Die verdwyning van Billy Katz. Chris Karsten

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten страница 7

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten

Скачать книгу

te dokumenteer. Die Zoomatic is mettertyd vervang deur videokameras, en Vera het later die kamera­werk oorgeneem.

      Vir hierdie nuwe video het Vera hulle nuwe, gesofistikeerde digi­tale Sony Handycam HDR-CX520V gebruik en ook self die klank gemeng. Heidi het die teks geskryf.

      Vera se vertellerstem gee eers ’n inleidende oorsig van die preservering van menslike liggame. Sy noem die voorbeeld van Chili se Chinchorro’s wat al in 5000 v.C. stamlede gebalsem het – 2000 jaar voor die Egiptenare dit met die farao’s begin doen het – en haal aan uit Boek II van Herodotus se geskiedskrywing, waarin die Egiptiese proses van mummifisering in besonderhede beskryf word. En so voort tot by die meer moderne balsemings, beskryf spesifiek die gevalle van Lenin, Mao en Ho Chi Minh.

      Terwyl die musiek vervaag en die kameralens by die glas­deure van muurkaste inloer na spesimenflesse gevul met organe in forma­lien, vertel Vera hoe almal – van primitiewe anatome tot moderne balsemers – nog altyd dieselfde probleme met preser­vering ervaar. Organe, ook ’n hele liggaam, kan gedehidreer en daarna met natuurlike of chemiese middels behandel word om putrefaksie teen te werk, maar selfs in die mees ideale om­stan­dig­hede vind aftakeling uiteindelik plaas. Dieselfde geld nat chemiese preser­vering, by­voor­beeld die tipiese breine en aapembrio’s in laboratorium­flesse. Dit begin stink, verloor kleur, tekstuur en vorm, en disintegreer oplaas.

      Die ideaal is dus ’n proses waarin organe en liggaamsdele, selfs volledige liggame, steriel, reukloos en sonder die risiko van ont­binding vir ewig bewaar kan word. En nou is daar presies só ’n unieke metode van preservering. Nie meer heeltemal so nuut nie – die instituut vir plastinasie is reeds in 1993 in Heidelberg, Duitsland, gestig. Patentregte word wêreldwyd beskerm, en buite Duitsland is daar net enkele mediese skole waar dié soort polimeer-preservering in anatomie-laboratoriums gedoen word.

      “Soos hier gesien kan word, eksperimenteer Heidi nou ook daar­mee in ons eie laboratorium,” vertel Vera se stem. “Nou is dit nog net ’n hart en ’n hand, maar binnekort wil sy ’n volledige liggaam so preserveer.”

      Mona se gedagtes begin dwaal, sy verloor die draad van die ver­telling, die TV-skerm word wasig, Vera se stem net ’n ruising.

      Haar maag ruk.

      Hier kom dit. Sy weet, sy weet …

      Dis soos migraine, selfs met tipiese migraine-simptome: die naarheid, die lig en klanke en reuke wat sy nie kan verduur nie, die polsende pyn wat haar mal maak. Maar dis nie migraine nie, is die dokter se diagnose; dis simptomaties van moontlik angs, van iets sluimerends in haar brein wat skielik gewek word om haar liggaam te teister.

      Sy hóór dit en klap haar handpalms oor haar ore, al weet sy dit help nie, al weet sy dit kom nie van buite nie, maar van binne, met áltyd dieselfde versreël wat deur haar brein hamer en die slapende ding wek: It eats the brittle bone by night and the soft flesh by the day …

      Dit vreet ook aan haar gemoed en hart, dit maak haar rasend, dit bring ’n verstikkende benoudheid in haar bors, verstop haar keel sodat sy nie kan asem kry nie, sodat dit voel of die are in haar voorkop wil bars, of haar oë begin opswel, en haar neus en tong sodat sy blind en stom word en nie om hulp kan roep nie.

      Sy staan op, strompel by die TV-kamer uit. In haar badkamer bring sy bitter gal op, spoel koue water oor haar gesig, sluk twee naratriptans. Sy gaan lê op haar bed met ’n koel, nat waslap oor die oë, die verwoede kopseer wat tussen haar oë klop, klop, klop. Só erg dat sy later nog ’n pil drink.

