Die verdwyning van Billy Katz. Chris Karsten

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten страница 8

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten

Скачать книгу

      “Dis Pepler! Kan jy nie lees nie?” grom hy. “Ekspolisieman uit ’n vorige lewe. Was glo ’n regte klein upstart wat almal die moer in gemaak het.”

      “Wat doen die ekspolisieman hier?” Sy tik met ’n nael op die plakker.

      “Hy’s in sekuriteit,” sê hy en streel oor sy snor.

      “O, een van hulle?” Wat het ’n astrante ekspolisieman met haar uit te waai?

      “Ja, een van daai,” sê hy. “Kry ’n goue handdruk, laat druk ’n paar fancy kaartjies en noem homself ’n Security Consultant.”

      “Wat soek hy, kolonel?”

      Pleks van ’n antwoord kry sy so ’n algemene, allesomvattende handgebaar oor haar en haar rekenaar en oor die lêers op haar lessenaar. “Vorder nie eintlik met jou ondersoek nie, nè?”

      “Dokter Koster sê die amputasies is nie met ’n chirurgiese saag gedoen nie, lyk of die voete sommer met ’n gewone ystersaag af­gesaag is – dieselfde saag vir al vier. Hy vermoed dis een mens se handewerk.” Sy loer weer na die geel plakker. “Wat van dié Pepler?”

      “Gaan kuier vir hom, hoor wat hy te sê het. Hy’t die voeteberig in die koerant gelees en besluit om my te bel. Ek het eers bietjie oor hom gaan uitvis. Hulle sê hy was ’n korrelkop, maar goeie speurder.”

      Ja, korrelkoppe trek mekaar aan, dis hoekom die kolonel sy tjap van goedkeuring aan dié Pepler-man gee.

      Die lessenaar sug verlig toe hy opstaan. Hy bekyk haar ’n oom­blik. “Voel jy beter?”

      “Ja, kolonel. Maar ek het nog nie jou sakdoek gewas nie.”

      “Hou dit vir die volgende snot-en-trane-sessie, dis nog nie verby nie.”

      Sy bel en ’n vriendelike vrouestem skakel haar deur na ’n bars manstem: “A, vermaarde speurder Neser. Steeds adjudant-offisier, sien ek, nog nie bevorder nie, nè? Dog hulle sou jou darem al luitenant gemaak het. Met ’n fris bonustjek en medalje … Goue Orde van die Baobab. So iets.”

      Hoe oud is hy nou, dié “klein upstart” in die ou SAP? “Meneer Pepler, het jy dalk iets anders om vir my te sê, iets meer tersaaklik tot my ondersoek?”

      “Ja, ek het. Die vraag is of jy my gaan glo. Silas Sauls het seker dadelik die lyne warm gebel om te hoor presies wie ek is. Het hy jou ook ingelig dat ek nooit die SAP se titel van Mees Populêre Persoonlikheid gewen het nie?”

      “Ons het nie eintlik oor jou gepraat nie. Hy’t net gesê ek moet jou bel, dat jy dalk vir my ’n wenk het.”

      “Ja, ek het. Iets soos jy wys my joune, ek wys jou myne.”

      “Jy eerste. Wat kan jy wys?”

      “Twintig jaar terug was ek ook ’n moordspeurder, ’n sersantjie. Wat was Silas Sauls toe? ’n Kaptein, ja. Sien, ek het óók bietjie rondgebel. Sulke vinnige spronge tot kaptein het destyds nie som­mer in enige … hmm, ónwit broek gesit nie. Om daai ou Broeder­kliek te beïndruk moes hy iets goed gedoen het, en ek be­doel nie gatlek nie. Wat ek hoor, is dat Silas eerder sou krepeer as om énige agterent te lek, veral ’n bleek een.”

      “Dis eenvoudig, hy’s bevorder omdat hy ’n briljante polisieman was … en steeds is. Jy kon my sommer gevra het. Ek ken hom goed, ek het voor hom grootgeword. Hy en my pa was saam speurders.” En na­dat ’n boef se koeël haar pa in ’n koma gelaat het, het Silas sy plek in­geneem – soort van. Maar dit hoef hierdie vent nie te weet nie.

