Ena Murray Keur 5. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 5 - Ena Murray страница 18

Ena Murray Keur 5 - Ena Murray

Скачать книгу

kyk hom verbaas aan, die wind effens uit haar seile. “Nee. Hoekom?”

      “Ek het maar net gewonder of jy jou dreigement van nou die middag gaan uitvoer en beswyk.”

      Sy verstyf merkbaar, maar aangesien hulle omring is van mense, bly sy hom ’n antwoord skuldig en draai net haar rug kil op hom. Maar hy laat haar nie wegkom nie. ’n Hand sluit stewig om haar boarm en hy trek haar in die rigting van die deur.

      “Kom.”

      Sy rem terug. Sy wil dit nietemin darem nie so openlik doen dat dit die aandag van die ander mense trek nie, maar haar oë skiet vuur. Die volgende oomblik word haar handsak in haar hand gestop, die stola om haar skouers gehang en weer sluit die vingers stewig om haar boarm.

      “Wat presies is die bedoeling hiervan?” fluister sy met ’n kil stemtoon toe die aandluggie aanwaai teen haar wange wat van woede gloei.

      “Jy het nog nie my huis gesien nie, het jy? Ons is op pad daarheen om te gaan koffie drink.”

      “Is ons? Werklik, dokter, jy matig jou darem baie aan. Ek is ’n gas van Ron, en ek gaan nie sommer ongesiens en sonder ’n woord van sy partytjie af verdwyn nie.”

      “Jy het genoeg partytjie gehou vanaand. Ek sal môre self by Jooste verskoning maak vir ons twee se … e … skandalige gedrag. Maar ek kan nie langer wag nie. Ek moet môreoggend ná die operasie Simonsvlei toe. Ons sal nie gou weer die geleentheid kry om te gesels nie.”

      “Ek kan regtig nie dink aan enigiets waaroor ons twee kan gesels nie, dokter. En los asseblief my arm.”

      “Maar ék kan aan heelwat dink om oor te gesels, en ek kan jou arm nie los nie, want dit is donker en jy kan struikel.” Skielik doem ’n lae gebou voor hulle in die donker op en hy sê: “Dis jammer dis so donker. Jy moet eendag na my tuin kom kyk. Dis op die oomblik ’n lushof. Maar jy kan darem seker die geure ruik – veral dié van die rose … met die dorings!”

      Magriet bewaar liewer die swye voordat sy dalk heeltemal uit haar humeur uit raak en laat haar nou gedwee deur die sterk arm na die voordeur lei. ’n Sagte grom uit die donker laat haar egter in haar spore verstyf. “Dis Baron,” sê hy. “Verskoon maar sy onvriendelike verwelkoming. Hy is nie gewoond daaraan dat ek dié tyd van die nag met vreemde dames hier aankom nie.”

      “Werklik? Moet ek geëerd voel?”

      “Nie noodwendig nie. Die ander het ek altyd so vroeg in die aand gebring.”

      Sy trek haar asem skerp in en probeer haar arm uit sy greep loskry, maar sy vingers sluit met gemaklike krag net vaster.

      “Kom nou, Magriet. Moenie kinderagtig wees nie. Dis te laat in die nag daarvoor.”

      “Ek gaan nie hier in nie.”

      “Moenie jouself vlei nie, juffrou Marais. Jy is heeltemal veilig!”

      Ná hierdie verdoemende woorde is Magriet sprakeloos. Die volgende oomblik word sy ’n donker vertrek binnegelei. ’n Oomblik later skakel hy ’n sagte lig aan. Dat Emile Fraser ’n man is met fyn ontwikkelde smaak, ly geen twyfel nie, besef Magriet toe sy baie teen haar sin aan haarself moet erken dat sy lanklaas so ’n rustige en smaakvolle vertrek gesien het.

      “Wel?” Sy wenkbroue is vraend gelig terwyl hy haar staan en beskou waar sy weer op haar beurt die vertrek openlik staan en bestudeer.

