Bambaduze. Derick van der Walt

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Bambaduze - Derick van der Walt страница 7

Bambaduze - Derick van der Walt

Скачать книгу

volgende oomblik pluk iemand die kar se deur oop en gryp sy arm vas. “You little bugger. Got you!”

      Jurie pluk paniekerig om sy arm los te kry. Hy kan nie sien wie hom beet het nie, die gesig is ’n donker kol in die lig wat van agter skyn. Toe sien hy die knuppel wat langs die man se sy hang. Veiligheidswag.

      Die man pluk hom uit die kar.

      “I’ve lost the key! It’s my car!” probeer Jurie.

      Die wag vat al twee sy polse met een hand vas terwyl hy ’n radio uit sy sak haal en na sy mond bring. Jurie sien hoe mense buite die restaurant begin nader staan. Hy probeer sy arms uit die wag se greep pluk, maar die man hóú.

      Jurie gee weer ’n harde pluk en die radio kletter op die teer neer. Die wag is vir ’n oomblik van stryk gebring en Jurie pluk met alle mag. Die wag laat los en gryp na sy knuppel. Toe hardloop Jurie. Hy storm blindelings in die rigting van Lynn­woodweg.

      Hy hoor die wag se asemhaling gevaarlik naby agter hom, maar hy kyk nie om nie. Kyk net skrams vir aankomende verkeer terwyl hy vir sy lewe oor die straat hol. ’n Motor mis hom net-net. Die bestuurder toet.

      Toe Jurie die oorkantste sypaadjie haal, kyk hy in die hardloop oor sy skouer. Die wag het gaan staan. Hy skree iets agter hom aan en beduie woes. Jurie hardloop oos in Lynnwoodweg en by die eerste dwarsstraat draai hy regs. Eers toe hy die veiligheid van ’n kol bome bereik, gaan hy staan, sy hande op sy knieë. Hy haal swaar asem, kyk behoedsaam in die rigting van Lynnwoodweg. Nou en dan ry ’n kar verby, maar niemand draai regs in die dwarsstraat nie. Hy sak met sy rug teen ’n boom af. Dit lyk of hy dit gemaak het.

      Sy motorfiets, onthou hy dan. Dit staan hopelik nog langs die kitsbank – as iemand anders nie intussen planne daarmee gehad het nie.

      Oorkant die straat is ’n kantoorgebou. Hy steek die straat oor en gaan sit in die skadu van ’n muur om te dink. Hy sal reg om die blok moet stap en die sentrum van agter af moet nader, besluit hy.

      Hy stap eers nog ’n hele ent oos met Lynnwoodweg voordat hy die straat oorsteek en die sentrum langs die Tukkies-koshuise aan die agterkant nader. Van agter ’n paar struike aan die westekant van die sentrum bespied hy die parkeerterrein. Hy kan sy motorfiets langs die kitsbank sien staan. Die veiligheidswag is nêrens te sien nie. Die Golfie is weg.

      Enkele mense sit nog by die opelugrestaurant links van hom. Hy sien die veiligheidswag op die stoep voor die winkels, maar die man stap weg van hom af. Jurie loop vinnig na sy motorfiets. Stoot dit ’n ent en bid dat die wag nie nou moet omkyk nie.

      Die wag gaan staan en praat oor sy radio, sy rug steeds na Jurie gekeer. Toe hy die wag nie meer kan sien nie, skakel hy die motorfiets aan en laat wiel. Eers toe hy naby Menlopark Hoërskool is, begin hy stadiger ry.

      Hy stop by die vulstasie oorkant die skool en sit ’n oomblik op sy fiets, haal diep asem. Hy gaan koop sigarette by die kiosk. Sukkel om die geld uit sy beursie te haal. Sy hande bewe.

      Hy rook ’n sigaret staande langs sy fiets buite die vulstasie se verligte terrein.

      Close shave, but no cigar, Jurie Viljoen, sou sy ma gesê het.

      HOOFSTUK 10

      Jurie kan sien Tarzan is dikbek. Die spierman staan hande in die sye in die kleedkamer na hom en kyk.

      “Ek dink ek moet swem soos dit vir my werk,” sê Jurie.

      Die ander ouens is al almal weg en hy het geweet hy gaan ’n preek kry toe Tarzan sê hy moet agterbly.

      “Jy kan dit nie swem noem nie, dis ’n gesplash. Dis hoe kindertjies swem as hulle begin. Jy maak te veel geraas en jy mors jou energie op al die gesplash. Jy kan beter doen as jy dit stiller doen.”

