Hartklop Omnibus 1. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 1 - Malene Breytenbach страница 15

Hartklop Omnibus 1 - Malene Breytenbach

Скачать книгу

moet die leiding neem en kophou, asof sy al lank in die land en baie ervare is. Haar handlangers – die studente-interns, wat hulle essies noem – moet vorms invul, x-strale neem, monitors opsit, bloed trek en bloeddruk neem. Die verpleegsters gee inspuitings. Sy en die ander kliniese assistente moet egter die operasies doen, en die krisisse en komplikasies hanteer. Meesal kontak hulle nie eens die konsultante of professore wat aan diens is nie, want daar is eenvoudig nie tyd nie. Hulle moet maar net self regkom.

      Daar is boonop ’n tekort aan personeel en daarom gaan dit vir haar meer druk as in die Londense hospitaal. Soms is die sale stampvol en moet vroue twee-twee in ’n kamer kraam. Brenda kry oefening van hardloop deur die lang gang met sy vier kamers vir vroeë kraam, die ander drie kraamkamers, die nageboorte-area, teater en herstelkamer. Sy is seker sy kan nou al haar pad geblinddoek vind.

      Aan diens kry sy skaars tyd vir slaap. Daar is banke in die teekamer waarop personeel kan gaan lê, maar sy doen dit selde. Sy bring vir haar kos saam werk toe, maar gewoonlik het sy nie tyd om te eet nie en vergeet sy sommer dat sy honger is.

      Dis toe haar ergste krisisgeval nog gebeur dat sy tot haar verligting op die rotasielys sien dat Charl Naudé weer aan diens is. Hulle het vroegaand ’n oproep van ’n hospitaal in Worcester gekry dat ’n pasiënt met konvulsies per lugambulans na Tygerberg gebring word. Brenda wag in spanning vir die helikopter om te land.

      Uiteindelik kom die ambulanspersoneel ingehaas met die vrou, wat in skok is nadat sy gekraam het en te veel bloed verloor het. Almal roep en skarrel, maar Brenda moet kalm bly, bevele gee en lyk asof sy alles onder beheer het.

      Sy het klaar gereël dat die pasiënt ’n bed in die hoësorgeenheid kry, en sy vermoed dat die vrou ’n histerektomie sal moet kry as hulle haar lewe wil red. Die verpleegsters draf rond en die narkotiseur moet vir die vrou adrenalieninfusies gee en haar stabiliseer. Die ergste is dat Brenda nog nie ’n volledige histerektomie gedoen het nie. Maar nou is dit ’n krisis en sy durf nie bang word nie.

      Sy besef sy moet vir Charl Naudé by haar hê, anders begewe haar moed haar dalk. Sy het al saam met professor Aucamp geopereer, maar sy weet hy is krities. Charl het ’n veel meer gerusstellende invloed op haar. Sy sal hom met haar eie lewe vertrou. Almal praat altyd van hoe hy vertroue inboesem en die bangste mens kan paai.

      Sy besluit om hom te skakel. “Charl, hier is ’n noodgeval. Die vrou moet ’n histerektomie kry as ons haar lewe wil red. Sal jy my kom bystaan, asseblief? Ek het nog nie ’n volledige histerektomie gedoen nie.”

      “Hou moed, Brenda, ek is nou daar,” belowe hy en sy kan huil van verligting.

      Die teater word reggemaak en sy is nog aan die skrop toe hy ingehaas kom.

      “Ja, dis bepaald ’n krisis,” sê hy nadat hy na die pasiënt gekyk het. Vinnig berei hy homself voor.

      Vir wat soos ure voel, opereer Brenda terwyl die ander personeel – die narkotiseur, die verpleegsters, die assisterende dokter en Charl – bystaan en hulle deel doen.

      Uiteindelik is dit verby. Die pasiënt word gestabiliseer en na die herstelkamer geneem. Brenda is uitgeput, maar tog tevrede met haarself. Sy het dit sowaar reggekry! Charl het wel hier en daar iets gewys, maar oor die algemeen het hy net toegekyk. Sy stap saam met hom en die narkotiseur na die herstelkamer om honderd persent seker te maak dat die pasiënt oor die ergste is.

