Die ewigheid in my hart. Barend Vos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Die ewigheid in my hart - Barend Vos

Скачать книгу

hier, Here, hier by U.

      Ek was nog altyd hier,

      ten spyte van my dwase praatjies.

      Lees Psalm 15 | 19 Januarie

      Ek kwalifiseer nie

      Hoe bevoorreg is hulle wat by U tuis mag wees, Here!

      God se gaste …

      Dink net, hulle kan dit oor en oor vir hulleself sê

      en, tipies mens, trots aan almal fluister:

      “Ek gaan tuis by Hóm …”

      Ek kwalifiseer egter nie.

      Om doodeerlik te wees, Here, ek voldoen nie

      eens naastenby aan daardie voorwaardes nie:

      die “onberispelik leef”, die “regverdig optree” – só is ek nie.

      Ek kan nie met ’n rein gewete sê ek doen nie my naaste

      kwaad aan nie. En ek kan nie sê ek skinder of spot nie.

      Ek kies nie altyd soos U kies nie.

      En wat moet ek sê oor my finansiële filosofieë,

      my houding oor geld en besittings …?

      Daarom sal ek liewer van u woonplek wegbly;

      ek sal nie daarop aandring om in te kom nie.

      Ek sal my plek ken.

      Ek ken ook my eie veragtelikheid;

      ék, wat van beter moet weet;

      ék, wat nooit by my goeie voornemens hou nie;

      ék, wat ook maar my seile na die wind span

      en my sake só plooi dat ek ’n behoorlike wins maak.

      U tent bly dus vir my gesluit.

      U heilige berg dra ’n kennisgewing: Geen toegang!

      Maar hoe kán ek op ’n ander plek as by U wees?

      Hoe oorleef ek as U ver is?

      Ag, Here, ek is hier;

      ek is hiér, met al my bagasie,

      al die skuld wat my laat krom loop.

      Kyk dan net hoe vuil is die hande

      waarmee ek aan u deur bly hamer:

      Kan ek … mág ek maar inkom, asseblief?

      Lees Psalm 16:1-4 | 20 Januarie

      Die enigste God

      Soos altyd, Here, sing ek hierdie lied

      vanuit die veiligheid van my skuilplek.

      Soos altyd staan ek vas en stewig by U,

      en vanaf hierdie stoere rots kan ek roep:

      “Julle wat ander gode dien – hoor tog hier!

      Daar is niks goeds aan wat julle doen nie;

      dit gaan vir julle net ellende bring.

      Luister na my – ek praat uit ondervinding …”

      Ja, Here, U weet tog dat ek

      my geluk ook by daardie spul

      gaan soek het. Hoe skaam ek my

      nie oor dié flirtasie met die gode nie!

      Ek het mos daar gaan kuier,

      gou-gou gaan besoek aflê ...

      en toe oorweeg om daar te bly.

      Alles lyk so goed by hulle,

      so aantreklik, so aanloklik.

      Totdat jy die prys bereken …

      “Hoor tog, julle wat dink

      om daardie pad te kies:

      Ek roep die Here se Naam uit.

      Ek roep die enigste God aan –

      en dit is nie moeilik nie,

      want Hy hou my altyd vas.

      Daardie sogenaamde gode

      waaraan julle so verkleef is,

      hulle gaan julle los – en dan?”

      Weg met hulle!

      Ons goed en bloed

      behoort aan die Here,

      Hý is ons skuilplek.

      U is inderdaad die enigste God

      wie se Naam noemenswaardig is.

      Lees Psalm 16:5-11 | 21 Januarie

      Die meetsnoere

      So hét alles toe uitgewerk, nè, Here?

      U het ver vooruit gesien

      – veel verder as wat ek kon dink of droom –

      en toe het U die tentpenne ingeslaan:

      mý blyplek, my werkplek.

      ’n Tuiste wat U vir my, u kind, kom uitmeet het.

      Ag, Here, ek is jammer dat ek deur die jare heen

      aanhoudend daaroor gekla het

      dat U juis hiérdie plek gekies het:

      Dit is dan so … anders as wat ek my dit voorgestel het

      toe ek nog jonk was. Is daar dan nie vir my

      ’n ander werkplek, ’n lekkerder blyplek, ’n gunstiger klimaat,

      bekwamer kollegas, beter bure, aantrekliker vooruitsigte nie?

      Só, sal U onthou, het my versugtinge geklink,

      ja, so het ek by U kom mor.

      Hoe dom was ek nie, hoe kortsigtig, stiksienig.

      Nou wil ek dit vir U kom sê,

      dit erken: Die meetsnoere het vir

Скачать книгу