouma?”

      Waar is die flippen voël?

      Ouma draf na haar handsak. “My nuwe ringtone,” sê sy. Sy vroetel in die sak om haar foon te kry. “Petro? Hallo.”

      Ek begin maar met die slaai. Tannie Petro is nooit haastig nie, en nou praat sy en Ouma eers oor die nagereg vir volgende week

Скачать книгу