Ena Murray Keur 5. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 5 - Ena Murray страница 15

Ena Murray Keur 5 - Ena Murray

Скачать книгу

– iets waarvoor almal, veral die twee dokters, Magriet baie dankbaar is.

      Ná middagete moet Thero weer rus tot omtrent vieruur die middag. Dan is Magriet vry om te doen wat sy wil en hoewel sy hierdie tyd die eerste ruk maklik verwyl met lang wandelinge en interessante boeke, besef sy dat sy iets sal moet vind om haar mee besig te hou.

      Om vieruur stap sy weer Thero se kamer binne en bly daar tot ná aandete. Om agtuur word Thero gereed gemaak vir die nag en dan keer Magriet terug na haar eie kamer om haar maar tot slapenstyd besig te hou met naaldwerk of lees. Ron loer dikwels in wanneer hy nie diens doen nie en dan is Magriet innig dankbaar vir sy geselskap. Daar ontwikkel ’n hegte kameraadskap tussen dié twee. Ron weet dat Magriet nie meer as vriendskap van hom verlang nie, en Magriet is heeltemal bewus van die feit dat haar pragtige niggie die jong dokter se hart volkome verower het. Daarom kan hulle mekaar se geselskap ten volle geniet sonder vrees vir dieper komplikasies.

      Van dokter Fraser sien Magriet baie min, en sy is bly daaroor. Afgesien van die een keer dat sy hom koelweg vir die rose bedank het, het hulle mekaar nog nie weer van aangesig tot aangesig gesien nie. By daardie geleentheid het hy haar fronsend aangekyk, toe sy wenkbroue effens gelig en haar ewe ernstig verseker dat dit ’n plesier was, en haar geïgnoreer.

      Oom Dirk en tant Estelle, Thero se ouers, het, nadat hulle die nuus ontvang het dat hul dogter maande lange behandeling op Abendruhe sal moet ontvang, laat weet dat hulle so gou moontlik self daarheen sou kom. Maar hiervoor het dokter Fraser ’n stokkie gesteek. Hy het hulle meegedeel dat ’n besoek hul dogter in hierdie stadium meer kwaad as goed sal doen; dat Thero die eerste paar weke alleen gelaat en van elke moontlike ontsteltenis gevrywaar moet word. Hulle moes maar hiermee vir lief neem en tevrede wees met die weeklikse oproepe van Magriet waarin sy hulle van Thero se herstel op die hoogte hou.

      Twee weke gaan so verby en Magriet is weer, soos gewoonlik, langs Thero se bed getrou op haar pos om die lang vervelende ure vir haar niggie te probeer veraangenaam, toe Ron ook binnekom.

      “Ons pasiënt raak elke dag mooier, nè, Magriet?” sê hy opgewek terwyl sy blik teer op die jong meisie in die bed rus.

      Magriet speel saam hoewel sy onrustig voel. Die arme Ron. Hy is smoorverlief op Thero – en sy kan hom dit nie kwalik neem nie. Soos Thero daar bleek en klein in die wit hospitaalbed lê, besit sy ’n eteriese skoonheid wat geen man van vlees en bloed sal kan weerstaan nie. Soos Thero nou daar uitsien, sal sy die beskermingsdrang van die gehardste vrouehater opwek – en Ron is ’n doodnormale jong man, bitter jonk en onervare.

      Hoewel Thero nog altyd vriendelik teenoor hom was, weet Magriet dat sy die jong man se openlike verliefdheid net amusant vind. Magriet is seker daarvan dat Ron nog gaan seerkry, maar daar is niks wat sy kan doen om dit te voorkom nie. Miskien moet sy dit tog waag om op ’n taktvolle manier dit vir hom aan die verstand te probeer bring dat hy nie te veel van Thero se kant moet verwag nie. Sy beskou sy geselskap net as ’n aangename tydverdryf solank sy hier in die hospitaalkamer afgesonder is. As sy hom onder gewone omstandighede moes ontmoet het, sou sy nie twee keer na hom gekyk het nie.

      ’n Oomblik later verskyn dokter Fraser ook skielik langs die bed. Magriet hou sy gesig onwillekeurig dop. Daar is egter niks op sy gelaat wat haar vertel dat hy meer as net professionele belangstelling vir sy pasiënt het nie. Wat Magriet wel opmerk, is dat Thero skielik alle tekens van verveeldheid verloor en opmerklik ophelder. Dit laat Magriet se gevoel van kommer verdiep.

      Hulle drie stap ’n rukkie later saam die kamer uit. In die gang draai Ron na sy senior.

      “Ek hou môreaand ’n partytjie in my woonstel. As jy lus het om te kom, is jy baie welkom, dokter.”

