Bambaduze. Derick van der Walt

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Bambaduze - Derick van der Walt страница 6

Bambaduze - Derick van der Walt

Скачать книгу

die skoene wat na mens ruik nie een prentjie wil word nie.

      Wanneer het sy pa soos water geword wat na niks proe nie? Was sy pa maar altyd so?

      Hy maak die kas toe en gaan sit op die groot bed met die roomkleurige duvet. Hy kyk deur die venster waar hy die sproeiers in die tuin hoor spuit. Piet is vandag hier, onthou hy. Die gras gaan gesny word en dan die kante. Die tuin gaan lyk soos die slag toe sy ma dit oorweeg het om vir ’n tuinkompetisie in te skryf.

      Hy draai na die ingeboude kas aan die linkerkant, naaste aan die venster. Sy ma se kas. Hy kyk aandagtig na die wit deur en die deurknoppe met ’n blommetjiepatroon wat sy nog spesiaal van iewers ver bestel het.

      Hy staan op en stap tot voor die kas. Huiwer voor die deur. Vat aan die blommetjieknop. Draai dan om en loop uit.

      In sy kamer gaan lê hy op die bed. Staar na die plafon. Kom ná ’n rukkie orent en gaan sit voor sy lessenaar. Maak Outlook oop. Hy dink eers en dan tik hy:

      Liewe Maanskyn

      Wimp het gister ’n spoedkaartjie deur die pos gekry. Moenie lag nie, ek wou ook eers.

      Ek is seker jy sou dit ook nie glo nie. Kan hy actually vinnig ry? Maar toe sien ek sy gesig. Dit het gelyk soos daai dag toe hy van die polisiestasie af gekom het.

      Onthou jy nog daai dag, of was dit toe al lekker pilletjie-pilletjie vir jou? Ek wou eers vir hom sê: Wimp, dis net ’n blerrie spoedkaartjie. Jy hét mos R500 vir ’n spoedkaartjie.

      Toe gaan sit hy by die kombuistafel en kyk lank na die suikerpot. Toe skuif ek liewer. Party issues is nie joune nie.

      Boetie

      (Onthou jy nog, of is ek nou confused? Was dit Ouma wat my so genoem het of was dit jy? Whatever. Boetie, nogal. Julle was oorspronklik.)

      Hy lees die boodskap ’n paar maal, sy vinger gereed op die stuurknoppie. Dan vee hy dit uit en skakel die rekenaar af.

      Hy gaan lê weer op sy bed.

      HOOFSTUK 8

      En dan land jy per ongeluk in die skool se swembad, in die tweede kwartaal van graad 11 toe jy sestien jaar en nege maande oud was.

      Net toe jy begin dink het dis nou verby: jy het nou die pogings om die bekers weg te dra, ontgroei.

      Die gestoei op die rugbyveld, die gekreun op die tennisbaan, die simpel gehollery saam met die res van die landloopspan tussen die jakarandabome en blaffende honde in Pretoria se strate. Dis vir altyd verby, dis agter jou, jy het dit nie meer nodig nie. Jy gaan nie eendag geraam met ’n stralekransie bokant jou kop teen die skoolsaal se muur hang nie, en dis lankal nie meer vir jou ’n issue nie.

      Die swemoefening so vroeg in die oggend was die nuwe modegier vir wanneer jou strafpunte by die skool kookpunt bereik het. Belaglik, soos baie dinge wat die powers that be in dié plek bedink.

      Maar jy hou jou in. Whatever. Jy was baie lanklaas in die swembad by jou eie huis. Swembaddens is nie eintlik meer jou ding nie.

      Bibberend staan julle in ’n ry op die rand van die swembad, die graad 11’s met die strafpunte wat so mooi aangeteel het. Hande oormekaar oor die crown jewels gevou, staar julle na die jong, fris onderwyser, die kampsersant wat swem afrig. As hy nie by die swembad rondhang nie, beman hy die IT-sentrum.

      Al is dit nou eers April, is dit koud. Die eerste periode van die dag om presies te wees, en die son het nog nie die skaduwees agter die swembad se hoë muur verdryf nie.

      Die jong Tarzan beduie soos ’n wafferse pro hoe die vryslag nou eintlik gedoen moet word. Hy was glo ’n stoeier, nie ’n swemmer nie, sê die ouens. Jy kan net sowel iets leer terwyl jy nou hier moet wees, sê Tarzan, al is jy ’n uitvaagsel wat jou pa se geld by hierdie plek mors – ’n hoogtepunt in die ontwikkeling van die samelewing.