      Toe sy wakker word, is dit ná middernag. Sy lê lank so met geslote oë, nog steeds met ’n vae naarheid en dowwe klopping. Maar sy voel beter, haar kop is helderder. Dis nie daai versreël wat die aanvalle veroorsaak nie, die reël is bloot ’n waarskuwing oor wat kom; die versreël is haar prodroom, want nou kan sy die hele stansa onthou, en dis tog onskadelik, want kyk, niks gebeur nie:

      And all the while the burning lime

      Eats flesh and bone away,

      It eats the brittle bone by night,

      And the soft flesh by the day,

      It eats the flesh and bones by turns,

      But it eats the heart alway.

      Sy kon vroeër groot dele van dié hele lang ballade opsê. Sy onthou sulke fragmente van baie gedigte in Afrikaans én Engels, selfs Duits. Dis die voordeel (soms nadeel) as jy ’n onderwyseres was.

      Ten minste was sy gekwalifiseerd om vir Rakker tuisonderrig te gee, want die optelkind was mos nie welkom in hulle skool of kerk nie – nie met sy agterstand, gebreke en veral velkleur nie. Sy’t hom naas skryf en somme ook gedigte geleer om sy trae verstand en geheue te prikkel en te ontwikkel. Maar net in Afrikaans, om hom nie verder te verwar nie.

      Sy raak weer lomerig en gesigte duik soos ’n ingeboude video voor haar geestesoog op. Sy herken die gesigte. Dis van mans wat sy graag gepreserveer sou wou sien, met Heidi se nuwe tegniek wat sy daar in Duitsland gaan leer het.

      O, hoe graag sal sy nie só ’n private versameling wil hê nie. Sodat sy elke aand voor slaaptyd eers ’n paar dinge met daai geweldenaars kan uitpraat, hulle uitvra oor wat hulle gedoen het, of hulle dit nog kan onthou, oor hóékom hulle dit gedoen het, en – baie belangrik – oor hoe hulle nóú daaroor voel, so aan haar uitgelewer.

      Sy sal graag om die beurt op elkeen wil neerkyk en vra: So, hoe voel dit, Pottie … Manlief? Nie gedink jy sal ooit so hulpeloos en leweloos aan my voete lê nie, nè? Gedink jy sal altyd wegkom met wat jy aan ons gedoen het, veral aan die kinders? Praat maar, ek luister – hoekom nou so stil en beskeie? Wanneer jy jou vuiste gelig het, was jy nooit stil nie, dan het jy saamgeskreeu en saamgevloek met elke hou wat val, op my, op Vera, op Heidi, op Rakker. Jou tong ingesluk, Skattie?

      Vir sy vriende met die besmette siele wat hy huis toe gebring het: Sien, dis wat gebeur as julle ons seermaak, as julle geweld gebruik om julle sin te kry. As julle dink julle kan ons liggame misbruik en verguis, ons gees vernietig. Gedink daar sal vir julle geen gevolge wees nie? Gedink ons is swakkelinge? Dít was julle almal se groot fout: Julle het julle met ons misgis. Ons het ons krag by mekaar gevind en ons veg terug, ons vat ons eer en ons waardigheid terug. Al sê julle wat met ons gebeur het, is ons eie skuld, want ons het daarvoor gesoek. Ja, dis julle maklike verweer: pak die las van skuld óók op ons.

      Maar julle verstaan dit nie mooi nie: ons voel nie skuldig oor goed wat ons self doen nie, ons voel skuldig oor goed wat ander aan ons doen.

      5

      Arme lessenaar, ys Ella toe die kolonel se groot skaduwee oor haar en haar afskorting val. Sy hou van hierdie ou lessenaar, sy hou van alle ou houtmeubels, haar huis is vol daarvan, meubels van enige soort hout: oregon, geel, swart, stink, eik, mopanie, kiaat.

      Goed, dié lessenaar is nie juis kothuis nie, eerder staatsdiens, massa­produksie uit eikehout, miskien dertig, veertig jaar oud. Maar sy hou vas aan hom (Stallie noem dit klou), want Openbare Werke dreig om alle ou houtmeubels uit te faseer. Vader weet hoe­kom, niks fout met eikehoutmeubels nie, dit sal nóg dertig, veer­tig jaar hou. Eikehout­meubels is warm en sterk, soos ’n goeie man. Maar Open­bare Werke voer ’n faseerkampanje: faseer hout uit, faseer blik-en-chroom in. Soek werk vir hulle hande.

      Sy skuif die lêers rats na veiligheid, net betyds voor die aan­sienlike (en groeiende) sitvlak op sy geliefkoosde hoek neersak. En hoor net hoe kraak en protesteer die arme ou ding, tot diep in elke kwas en swaelstertvoeg.

      Die kolonel leun oor

Скачать книгу