      “Dan weet jy dat jou kolonel ná ’94 die nuwe polisie se blinkste meteoor was. Kaptein, majoor, luitenant-kolonel, kolonel. Als op eie stoom, sonder politieke konneksies. Groot dinge is vir hom voorspel.”

      “Ja, ek weet,” sê sy.

      “Was dit nie vir sy beneuktheid en hekel aan politici nie. Toe gebeur iets en hulle pluk twee van sy sterre af, stamp hom terug ondertoe.”

      “Luister, meneer Pepler, ek het regtig nie tyd vir …”

      “Ja, jy’s besig, ek weet. Ons is almal besig. As speurder het ek ook eenkeer met vermiste ledemate te doen gekry.”

      “My ledemate word nie vermis nie, dis die liggame wat vermis word.”

      “Wil jy nou meer! Jy’t ledemate sonder liggame, ek het liggame sonder ledemate gehad. Wel, sonder vingers. Pas ons gevalle nie perfek by mekaar nie? Soos ’n poephol op ’n pot. Of word sulke taal deesdae nie meer in die polisie toegelaat nie? Word julle vuil bekkies nou met blouseep geskrop?”

      “Vloek gerus, meneer Pepler, as vuil taal jou manier is. Maar ek sal dit waardeer as jy nie só met my praat nie.”

      “Aitsa, wip sy haar. Raait, as jy nie in my wenk belangstel nie omdat jy dink dat ek te rof en onbeskof is, koebaai dan. O, terloops, die vingers het ek self afgeknip.”

      Kliek.

      Sy sit vir ’n paar sekondes nog met die gehoorbuis teen haar oor, plak dit dan terug. Mooi positiewe dêm einde aan dié gesprek. Self vloek sy nie hardop nie, maar niks keer ’n harde woord of twee by geleentheid binnetoe nie, daar waar net die groot genadigheid haar hoor brom.

      Gaan hy nou die beneukte kolonel bel en vra van wanneer af stel die SAPD kloosterkoeke as moordspeurders aan? Gaan hy dreig om sy inligting vir homself te hou omdat hy en daardie wipgat van ’n adjudant-offisier Neser nie sal regkom nie? Gaan hy vra wat’s fout met haar, raas daai koppie, of is dit net die seksuele frustrasies waarvan ou Freud praat?

      Haar foon lui. Sy bekyk dit. Is dit weer hy? Sélf die vingers afgeknip, liewe herder!

      Sy tel op. “Ja, Neser hier?”

      “Julies hiér. Kaptein Julies. Jimmy vir sy vriende, en solo­tenoor …”

      “Jy’s boonop ’n sanger, Jimmy?”

      “In die kerkkoor van die Eerste Independente-gemeente. Klink nie of jy sover ’n goeie dag het nie, dalk kan ek dit bietjie op­helder. Ons het afdrukke gekry aan die Checkers-sak – van ’n duim en voor­vinger. Ek weet dis min, maar dis iets.”

      “Dis goeie nuus, ek voel klaar beter. Dis nie dalk die voëlman s’n nie … meneer Hattingh?”

      “Nee, en die nuus word beter. Ek het dit vir AFIS gevoer, en nou kan jy maar Halleluja!”

      “Jy’t ’n match gekry?” Dankie tog vir die Automated Fingerprint Identification System.

      “Ja, die duim en wysvinger pas by ’n tienvinger-afdruk wat ons lankal op AFIS het, van die lang vingers van ’n ou kalant, onder vriend en vyand bekend as Stink Attie Kieser. Met ’n misdaadrekord van omtrent net twee bladsye korter as Crime and Punishment.”

      In die elektroniese argief bekyk Ella hierdie indrukwekkende in­ventaris van leeglêery, dronkenskap, openbare onsedelikheid, van ’n jong daggaroker wat dwelmsmous word, kleindief wat vorder tot sakkeroller en grypdief, met tussenin ’n paar kar-inbrake. Dis ’n CV wat strek van Stink Attie se twaalfde verjaardag tot nou, sy twee-en-veertigste jaar, in en uit die tronk. Lyk of hy sy MO die laaste jare verfyn

Скачать книгу