      “Dankie, maar dokter Pienaar kom môreoggend assisteer. Indien hy lus voel, mag ek hom seker saambring, of hoe?”

      “Maar natuurlik.” Hy draai na Magriet. “Die partytjie is eintlik om jou die geleentheid te gee om ons personeel beter te leer ken, Magriet. Dit sal gaaf wees as dokter Pienaar ook hier gaan wees. Dan kan jy sommer met die derde van ons driemanskap kennis maak. Jy sal van hom hou.”

      “Ja. Van hóm sal sy hou,” laat dokter Fraser hoor en Magriet kyk vinnig na hom.

      “Hoekom is jy so seker dat ek juis van hóm sal hou?” vra sy reguit.

      Hy kyk op haar af, die wenkbroue weer opgetrek.

      “Geen diepsinnige rede nie, juffrou. Jy soek altyd dieper betekenis in alles wat ek sê, nè? Ek het dit maar net gesê omdat ek nog niemand ontmoet het wat nié van Lukas Pienaar hou nie.”

      Teen haar sin voel sy hoe sy bloos. Sy trek haar skouers onbewustelik agteroor op ’n wyse wat Emile Fraser al leer ken het. Die meisietjie maak haar al weer slaggereed, dink hy geamuseerd. Tergend praat hy oor haar kop met Ron: “Snaaks dat ek altyd juffrou Marais se veginstink wakker maak!”

      Ron kyk glimlaggend af op die ontstoke gesiggie tussen hulle en sê versigtig: “Het jy nog nie die rose gestuur nie? Dalk help dit!”

      “Helaas, my jonge kollega! Sy het net die dorings raakgesien! Ek het baie mooi om verskoning vir hul aanwesigheid gevra, maar ek wonder of ’n kaktusplantjie nie meer gewaardeer sou word nie.”

      Magriet lig haar ken en kyk hulle beurtelings uit die hoogte aan.

      “As julle jul grappie ten koste van my klaar geniet het, sal ek maar goeienag sê. Terloops, Ron, praat net as daar iets is waarmee ek kan help met die partytjie.”

      Maar terwyl sy wegswaai van hulle af en na haar kamer koers kry, moet sy onwillekeurig glimlag toe die aandluggie Emile Fraser se hartlike lag na haar aandra. Werklik, ’n mens weet nie hoe jy dit met dié man het nie. Jy weet nooit wat om van hom te verwag nie. Thero sal darem ook hierdie keer agterkom dat sy ’n ander soort vis as dié waaraan sy gewoond was, aan die hoek het – dit wil sê, as Emile Fraser hom laat vang. En tog, hy is ’n mens – ’n mansmens boonop. Die een of ander tyd sal hy voor haar aanslae moet swig, en dat Thero wel sulke planne in die mou voer, is vir Magriet maar te duidelik.

      Sy skud haar skouers ongeduldig asof sy die kommer van haar wil afskud. Sy het tog niks met hulle uit te waai nie. Hulle is al drie grootmense wat seker sonder haar hulp of inmenging hul eie heil kan uitwerk. En as een of meer in die proses seerkry, kan sy ook niks daaraan doen nie.

      Solank sy self net buite die kring staan.

      Tot almal se verbasing en verrassing gee dokter Fraser sy toestemming dat Thero, al is dit net vir ’n halfuur en as toeskouer, Ron se partytjie mag bywoon. Magriet het gedink dis net sy wat weet hoe bitter verveeld Thero is en sy het al gewonder of die afsondering en gedwonge niksdoenery nie meer kwaad as goed aan haar niggie doen nie. Maar dokter Fraser moet haar rusteloosheid ook opgemerk het – daarom sy verrassende voorstel. Hoe hy dit agtergekom het, weet sy nie, want Thero is altyd stralend wanneer hy die kamer binnekom. Sy wonder of daar iets is wat sy skerp arendsblik ooit ontgaan, en of hy dus ook bewus is van die feit dat sy pasiënt meer as net die gewone belangstelling in hom koester. As hy so iets agtergekom het, laat hy niks blyk nie.

      Magriet maak vroeg die aand klaar. Haar spieël vertel haar dat sy baie mooi lyk. Sy was maande laas op ’n partytjie en sy sien werklik uit na die aand. Sy besef nou eers watter neerdrukkende uitwerking die afgelope weke ook op haar gehad het – veral die lang ure in Thero se hospitaalkamer waarin sy haar bes moes doen om die tyd vir die pasiënt aangenaam te laat verbygaan.

      Dan stap sy oor na die hospitaal om Thero te help om haar ook gereed te maak. Hoewel dokter Fraser beslis geweier het dat sy haar mag aantrek, dink Magriet dat Thero beswaarlik meer indruk sou kon gemaak het met ’n rok as wat

Скачать книгу