Donderslag. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donderslag - Wilbur Smith страница 25

Donderslag - Wilbur Smith

Скачать книгу

pleit stil by hom, want hy is die mees senior van hulle.

      “Generaal Buller.” Hy praat sag, maar so dringend dat dit Buller se aandag trek, ondanks die bomskok. “Laat my ten minste toe om die kanonne te probeer terugkry. Ons kan hulle nie net so los nie. Laat my ’n groep vrywilligers …”

      “Ek sal gaan, generaal. Asseblief, laat ek probeer.” ’n Jong offisier druk ywerig voor Garry in. Garry weet wie hy is, almal weet, want buiten dat hy een van die mees belowende en gewildste jongelinge onder Buller se bevel is, is hy ook die legendariese lord Roberts se enigste seun.

      Met sy adjudant se hulp gaan Buller na ’n mimosaboom toe en sak swaar neer met sy rug teen die growwe bas. Hy kyk op na die jong Roberts toe, dof, skynbaar sonder belangstelling. “Nou goed dan, Bobbie, Lyttelton sal jou die manne gee. Gaan maar.”

      Hy spreek ’n doodvonnis oor die jong offisier uit. Nogtans lag Roberts opgewonde, opgeruimd, en hardloop na sy perd toe.

      “Ek dink ons het almal verversings nodig. Ek nooi julle vir ’n toebroodjie en ’n glas sjampanje, of hoe?”

      Buller knik vir sy adjudant, wat hom haas om kos en drank uit sy saalsakke te gaan haal. ’n Los kanonkoeël ontplof twintig jaarts van hulle af, en skop kluite oor hulle. Onwrikbaar vee Buller ’n stukkie droë gras uit sy baard en kies vir hom ’n gerooktesalm-toebroodjie.

      17

      Sean kruip met die sloot langs af na die rivier toe. ’n Kanonkoeël bars op die sloot se rand en laat kluite op sy rug neerreën. Hy stop om ’n nes gras uit sy baard te krap, en dan kruip hy na waar kolonel Acheson op sy hurke sit, in diepe gesprek met ’n kaptein in die Fusilliers.

      “Skuus, kolonel. Ek twyfel of jy my weer gaan benodig, of hoe?”

      Die kaptein lyk geskok oor hoe Sean die offisier aanspreek, maar Acheson grinnik vlugtig. “’n Boodskapper het pas hier aangekom. Hulle het ons beveel om terug te val.”

      “Wat ’n gatslag,” grom Sean sarkasties. “Net toe ons begin om die Boertjies lekker kaf te draf.” Al drie van hulle koes toe ’n masjiengeweer grond op die wal bo hul koppe losskop. Dan hervat Sean waar hy opgehou het: “Wel, in daardie geval groet ek nou, ek is op pad.”

      “Waarheen gaan jy?” vra die kaptein agterdogtig.

      “Nie oor daai brug nie.” Sean haal sy seroetstompie uit sy mond uit en beduie na die grys struktuur met sy aaklige nuwe kleure. “Ek het ’n gewonde ou by my, hy sal dit nooit maak nie. Het jy ’n vuurhoutjie?”

      Outomaties haal die kaptein ’n dosie wasvuurhoutjies uit sy hempsak.

      “Dankie, ek gaan stroomaf swem en ’n beter plek soek vir die oorgang.” Sean steek weer sy seroet se stompie aan, blaas ’n rookwolk en gee die kaptein se vuurhoutjies terug.

      “Dit was ’n plesier om jou te ontmoet, kolonel.”

      “Jy het toestemming om uit te val, Courtney.” Hulle kyk nog ’n sekonde langer in mekaar se oë, en Sean ervaar ’n sterk drang om die man se hand te skud, maar pleks daarvan begin hy terug te kruip met die sloot langs.

      “Courtney!” Sean stop en kyk oor sy skouer. “Wat is die ander gids se naam?”

      “Friedman. Saul Friedman.”

      Acheson skryf gou in sy notaboek en stop dit terug in sy sak.

      “Jy sal weer van vandag hoor. Als van die beste.”

