Die verdwyning van Billy Katz. Chris Karsten

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten страница 3

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten

Скачать книгу

uit die grasperk­helling, dan die sirkelpaadjie van rooi bakstene met bankies waarop besoekers kan rus. Die laaste sirkel, tussen die paadjie en die hoë heining, is die Bard-beddings waaraan die hele tuinopset sy naam ontleen.

      Jimmy en die konstabels is gebukkend op soek na leidrade, ook die K9-ou met sy mooi snuffelhond. Skoenlappers fladder en dans oor die kruiebeddings; nuwe geure bereik haar neus. Sy herken roosmaryn en salie, laventel en kruisement, die sitrus van verbena. Op ’n beddingmerker lees sy: There’s rosemary, that’s for remembrance … And there is pansies, that’s for thoughts. There’s fennel for you, and columbines. There’s rue for you, and here’s some for me …

      Daar wink Jimmy haar nader.

      “Waar’s die voete?” vra sy.

      “Jy bedoel waar’s jou slagoffers?” Jimmy grinnik en lei haar na ’n bank onder die enigste groot boom, daar langs die bedding met tiemie en kanfer en wildekanferfoelie, en beduie na die Checkers-sak langs die bank.

      Sy wikkel haar vingers in latekshandskoene, hurk, maak die sak oop, loer in. ’n Bedompige walm tref haar en sy draai haar gesig weg. Kom orent, stroop een handskoen af en strompel by die kanfer verby na die kruisement, kneus ’n blaar tussen haar vingers en asem die geur diep in.

      Sy trek weer die handskoen aan en gaan staan langs Jimmy. “Beslis nie vars voete nie, nè? En is hulle gemummifiseer? Is dit hoe­kom hulle so swart is?”

      “Ja, vier mummie-voete,” sê hy met ’n omkyk na die ander polisie­manne. “Ons gaan oppak, hier kry ons niks. Die tuinier daar oorkant is Oupa Zondi. Oupa sê toe hy gister tjailatyd hier weg is, was die sak nie hier nie. Hy’s seker daarvan, sê hy sou nie ’n plastiek­sak in sy tuin los nie. ’n Man het 10111 gebel.” Jimmy raadpleeg sy notaboek. “F.C. Hattingh. Noem homself ’n amateur-ornito­loog. Sê hy’t seweuur vanoggend voëls kom afneem en die verlate sak gesien en was nuuskierig. Sê hy sal nooit ooit weer sommer in iemand anders se Checkers-sak inloer nie.”

      Sy vee haar kuif met ’n pols van haar voorkop weg. Daar was ’n foto in ’n tydskrif van ’n aktrise met korterige hare en ’n kuif half oor een oog. Sy’t dit uitgeknip, sonder die naam, wil nie soos ’n groupie lyk nie. In Mara se salon het sy gevra: Kan jy myne so sny?

      Mara het gesê: Ek kan enigiets doen, girlie. Wil jy nou ook ’n blonde vamp word, altemit blou kontaklense?

      Net korter, Mara! En ek hou van my hare se kleur, dankie. Ook van my oë s’n.

      Bam het gepraat van haar kaller-oë, saans in die bed. Maar dit hoef Mara nie te weet nie. Kaller-oë? Ja, het hy gesê, ons boerseuns praat van kallers, nie kalwers nie.

      Toe Mara klaar was: Dit pas jou, jy lyk nes ’n aktrise, die manne gaan hulle bene stompies hol agter jou aan. En gee haar ’n knypie aan ’n boud en boob. Maergatjie … Eet net meer, kom eet weer ’n slag by ons. Die manne soek vashouplek.

      Vashouplek. Gmf!

      “So,” sê sy vir Jimmy, en druk die sonbril oor haar hare op. “Hoekom sou iemand die goed hiér kom los? En hoekom vier linkervoete? Wat beteken dit?”

      Jimmy knik. “Ja, en hoekom dit saamkarwei? Hoekom dit nie in die naaste vullisdrom gooi vir die tiep se lorrie nie?” Hy stroop sy handskoene af. “Ons het oral gesoek, hier’s blou ôl. Ook geen sigbare leidrade binne-in die sak nie, behalwe natuurlik die voete self. Miskien kry die lab latente vingerafdrukke, dalk ’n haar of twee, ander spoorelemente. Ek wonder of hulle geleef het toe hulle voete geamputeer is.”

      “Dokter Koster sal kan sê.”

      “Die lab sal waarskynlik DNS kan onttrek, ten minste mitochon­driese DNS. Dit kan jou help met identiteite.”