      Jy luister nie, want jy stel nie belang nie. En jy kry dit reg, daar is geen klank nie. Net Tarzan se lippe wat oop en toe gaan terwyl hy beduie, soos in ’n animated storietjie op televisie. Jy pers jou lippe opmekaar sodat die sot nie moet sien jy wil vir hom lag nie.

      Maar toe jy die water tref, besef jy onmiddellik: dié slag is iets heeltemal anders.

      Tot jou verbasing is die water nie so koud soos jy verwag het dit gaan wees nie. Jy duik diep en skielik is dit reg om nóú hier te wees. Jy hoef na niemand te kyk nie, jy hoef met niemand te praat nie, dis net jy en die water wat jou ingesluk het, diep en koel. Jy ruik chloor en jy sien net vaagweg beweging weerskante van jou.

      Dan sien jy jy het die oorkantste rand van die swembad gehaal – ver voor die ander. Tarzan pluk jou uit die water uit en skree met sy gesig teen joune of jy dan nie een flippen woord gehoor het wat hy gesê het nie. Dis nie hoe jy vryslag doen nie. Maar dan kyk hy jou op en af en sê jy moet die volgende dag ná skool vir swemoefening aanmeld. Jy het potensiaal, sê hy. Waar was jy al die jare?

      Jy weet nie hoe om daaroor te voel nie. Maar skielik wonder jy of jy nie dalk effens dieper by hierdie plek kan trap nie. Dalk net. Maar jy dink nie jy gee regtig om nie.

      HOOFSTUK 9

      Jurie draai in by die klein sentrum in Lynnwoodweg. Enkele karre staan nog op die parkeerterrein. Daar sit nie meer veel mense by die eetplekke nie en die meeste winkels is al toe.

      Hy trek geld by die kitsbank en besluit om sigarette te koop en liewers vanaand die ryery te los. Hy is moeg en hy is teleurgesteld dat gisteraand se fliek saam met Louis en Belinda nie gehelp het om hom beter oor die lewe te laat voel nie. Miskien het hy tóg ’n bietjie na die aand saam met hulle uitgesien. En hy swem Saterdag sy eerste gala.

      Ná die enkele wedstryde teen die buurskole is dit ’n groot ligakompetisie. Hy moet dalk liewers ’n bietjie chill. Musiek luister en sy kop regkry vir oormôre se gala.

      Sy oog vang die wit Golfie wat eenkant staan, effens weg van die kitsbank. Die haartjies op sy arms begin kriewel. Hy loop verder. Gaan staan in die skaduwee van ’n pilaar en bekyk die omgewing. Dis te gevaarlik. Mense in die restaurant aan die oorkant sal hom sien.

      Hy steek sy laaste sigaret aan en hou die wêreld deur skre­fiesoë dop. Dis peanuts om ’n Golfie oop te maak. Veral so ’n ou model. Hy kyk na die paartjies wat gesellig in die restaurant langs die vensters sit. Niemand kyk in die rigting van die parkeerterrein nie. Diep in gesprek en diep in mekaar se oë.

      Daar staan net ’n paar karre op die parkeerterrein. Hy voel hoe die adrenalien deur sy are vloei. Hy kyk weer na die mense in die restaurant, toe weer na elke uithoek van die parkeerterrein. Nou en dan ry ’n kar in Lynnwoodweg verby. Geen voetgangers op die oorkantste sypaadjie nie.

      Hy maak sy oë toe en tel tot tien. As hy ná die tiende telling nog lus het vir die kar sal hy dit doen, besluit hy. Maar hy weet reeds. Toe hy by “agt” kom, maak hy sy oë oop en stap na sy motorfiets. Hy haal die handskoene en die Allen key uit die fiets se bagasiebak.

      Hy kyk rond terwyl hy na die Golf stap, maak weer seker daar is niemand op die parkeerterrein nie. Hy voel aan die handvatsel aan die bestuurskant en druk die Allen key vinnig in die slot. Hy maak die deur oop. As iemand hom dophou, moet hy soos die kar se eienaar lyk. Moenie nou omkyk nie. Klim rustig in.

      Leë koeldrankblikke en sigaretboksies lê die Golf vol. Die kar ruik na rook. ’n Student, dink

Скачать книгу