      “Vir jou ook, kolonel.”

      ’n Ruk later kap Sean met sy bajonet ’n bosserige groen tak van ’n boom af wat oor die Tugela hang.

      “Komaan,” sê hy en Saul gly langs die gladde kleiwal af totdat hy tot by sy middel langs Sean in die water is.

      “Los jou geweer.”

      Gedienstig laat val Saul die geweer in die water.

      “Waarvoor is die bos?”

      “Om oor ons koppe te hou.”

      “Waarvoor wag ons?”

      “Vir Acheson om aandag te trek wanneer hy oor die brug probeer teruggaan.”

      Op daardie oomblik klink ’n skril fluitjie op die wal bokant hulle. Dadelik bars hewige dekvuur los en ’n klompie figure in kakie hardloop uit op die brug.

      “Nou,” sê Sean. Hulle sak saam in die bloedwarm water in totdat net hulle koppe, gehul in blare, bo die oppervlak uitsteek. Sean stoot hulle sagkens uit en dan vat die stroom hulle. Terwyl hulle wegdryf, kyk nie een van hulle terug na die siedende slagting op die brug nie.

      Twintig minute later is hulle ’n halfmyl stroomaf. Sean beur deur die stroom na die oorblyfsels van die spoorwegbrug toe wat stukkend in die rivier hang. Dit gee goeie toegang tot die suide en die spoorlyn se bultjie sal hulle vir die terugtog oor die vlakte dekking gee.

      Sean se voete raak die modderbodem en dan is hulle onder die lendelam brug soos kuikens onder ’n hen se vlerk. Hy laat die tak wegdryf en sleep vir Saul tussen die metaalpilare na die wal toe.

      “Ons rus vyf minute,” sê hy en hurk langs Saul om die verband wat nou oor sy makker se ore sak weer styf te bind. Modderige water stroom uit hulle deurweekte uniforms, en Sean weet die rookgoed in sy hempsak is daarmee heen.

      Hulle kies koers met ’n dreineringsloot langs wat langs die spoorlyn se hoë wal loop. Sean loop gebukkend daarin en por Saul voor hom aan, skree elke keer vir hom as hy sy krom rug wil verligting gee deur orent te kom. Eenkeer laat ’n skerpskutter op die koppies agter hulle ’n koeël in die gruis langs Sean se kop vasslaan, en Sean vloek en loop dat sy neus amper teen sy knieë stamp. Maar Saul kom dit nie agter nie. Met wankelende bene strompel hy voort, totdat hy uiteindelik val en in ’n patetiese bondel onder in die sloot lê.

      Sean skop hom. “Staan op, magtig!”

      “Nee, Ruth. Moenie my nou al wakker maak nie, dis Sondag. Ek hoef nie vandag te werk nie.” Hy praat duidelik, oortuigend. Saul kyk op na Sean, maar sy oë is vaal en die pupille is in stippels getrek.

      “Staan op! Staan op!” Die gebruik van Ruth se naam maak Sean woedend. Hy gryp Saul se skouer en skud hom. Saul se kop ruk woes en vars bloed sypel deur die verband. Meteens is Sean jammer, en lê hom saggies neer.

      “Saul, asseblief. Jy moet probeer. Nog net ’n klein entjie.”

      “Glansloos,” fluister Saul. “Daar is g’n glans aan nie. Ek wil dit nie hê nie.” En hy maak sy oë toe, sy lippe pruil oop en sy asem blaas met klein borreltjies spoeg daardeur.

      Smorende paniek daal oor Sean neer toe hy na Saul se gesig kyk. Sy oë het in donker pruimkleurige kaste teruggesak, en die vel span styf oor sy wange en benerige neus.

      Nie omdat ek hom amper doodgemaak het nie, nie omdat ek hom dit skuld nie. Maar omdat … omdat … Hoe definieer jy jou gevoelens teenoor ’n ander man? Al wat jy kan sê is: omdat hy my vriend is. Omdat hy my vriend is, kan ek hom nie hier los nie.

      Sean sak langs hom neer en kry die slap liggaam in ’n sittende

Скачать книгу