Ena Murray Keur 5. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 5 - Ena Murray страница 16

Ena Murray Keur 5 - Ena Murray

Скачать книгу

arms op toe hy hulle kom haal en dra haar na sy woonstel, ongeag die geamuseerde blikke van die personeel in die gang.

      Magriet volg hulle op ’n afstand, terwyl sy met kommer die jong dokter dophou wie se gevoelens so onmiskenbaar is.

      Dan is dokter Fraser ook skielik by hulle. “En wat gaan hier aan? Hoe lyk dit vir my jy loop met een van my pasiënte weg, Jooste?”

      Ron raak laggend iets kwyt en dan stel Emile die middeljarige man aan sy sy voor.

      “Ontmoet dokter Lukas Pienaar. Die meisie wat dokter Jooste soos ’n kosbare kleinood vashou, is Thero van Zyl. En daardie een,” en hy wink na Magriet wat onwillig nader kom, “is Magriet Marais, die …” Hy aarsel en twee paar oë ontmoet mekaar vlugtig. Magriet is seker hy wil sê “vuurvreter”, maar sy is reg vir hom. Laat hom dit net kwytraak!

      “Die wat?” vra die vreemde dokter laggend.

      Dokter Fraser voltooi die sin droogweg terwyl hy onskuldig vraend na Magriet se uitdagende ken kyk: “Die niggie, natuurlik.”

      Magriet slaak ’n sug en draai na die vreemdeling. Daar is niks opvallends aan Lukas Pienaar nie, maar tog trek die vriendelike innemendheid wat van hom uitstraal ’n mens dadelik aan.

      Ron herinner sy twee kollegas daaraan dat hulle beloof het om sy partytjie by te woon en Lukas Pienaar antwoord: “Ek wil net gou die pasiënte van môre gaan ontmoet. Ons sal beslis inloer.” Dan voeg hy skertsend by: “Dit wil sê as Magriet Marais, die niggie, versigtig sal wees met my ou rumatiekbene en pynende liddorings!”

      Die twee dokters staan die optoggie ’n rukkie agterna en kyk.

      “Oulike meisie daardie,” merk die ouer dokter dan op. Emile Fraser se wenkbroue lig op.

      “Ek het nie geweet jy het nog ’n oog vir ’n mooi vrou nie, kollega.”

      Lukas Pienaar laat nie op hom wag nie.

      “Ek is miskien al oud, maar darem nog nie blind nie! Ek praat ook nie van die blonde pop in Jooste se arms nie. Sy is ’n beeldskone waspop, maar die niggie is ’n pragtige mens. Wat wou jy eintlik sê toe jy haar voorgestel het?”

      “Ek wou sê die vuurvreter!”

      Lukas Pienaar lag sy hartlike, vrolike lag.

      “Sy was reg vir jou! Jy het jou net betyds bedink. Ja, sy is ’n lieflike kind. Thero van Zyl se skoonheid tref jou amper soos ’n skok. Maar die niggie se skoonheid is blywender, iets wat hoe langer hoe meer boei.”

      Dokter Fraser se gedagtes het egter in ’n ander rigting koers gekry.

      “In verband met meneer Bester, môre se operasiegeval …”

      En aan die agterkant van die gebou is die partytjie reeds in volle swang. Magriet is verbaas om soveel jong mense daar bymekaar te sien. Sy het al opgemerk dat die grootste gedeelte van die personeel aan die ouerige kant is en sy het dit toegeskryf aan die feit dat Abendruhe so afgesonderd is. Maar vanaand ontmoet sy hier ook ’n paar jong mense, soos ’n paar van die verpleegsters, die rekenmeester en sekretaris van die hospitaal, asook twee pasiënte wat op vertrek staan.

      Hulle is ’n vrolike groepie bymekaar en Magriet geniet die aand terdeë, totdat sy Thero se gesigsuitdrukking gewaar. Sy stap vinnig nader, effens skuldig omdat sy haar laat intrek het by die ander geselskap terwyl Thero doodstil in die een hoek moet sit. Sy is klaarblyklik so verveeld dat Magriet eintlik ongemaklik rondkyk of daar nie van die ander gaste is wat dit ook opgemerk het nie. Sy bid dat Ron nie nou na hul kant toe moet kyk nie. Dis egter ’n saak van onmoontlikheid om Thero se onvergenoegdheid en verveling so goed weg te steek dat Ron dit nie agterkom nie, sodat hy die ware toedrag van sake gou agterkom. Magriet sien die ongelukkigheid in sy oë en sy besef dat dit hom diep seermaak dat die meisie van sy hart so klaarblyklik geen belangstelling in hom of sy partytjie toon nie.

