Versamelde poësie. D.J. Opperman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman страница 4
![Versamelde poësie - D.J. Opperman Versamelde poësie - D.J. Opperman](/cover_pre707258.jpg)
Bouquet
Ek stuur aan jou
’n ruiker rose
in fyn papier gevou;
dit gee aan my ’n eindelose
kalm gevoel;
want na gisteraand voel ek miskien
sal jy my nie vandag wil sien.
Ek stuur aan jou
die vlekkelose
half-oop rose.
Rodar en Yrsa
Rodar, die trotse, het met elke lied,
of diertjie wat hy vang langs bos of bult,
Yrsa sy heidenhart ru aangebied
sonder ’n mededinger ooit te duld.
Maar tog het hierdie liefde haar gekwel . . .
tot sy een aand toe Thor deur takke ruis,
as ’n bekeerde skugter hom vertel
van Christus en Sy sterwe aan ’n kruis.
Vol agterdog het hy wild opgespring:
“Ek deel my liefde nie,” en met die spies
onmagtig teen dié vyand haar gedwing
om hom óf die Gekruisigde te kies.
Toe gaan hy eensaam weer sy eie gang
en snikkend het sy snags na hom verlang.
Voorwinter
Ek mis jou losgestorte hare teen
my hals in hierdie kwynende seisoen;
ek weet vereensaam in die nag alleen
hoeveel ek nog vertrouelik wou doen.
As strakgespanne palmvingers tril
en bome nie meer blad of bloeisel dra,
maar alles kaal word en die nagte kil
dan brand in my die rooi poinsettia.
Hooft
Sy verse het met swier en groot getal
maar ook kunsmatig soos ’n parkfontein
se waters oopgeruis tot skone val
van ewewig en klank en kleur en lyn.
Die druppels het geblink soos blou kristal
waarin die lig van Griek en die Romein
se nuut-herrese son uit verre dal
’n rooi deur die versproeide woorde skyn.
Veel woorde het hy so gestort – al was
dit soms met waan, weet ek dit moes gebeur
omdat my denke ook verskole hou
onder die vorm, deursigtig soms soos glas,
onder die wind-bewoë waters deur
altyd die sku gestalte van ’n vrou.
Verlange
Hoe langsaam is die aande sonder jou
as alles in die stiltes doelloos lyk
en ek uiteindelik ’n boek oopvou
maar ure na dieselfde woorde kyk,
totdat ek weet wanneer ek so alleen
verskeie beelde uit myself opwek,
voer siel en siel bo alle skeiding heen
tog soms ’n woordelose tweegesprek.
Van al my vriende in die stad verskuil
en hulle samekomste luid en leeg,
word ek ’n eensaam afgeslote kuil
wat net in dieptes van myself beweeg,
want jou afwesigheid is meer vir my
as al die vreugdes wat ek elders kry.
Eilandgroep
Dit is maar enkel waan
dat ons ’n eenheid was;
groot stromings van die oseaan
het ons geëiland tot ’n argipel
van enkelinge waar ons briewe rou en skel
van strand tot strand soos meeue fladder
en van mekaar se eensaamheid vertel.
Wild staan die palms bo die water,
palms, bamboes en die gras,
maar in onbewuste dieptes êrens . . .
êrens is ons aan mekaar nog vas.
Wandeling
Ek het met jou deur koeltes van die bos
na die verlore vrede teruggekeer,
die skemering oor die natgedrupte mos,
die bessies, blomme en die wit-blou veer
wat van die snelle swalu glip en los
bly hang in trae kringe bo die meer,
waar muggies oor die helder waters tros
en visse blink-pens na die son omkeer.
Jy het my van die mense weggelei
na hierdie stil en afgeslote ryk,
waar met verwondering voor elke tree
ek sien hoe God hier kalmer vorm kry
en deur die bessies en die orgidee
en oë van die visse na my kyk.
Drif