      Hoekom lyk die man so moedeloos? wonder Jurie. Dis net swem, nie ’n oorlog in die Midde-Ooste wat gewen moet word nie.

      “Maar ek kry darem ’n plek as ek dit doen soos dit vir my reg voel,” sê Jurie. “Dis nou al ’n jaar en ek gáán dit nie anders kan doen nie. Daar is net ’n paar maande oor, dan is die seisoen verby en dan is ek nie meer in hierdie skool nie. So wat’s die issue nou eintlik hier?”

      Tarzan sug. “Dis nie die punt nie. Jou tegniek is verkeerd. Jy kan wén as jy dit reg doen, nie net ’n plek kry nie. Jy het iets wat baie van die ander wat al jare lank swem nie het nie. Instink, en jy verstaan die water, maar jy mors jou energie op die verkeerde goed. Vertrou my hier.”

      Jurie antwoord nie. Pak vies sy goed in sy sportsak.

      Tarzan sug weer. “Ek gee op. Maak soos jy wil.”

      Hy skakel die kleedkamer se lig af. Hulle staan ’n oomblik in die donker. Jurie hoor hoe Tarzan by hom verby skuif. Tarzan maak die deur oop en stap uit in die lig. Blou swembad op die agtergrond, blou tupperware-kosblik onder die arm vasgeknyp, die kort lyf effens vooroor gebuig.

      Is dit regtig dít vir Tarzan? wonder hy. Soos vir juffrou Sadie? Hier sit jy en dis dit. Jy hoop ’n spul simpel kinders gaan swem soos jy dink hulle moet en soos jy hulle uit ’n handboek probeer leer. Partymaal wen hulle ’n paar medaljes en mense sê jy’s darem ’n aanwins vir hierdie moerse skool. Of jy piepie jou nat oor Macbeth. Dan sê ’n skynheilige bliksem sjoe, juffrou, maar dis ’n goeie drama en jou mond hang oop.

      Dis nogal sad verby, dink Jurie terwyl hy sy sweetpak in die donker aantrek. Is dít hoe die wêreld werk? Jy moet net klou, anders val jy af. Jy kry ’n swemspan soos Tarzan en dan word dit jou lewe. As hulle wen, wen jy ook, en as hulle verloor, dan is jy depressed verby, asof dit jý is wat verloor het.

      Daar moet meer wees, maar hy weet nie waar om daarvoor te gaan soek nie. Hy het gedink goed werk op ’n sekere manier, maar toe nie. Hy sukkel om sy kouse en tekkies in die donker raakgevat te kry. Tarzan het aspris die lig afgesit, besef hy. Dis sy straf omdat hy nie maak soos die man wil hê hy moet maak nie.

      Soos baie van die onsinnige strawwe wat kamstige grootmense by hierdie plek bedink vandat hulle jou nie meer teen die kop mag klap nie. Hy sien dikwels hoe van die onderwysers hulle moet inhou om jou nie aan te rand nie. Hy sou eerder ’n klap teen die kop verkies het as die onsinnige goed wat hulle uitdink vir straf – om jou onthalwe, natuurlik. Goed wat hom net mooi niks van hierdie lewe gaan leer nie.

      Miskien is dit goed dat hy tot vandag gewag het om vir Tarzan te sê, dink Jurie toe hy Saterdagoggend in sy bed lê. Met sy hande agter sy kop hou hy die geitjie dop wat roerloos teen die plafon sit. Staar die geitjie ook na hom?

      Hy wou al vroeër die week sy farewell speech vir Tarzan gedoen het. Dis nie dat hy die span wil drop nie, en hy twyfel soms oor sy besluit, maar hy dink hy weet wat hy moet doen. Dis te laat vir bekers wegdra, al het hy die span gehaal. Hy kan nie saam met die beste ouens in die span swem nie. Hulle tegniek is goed, hulle doen dit al van graad 8 af. Op sy beste kan hy net help om die aflosspan te laat wen. En die paar derde of vierde plekke wat hy vir vryslag op sy lysie kan skryf, beteken ook maar net ’n paar punte vir die span. Geraam teen die saal se muur sal dit nie vir hom wees nie.

      Hy sal vanmiddag ná die gala vir Tarzan sê dis baai-baai swem vir Jurie Viljoen. Hy gaan nie meer goed doen wat hy nie wil doen nie. Hy dink steeds hy sal beter vaar as hy swem soos dit vir hom werk en nie volgens Tarzan se tegniek nie. Dit werk eenvoudig nie vir hom nie. So, hy sal maar agter die ander aanplas, met Tarzan wat moedeloos na hom kyk.

      Die meeste ouens is reeds daar toe hy agtuur

Скачать книгу