      “Miskien oor ’n jaar, ás ek gelukkig is. Dok sal ook kan sê hoe en waarmee die voete afgesny is. Ek wed dis nie onder narkose in ’n operasieteater geamputeer nie.”

      “Sal jy dit vir hom vat? Julle is mos sulke dik gabbas.”

      “Ja, my suikeroompie.” Gee ’n heserige laggie.

      Hy sit die Checkers-sak in ’n groter bewyssak van bruin papier, verseël en merk dit, teken dit op ’n kniplêer aan en hou die sak na haar uit.

      Sy weeg dit met haar arm. Vier uitgedroogde voete is besonder lig.

      “En teken hier,” sê Jimmy. “Onthou om dokter Koster te vra om die leë sak lab toe te stuur.”

      Toe sy die lêer en pen teruggee, kyk hy skerp na haar. “Wat’s fout? Vir wat bewe jou hande so? Is jy seker jy’s oukei, hier terug die diep kant in?”

      Sy skuif haar sonbril oor haar oë. “See you later, alligator.” En stap terug kar toe.

      In haar werkshok begin sy met die voorlopige papierwerk om die nuwe, voorgeskrewe ondersoekdossier te open. Pyn in die nek vir elke speurder, maar doen jy nie gereeld jou admin nie, sluk ’n papiermoeras jou netnou in. “Papierwerk” is eintlik net ’n metafoor, want sy werk met min papier. Gebruik steeds ’n notaboek, maar in haar skouersak is ook haar tablet (gekoop met haar eie geld). Dis die kolonel se opdrag dat sy net met e-dossiere werk, pleks van die ou bruin lêers. Kom glo van generaal Pitso self af, wat dit weer van hoër op gekry het, glo selfs so hoog as van die SAPD se Beleidsadviesraad. Die kolonel sê die infasering van e-dossiere is om korrupsie teen te werk; die verdwyning van die ou bruin lêerdossiere in ruil vir geld onder die tafel.

      Dis ’n kloppie op die skouer dat hulle háár kies om dit hier by hulle tak in te voer. Sien, dís wat sy kon gedoen het, kon eers in die vlak kant speel, op kantoor sit en die ander speurders met hulle e-dossiere die digitale wêreld inhelp. Hoeveel van hulle kan ’n tablet inspan as hulpmiddel in misdaadondersoeke, of FBI-apps? Treurige toestand, as jy kyk na ’n ander Beleidsraad-verslag wat die kolonel ’n slag vir haar gewys het: Die grootste probleem vir ’n doeltreffende nasionale speurdiens is dat 24% van die ondersoekers nie die basiese opleiding gekry het om as speurders te kwalifiseer nie.

      Weet nie eens wie Locard is nie, en nou moet hulle in e-dossiere opgelei word.

      Die kolonel skryf die onbevoegdheid, lae moraal, polisiegeweld, en ’n swak beeld summier toe aan politici wat die SAPD probeer lei, pleks van bekwame polisielede. Vat die voorbeeld van Susan Shabangu, gewese adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, sê hy. Hy was sélf daar, het dit met sy eie ore gehoor, amper van sy stoel afgemoer, hoe sy ’n polisie-imbizo opsweep: “You must kill the bastards if they threaten you or the community. You must not worry about the regulations. I want no warning shots. You have one shot and it must be a kill shot. I want to assure policemen and women that they have permission to kill these criminals. I will not tolerate any pathetic excuses for you not being able to deal with crime. You have been given guns, now use them!”

      Sy verdeel haar e-dossier in die voorgeskrewe drie seksies. Onder A kom bewysmateriaal: verklarings, lasbriewe, borgtoginligting, verslae van forensiese ontleders, foto’s van die slagoffer en moord­toneel, mediese verslae, vingerafdrukke en al die vorms (SAPS 297 vir eerste aanmelding, SAPS 329 vir uitkenning, SAPS 13 vir bewysmateriaal, ensovoorts). Onder B is korrespondensie en administratiewe dokumente: inligting oor gesteelde eiendom, ge­soekte persone, antwoorde op navrae van ander polisiekantore af, mediaknipsels oor die saak. Onder C kom die ondersoekbeampte se daaglikse aantekeninge: detail van die misdaadtoneel, leidrade en soektog, detail oor die slagoffer en moontlike verdagtes. Daarna registreer sy die dossier op die polisie se Misdaad-Administrasie-Stelsel en kry ’n MAS-nommer.

      Vir

Скачать книгу