Dokter van drome. Kristel Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dokter van drome - Kristel Loots страница 4

Dokter van drome - Kristel Loots

Скачать книгу

haar in die verleentheid met sy onverwagte besluit om haar by die woonstel te kom haal.

      Pure nuuskierigheid! Wat anders? ’n Gulde geleentheid om te sien hoe leef die mindergegoedes. Verlekker hom dalk nog in haar vernedering. Blikskottel! Hoe wens sy sy was in die posisie om hom in sy peetjie te stuur!

      “Ek sien jy’t nie gelieg nie,” merk hy lakonies op, die beduidenis van ’n glimlag om sy mooi mond.

      Hy staan argeloos nader, leun skielik vorentoe en vat haar ken tussen sy duim en wysvinger vas.

      ’n Oomblik voel dit vir Anastasia of die vloer onder haar padgegee het sodat sy deur ’n diep gat val. Sy wil haar kop wegruk, hom selfs klap as dit nodig is, maar sy is so verstom oor sy voortvarendheid dat sy haar soos ’n lam ter slagting gedra en hom bloot verstom aanstaar.

      Hy draai haar gesig sagkens sodat die sonlig daarop val. “Hm,” brom hy, “die Helena van Troje-tipe. Inderdaad ’n gesig wat ’n duisend skepe te water kan laat.” Toe vervolg hy met ’n diep, donker stem: “Of op die rotse sal laat beland.”

      Sy kan nie besluit of hy hou van wat hy sien en of hy daaroor kla nie. Ook kan sy nie aan iets slims dink om vir hom te sê nie. Net nie kwaad word nie, maan sy haarself. Nie die man afjak nie, nie weer toelaat dat jou bitter bek met jou op loop gaan nie. Wees bly dat die mansmens jou enigsins te woord staan en nie die gehoorbuis in jou oor neergegooi het nie.

      “Is jy reg om te ry?” vra hy onverstoord en laat haar gesig los.

      “Ek … ek … e … kry net gou my handsak,” stotter sy en voel-voel om haar sonder om van hom af weg te kyk.

      Haar handsak! Ag, hemel tog, waar is haar handsak? Nee! onthou sy. Die ding lê nog in haar kamer. Op die bed, dink sy. Of op die spieëlkas!

      Hoe nou gemaak? Sy kan Juan Harmse tog nie innooi om ’n oomblik vir haar te wag nie, sy wil ook nie. Sy wil hê hy moet so min moontlik sien wat hier agter haar rug opgestapel is. Die koerante, die CD’s wat nie weer in hul houertjies gebêre is nie, die pantoffels wat sy onder die rusbank ingeskop het. Sy weet wat hy gaan dink – as dit is hoe haar blyplek daar uitsien, hoe gaan sy spreekkamer dan lyk?

      Dan maar sonder die handsak gaan, hoop sy kry niks daarin nodig nie. Maar … wat doen sy dan die hele tyd met haar hande? En haar hare? So sonder ’n kam of borsel? ’n Vrou is niks sonder haar handsak nie; ’n vrou se handsak moet soos ’n geweer aan haar sy wees; ’n vrou se handsak het haar al van vele verleenthede gered. Anastasia sug gelate.

      “Ek kry net gou my handsak.”

      Sy swaai om en los hom net so op die drumpel in die hoop dat hy daar sal bly, maar verniet! Juan Harmse steur hom min aan haar gebrek aan hoflikheid. Toe sy in die nou gangetjie af draf om kamer toe te gaan, sien sy hoe hy ’n paar tree gee tot binne-in haar heiligdom en dadelik na haar boekrak stap.

      Dit ook nog! Sy wil nie hê hierdie man moet weet wat sy lees nie. Die akademiese boeke, die mediese joernale, die biografieë, die liefdesverhale waarin sy haar so kan verkneukel, niks daarvan wou sy vir hom wys nie. Die man moet niks van haar persoonlike sake af weet nie, net die deel wat sy vir hom wil wys. Hy moet haar beskou as ’n bekwame assistent wat sy sake vir hom sal reël en sy afsprake seepglad sal laat afloop. Dis al.

      Sy gryp die ellendige handsak en veroorloof haar geen oomblikkie om in die spieël te kyk nie. Haar plan was om hom in volle oorlogsmondering te woord te staan. Gepoeier en gepaint van blonde kroon tot pêrelpienk toon nadat sy ’n draai by Gary van Gary’s Hair Haven en ’n skoonheidsalon gemaak het. Hierdie man stel hoë eise en sy wou mooi genoeg wees om hom sy woorde van vertwyfeling te laat sluk. Sy wou hom nie laat wegkom met ’n powere Helena van Troje-verwysing nie. O nee, hy moes so stomverbaas gewees het oor haar skoonheid dat hy om verskoning sou vra omdat hy haar onderskat het.