      Skielik vererg Magriet haar bloedig vir hierdie bedorwe niggie van haar en neem haar op die plek voor om nie toe te laat dat Thero die aand bederf nie.

      “Is daar dan nie belowe dat hier vanaand ook gedans gaan word nie?”

      Sy pyl nou doelbewus op Ron af, haar stem opgewek. Ron sit sy glasie neer en glimlag, maar sonder sy ou spontaneïteit.

      “Beslis, meisie. Kom ons gaan soek die eerste dansmusiek uit.”

      Solank as wat hulle daarmee doenig is, is dit stil tussen hulle. Toe die eerste vrolike klanke opklink, begin hulle dadelik dans. Dan, teësinnig maar asof hy homself nie kan keer nie, merk hy op: “Dit lyk nie asof Thero die partytjie juis baie geniet nie. Miskien was dit ’n fout om haar te laat kom.”

      Magriet byt op haar onderlip en sê dan: “Sy is nog baie swak en natuurlik is dit vir haar moeilik om nie self aan die partytjie deel te neem nie – veral vir haar wat maar altyd die siel van so iets was.” Magriet kyk in Thero se rigting en sien die vies gesig wat haar niggie trek nadat sy ’n teugie van haar vrugtedrankie geneem het. Sy lag verleë, want sy weet Ron het dit ook gesien. “Dan, natuurlik, hou sy niks van daardie koeldrank wat sy nou daar vashou nie. Thero is aan iets sterkers gewoond.”

      Ron kyk vinnig op haar af. Daar is ’n diep frons tussen sy oë.

      “Sy mag geen alkohol inneem in haar toestand nie. Neem sy dikwels drankies?”

      “Gewoonlik op partytjies – maar almal drink mos maar ’n drankie of wat op partytjies,” keer sy vinnig, maar die frons bly tussen sy wenkbroue.

      “Soos ek van haar praat kon aflei, was sy omtrent elke aand op ’n partytjie. Met ander woorde, sy moet baie alkohol gebruik het. Sy het seker baie bewonderaars, nè, Magriet? Ek bedoel, ’n meisie soos sy sal seker nie veel aandag aan ’n … ’n jong doktertjie soos ek skenk nie, nie waar nie?”

      Magriet kyk op na hom, maar hy kyk nie na haar nie. Hy staar somber oor haar kop in die rigting waar Thero verveeld sit en luister na die geklets en gelag om haar. Magriet aarsel en besluit dan dat die waarheid tog die beste uitweg sal wees.

      “Ja, Ron. Sy het baie bewonderaars. Ek sê nie sy sal nie aandag aan ’n man soos jy gee nie, maar ek dink nie jy moet jou hart heeltemal op haar verloor nie. Ek sou nie graag wou sien dat jy … seerkry nie.”

      Hy kyk af na haar en glimlag skeef.

      “Hoeveel van Thero se verslae bewonderaars moes jy al troos, Magriet?”

      Sy frons en verstyf in sy omarming.

      “Ek weet nie wat jy bedoel nie. Ek is jammer as jy my verkeerd verstaan het of dink ek was voorbarig …”

      “Dis ek wat om verskoning moet vra, Magriet,” sê hy vinnig. “Ek is seergemaak en toe haal ek dit op jou uit. Dis vriendelik van jou om my te waarsku en ek weet jy het gelyk. Ek is ’n sot om my hart op jou pragtige niggie te verloor, maar daar het jy dit.”

      Magriet kry hom innig jammer.

      “Miskien sal Thero nou begin verander, Ron. ’n Mens weet nooit nie. Wie weet, miskien is jy nog die een wat haar hart werklik gaan raak.”

      Maar hy skud sy kop.

      “Nee, Magriet, ek weet nou ek is nie die een wat tot haar hart sal deurdring nie – nie met ’n man soos Emile Fraser

Скачать книгу