      Toe hulle uitstap, voel sy meteens hoe Charl haar elmboog neem. “Vanaand was regtig ’n vuurdoop, nè?”

      “Ja,” sug sy. “Dit was die ergste wat ek nog beleef het, behalwe daardie eerste aand toe ek jou laat kom het.”

      Sy blik flits oor haar. “Jy is maerder, en jy lyk moeg. Maar dit lyk darem of jy nog kop bo water kan hou.”

      “Ek kan nog hou, dankie.”

      Sy het die verspotste begeerte om teen sy bors aan te leun. Sy mag nie so ’n swakkeling wees nie.

      Ruk jou reg, betig sy haarself, en lig haar ken. Sy wou mos kom spesialiseer; sy sal maar net aan die druk gewoond moet raak. Dat ’n mens emosioneel so gedreineer kan raak soos die afgelope week, het sy nie voorsien nie.

      “Wanneer het jy laas geëet?” vra hy besorg.

      “Ek is nie seker nie. Nie na elfuur vanoggend nie.”

      “Jy moet sjokolade byderhand hou sodat jy darem ’n koolhidraat-inspuiting kry.”

      “Ja, maar ek dink nie aan so iets nie.”

      “Volgende keer sal ek vir jou ’n paar stafies saambring.”

      Sy kyk op in sy oë en lag. “Dit sal lekker wees, as jy onthou. Tex is my gunsteling.”

      “Ek sal onthou. Ek bring sommer ’n sak vol Tex’e.”

      Hy onthou elke detail van haar, maar hy sal dit nie vir haar sê nie. Van nou af sal hy sorg dat sy ’n voorraad sjokolade kry. Die donker kringe onder haar pragtige oë maak sy hart week. Sy slaap seker ook te min.

      “Kom ons gaan sit iewers, dan vertel jy my hoe dit met jou gesteld is,” stel hy voor.

      Sy lei hom na die teekamer, en gelukkig is daar niemand anders nie. Hy gaan sit langs haar op die bank en wens hy kan haar hand neem. Sy is nie iemand wat jy moet probeer oorweldig of oordonder nie. Hy dink aan die naam Skigtige Saartjie en onderdruk ’n glimlag. Dis net wat sy is – skigtig.

      “Ek weet die eerste ruk hier by ongevalle kan nogal skrikwekkend vir ’n nuweling wees,” sê hy. “Vertel my hoe dit met jou gaan.”

      Brenda kyk na hom. Sy nabyheid is, anders as in die teater, nogal eienaardig verontrustend, want sy kan nie ongevoelig teenoor hom staan nie. Terselfdertyd kan sy nie help om sy besorgdheid te waardeer nie. Hy maak sulke uiteenlopende emosies in haar wakker.

      “Ek beleef die een krisis na die ander, maar ek kan dit hanteer,” sê sy. “My belangstelling lê eintlik by ginekologie – by die hele proses van geboorte van begin tot einde, en by die ma’s en die babas. Hier is ’n mens heeltyd met verloskunde besig, want die geboortes en komplikasies is op die nippertjie en jy moet red wat jy kan. Ek troos myself daaraan dat ek eendag in ’n praktyk sal wees waar dit rustiger en meer afgerond sal wees.”

      “Ja, hier gaan dit byna net oor noodgevalle, maar so leer ’n mens. Jy moet altyd gereed wees en enige situasie kan hanteer.”

      Hy staan op en sy ook.

      “Wat doen jy tydens jou af naweke?”

      “Ek gaan kuier vir Rolf-hulle, of by vriende, of ek gaan ry perd. Hier is ’n perdeplaas buite Durbanville waar ek gaan ry. ’n Vriend in Engeland het my leer perdry, of ten minste daarmee begin. Nou geniet ek dit.”

      Hy glimlag. “Het jy al jou eie perd?”

      “Nee, ek leen een, maar ek sal nog eendag my eie perd aanskaf.”

      “Ek ry ook graag perd.”

      Hy sien dat sy half skrik en hom agterdogtig aankyk. Sy dink seker hy skimp om haar te ontmoet. Vinnig voeg hy by: “Maar deesdae het ek nie veel tyd vir perdry nie, my lewe is so besig.” Hy sug effens. “Ek moet seker maar huis kry.”

      Sy loop saam met hom voordeur toe en

Скачать книгу