      Maar sy’t ’n idee Juan Harmse is nie ’n man wat maklik om verskoning sal vra nie. Vir niemand nie!

      2

      Ek kon dit seker verwag het, dink Anastasia toe sy na ’n limousine gelei word. ’n Spierwit wa, uitspattig lank en luuks.

      “Is dit nou om jou pasiënte te beïndruk?” Sy lag. ’n Mooi beskaafde laggie. Nie spottend nie … wel, nie heeltemal nie.

      “Eintlik is dit eerder om hulle te laat tuis voel. Die Amerikaners wat hier aanland, is dikwels so gewoond aan ’n limo soos ek en jy aan ’n BMW.”

      Anastasia glimlag binnetoe. Ja, sure, meneer die wêreldbekende dokter, dink sy. Noem my en jou gerus in een asem. As jy dalk ’n grap wil maak. Daar wás miskien ’n tyd dat ek net so gewoond was aan ’n Bee-Em soos jy. Die goeie, oue tyd toe ek saam met die groot haaie geswem het en gulsig gegryp het na alles wat ek kon kry. Maar dit was lank gelede voordat ek soos vrot seewier op die strand uitgespoel het. Nou sit ek in ’n woonstel opgehok en soek werk wat ek met my oë toe kan doen en wat vir my geen uitdaging of bevrediging sal bied nie.

      Die swartgeklede chauffeur rond die prentjie volmaak af. Hy knik statig in haar rigting en skuif die deur van die limo vir haar oop. “En ek sonder my Sondagsklere,” maak sy ’n flou grappie omdat haar oorwerkte jeans skielik nie gepas lyk vir die rit lughawe toe nie. Jeans waarvan daar derduisende die wêreld vol rondloop, terwyl sy wil wed Juan s’n is ten minste van die maan af vir hom ingevoer – met ’n prysetiket wat dit die moeite werd maak.

      Sy skrik effens toe Juan ook buk om langs haar in te skuif, maar gelukkig is ’n limousine groot genoeg dat hy nie naby haar hoef te sit nie. Hy sak oorkant haar neer en antwoord eers weer sy selfoon voordat hy aandag aan die chauffeur gee. Een van sy pasiënte moet glo ’n pynstiller kry, die ander een se verbande moet omgeruil word.

      “Lughawe toe, John,” sê hy toe hy die selfoon bêre. “En laat waai maar, hoor. Ons is laat.” Toe draai hy na haar. “Verskoon my net ’n oomblik,” versoek hy en trek sy skootrekenaar nader. “Daar is iets wat ek moet nagaan.”

      Anastasia doen haar bes om so ongeërg moontlik op te tree, maar sy verlekker haar tog heimlik in die luuksheid van die limo. Om haar is die verkeer op die snelweg na die lughawe so besig soos gewoonlik. Steunende vragmotors met enigiets van bakstene tot troppe skape agterop gelaai, toetende taxi’s wat soos miere van baan tot baan vleg en alle padreëls verontagsaam, selfs ’n paar motors wat seker met spoeg en genade aan die gang gehou word – almal deel ewe haastig en ongeduldig die pad met die meer luukse motors.

      Anastasia haat hierdie pad en is altyd op haar senuwees wanneer dit vir haar nodig is om hier te ry. Maar vandag is dit of sy verwyder is van die geroesemoes daar buite. Asof ek onaantasbaar is, dink sy met ’n ingehoue giggel. Wie gaan dit waag om ’n limo van die pad af te druk of teen een te bots? Don’t talk to me, talk to my lawyer! Vir weelde wat so blatant uitgespel word, het die gewone man groot respek. Sou die eienaar van so ’n weeldewa jou hof toe vat, sal jy betaal totdat jy jou spaargeldjies onder die matras ook moet gaan uitkrap.

      Anastasia sak so effens dieper in die sitplek en voel soos die koningin van die pad. Daar word oor hulle geskinder, sy weet sommer. Die ander motorryers op die N1 wonder oor hulle; wie hulle is en waarheen hulle met hierdie skitterblink limo op pad is. Dit mag wees dat elke tweede, derde Amerikaner in die VSA met ’n limousine rondry, maar hier is sulke rykmanspeelgoed nog skaars genoeg om snaaks te wees.

      Juan hamer ’n paar minute lank op sy toetsbord voordat hy sy skootrekenaar toeklap. Hy kyk vlugtig op sy polshorlosie en fluit ’n toonlose deuntjie deur sy tande. Sy ken die geluid. Dis spanning wat maak dat oorwerkte mense daardie deuntjie sing. Oormatige stres. Die prys wat betaal

Скачать книгу