      “Ek sou dit nie kon dink nie,” sê sy sag. “Ek het eintlik verwag om alles in rooi aan te tref.”

      Hy lyk eerlik verbaas. “Hoekom?”

      “Om by jou humeur te pas.”

      Hy lag saggies en wys na ’n stoel. “Hoekom dink jy so min van my?”

      “Dis vir jou ’n rariteit dat iemand ’n swak dunk van jou het, nie waar nie, dokter Fraser? Jy is gewoond daaraan dat almal siek van bewondering vir jou is. Daarom kan jy nou net nie glo dat daar iemand kan wees wat dit durf waag om anders oor jou te voel nie, nè?”

      Magriet weet nie wat haar makeer nie. Dis sommer asof die woorde vanself uitborrel. Maar dis sy eie skuld. Dis hy wat die katterigheid in haar uitbring. Sy weet net nie hoekom nie.

      “Is jy so giftig teenoor my omdat ek die waarheid praat? Omdat ek nie doekies omdraai nie?”

      “Jy praat nie die waarheid nie, dokter. Jy kom tot gevolgtrekkings voordat jy al die feite ken. Wat die doekies omdraai betref – ’n mens kan reguit wees sonder om ander te na te kom. Ek dink hulle noem dit ‘takt’. Ek twyfel of jy al van daardie woordjie gehoor het.”

      “Die woordjie ‘takt’? O ja! Die lewe het my weer geleer dat dit ’n mooi benaming vir oneerlikheid is.”

      ’n Oomblik kyk hulle mekaar stil aan. Dan tel Magriet haar handsak op en kom orent.

      “Ons twee sal mekaar nooit vind nie. Dis sinneloos om woorde heen en weer na mekaar te slinger. Goeienag.”

      Maar hy is vinniger as sy en is reeds by die deur toe sy daar kom.

      “Ek het nog nie klaar gepraat nie. Ek het nog nie eens begin sê wat ek wou sê nie.”

      Magriet besef dat teëstribbeling haar nêrens sal bring nie. “Dan moet jy gou maak, dokter. Ek wil gaan slaap.”

      “Dankie. Om tot die punt te kom: ek wil jou vra om Ron Jooste uit te los.”

      “Ekskuus?” vra sy stadig, nie seker of sy haar eie ore kan vertrou nie.

      “Jy het gehoor wat ek gesê het. Los Ron Jooste uit – ter wille van jou niggie.”

      “Wat het Thero met die saak te doen?” vra sy reguit, heeltemal verward. Dis tog so duidelik soos daglig dat Thero geensins belangstel in die jong dokter nie.

      “Jooste se gevoel vir jou niggie was baie duidelik vir almal om te sien totdat jy jou bes begin doen het om hom af te rokkel.”

      “Wag so ’n bietjie!”

      “O, ja, dis waar. Kyk dan na jou gedrag vanaand op die partytjie …”

      “En hoe het ek my gedra?”

      Hy is heeltemal koud gelaat deur die skaars onderdrukte woede in haar.

      “Jooste het die hele tyd net met jou gedans terwyl julle mekaar met skaapoë aangestaar het en dit terwyl Thero hulpeloos moes sit en toekyk. Jy behoort jou te skaam! Die kern van Thero se herstel lê daarin dat sy iemand kry wat haar weer belangstelling in die lewe gee, iemand wat vir haar omgee en dit toon.”

      “En Ron Jooste is na jou mening die aangewese man vir dié taak?”

      “Hy is so goed soos enige ander. Natuurlik sal dit nie blywend wees nie, maar tot tyd en wyl …”

      “O, jy maak my siek!” bars Magriet los. “Watter reg het jy om ander mense se lewens te reël? En nou wil jy jou nog die reg toe-eien om selfs hul gevoelens te beheer! Ron moet op Thero verlief raak net omdat jy sê hy moet en omdat Thero, na jou mening, iemand op die oomblik nodig het. Wanneer sy dan herstel het, kan Ron maar waai.

Скачать книгу