Donderslag. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donderslag - Wilbur Smith страница 27

Donderslag - Wilbur Smith

Скачать книгу

hy so sorgvuldig gestel het. Van bo af kan hy die loopgrawe sien, versteek en slim geplaas sodat hulle ondraaglike vuur kon laat neerreën in die graskom waarin hy die Britse mag wou lok. Nou sal daardie wip nooit toeslaan nie, want hy weet die Britte sal nie weer terugkom nie.

      Hennie kom teen die steilte uit met sy perd aan die hand, en Jan Paulus klim in die saal. “Komaan, laat ons ondertoe gaan.”

      Op twee-en-veertig jaar is Jan Paulus le Roux jonk vir sy bevelspos. Daar was teenkanting in Pretoria toe hy ná ou generaal Joubert se aftrede aangestel is, maar president Kruger het vasgeskop en die volksraad moes maar verlief neem. Tien minute gelede het Jan Paulus vir die president ’n telegraafboodskap gestuur wat sy vertroue regverdig het.

      Met lang stiebeuelrieme, sy massiewe lyf loslit en ontspanne in die saal, sy sambok wat aan sy pols hang en die wyerandhoed wat sy gesig beskerm, ry Jan Paulus nader om te sien wat die geveg opgelewer het.

      Toe hy die koppies bereik en tussen die burgers deur ry, staan hulle in loopgrawe teen die hellings op en juig hom toe. Hulle stemme smelt saam in ’n dawerende gebulder wat van die hoogtes af eggo soos leeus wat ’n suksesvolle jag aankondig. Uitdrukkingloos bekyk Jan Paulus hulle gesigte in die verbygaan. Hulle is vol rooi stof en kruitvlekke, en sweet loop in donker strepe deur die vuiligheid. Een man met ’n beenwond gebruik sy geweer as kruk en daar is harde lyne van pyn om sy mond terwyl hy jubel. Jan Paulus trek sy perd in. “Lê plat, kêrel, is jy nou totaal besimpeld!”

      Die man gryns gepynig en skud sy kop. “Nee, oom Paul. Ek gaan saam om die kanonne te gaan haal.”

      Bruusk beduie Jan Paulus vir die manne wat langs die gewonde burger staan. “Vat hom weg. Vat hom na die dokters toe.” En hy ry tot waar kommandant Van Wyk vir hom wag.

      “Ek het jou gesê om jou manne in te hou totdat die Kakies oorgesteek het,” sê hy sommer met die groetslag.

      Van Wyk se glimlag verdwyn. “Ja, oom Paul. Ek weet. Maar ek kon hulle nie keer nie. Die jong outjies het dit begin. Toe hulle die kanonne so reg onder hulle neuse sien … Ek kon hulle nie keer nie.” Van Wyk draai en wys oor die rivier. “Kyk net hoe naby is hulle.”

      Jan Paulus kyk oor die rivier. Die kanonne staan in die oopte, so naby dat hy die wielspeke tussen die doringbossies deur kan tel en die bronsdetail op die vuurmeganismes kan sien.

      “Die versoeking was te groot,” las Van Wyk floutjies by.

      “Tja. Dis gedane sake en ons kan dit nie met woorde ongedaan maak nie.” Grimmig besluit Jan Paulus dat hierdie man nooit weer bevel sal voer nie. “Komaan, ons gaan haal hulle.”

      By die padbrug roep Jan Paulus halt en die lang ry ruiters steek vas. Hoewel dit nie op sy gesig wys nie, ruk sy maag van afsku oor wat hy sien.

      “Kry hulle uit die pad uit,” beveel hy. Toe die dertig burgers afklim en vorentoe gaan om die brug skoon te maak, roep hy agter hulle aan: “Hanteer hulle versigtig, tel hulle op, moet hulle nie soos mieliesakke rondsleep nie. Dit was manne hierdie, dapper manne.” Langs hom huil die seun, Hennie, openlik. Die trane val op sy gelapte tweedbaadjie.

      “Wees stil, jong,” sê Jan Paulus sag. “Trane is vir vroumense.” En hy stuur sy perd deur die nou gangetjie tussen die dooies. Dis net die stof en die son en die liddietwalms wat sy eie oë irriteer, probeer hy homself wysmaak.

      Stil, sonder die triomfantelike houding van oorwinnaars, kom hulle by die kanonne en sprei tussen hulle uit. Dan klap ’n enkele skoot en ’n burger steier en gryp na ’n kanonwa se wiel vir steun.

      Jan Paulus ruk sy perd om en lê plat langs die dier se nek soos hy na die donga toe jaag waarvandaan die skoot gekom het. Nog ’n skoot fluit oor sy kop, maar net toe kom Jan Paulus by die donga. Hy trek sy perd op sy agterbene in, spring uit die saal en skop die geweer uit die Britse manskap se hande uit voordat hy die vent orent pluk.

      “Daar was al klaar vandag te veel doodslag, jou sot.” Hy struikel oor sy Engelse woorde, sy tong lomp van woede toe hy in die soldaat se gesig skree. “Dis oor en verby. Gee op.” En dan wend hy hom tot die oorlewende kanonniers wat in die donga skuil. “Gee oor, almal van julle!” Vir ’n lang minuut beweeg niemand, dan staan hulle een-een op en skuifel uit die donga uit.

      Terwyl ’n groep Boere die gevangenes weglei, en ander begin om die kanonne en ammunisiewaens aan te haak, kom Britse draagbaardraers van tussen die bome af aangestryk. Sommer gou loop die kakiefigure en die burgers deurmekaar, soos patryshonde op soek na gewondes.

      Twee van hulle, Indiërs van die mediese korps, kry ’n man wat op die linkerflank lê. Jan Paulus sien hulle het moeite met hom. Hy gee sy perd se leisels vir Hennie en gaan staan nader.

      Half deurmekaar vloek die gewonde man iets verskrikliks en sit hom teë toe die twee Indiërs sy been wil spalk.

      “Los my uit, julle bliksems,” sê hy en ’n swaaiende vuis tref een van hulle dat hy doer op sy bas gaan sit. Jan Paulus herken die hou en die stem, en begin hardloop.

      “Gedra jou, of ek klap jou dat jy hik,” grom hy toe hy by die gewonde man kom.

      Dronkerig rol Sean sy kop en probeer kyk wie daar staan. “Wie praat? Wie’s jy? Bly weg, los my uit!”

      Jan Paulus antwoord nie. Hy kyk na die wonde en wil opgooi daarvan.

      “Gee vir my.” Hy vat die spalke van die geskokte draers af en hurk langs Sean.

      “Voertsek!” skree Sean vir hom. “Ek weet wat jy wil doen. Jy wil hom afsny!”

      “Sean!” Jan Paulus gryp sy gewrig en hou dit vas terwyl Sean spartel en vloek.

      “Ek sal jou vrekmaak, jou etter. Ek sal jou vrekmaak as jy net aan my been raak.”

      “Sean! Dis ek. Kyk na my!”

      En stadig begin Sean ontspan, sy oë kry rigting. “Dis jy … dis sowaar jy,” prewel hy. “Moenie dat hulle … moenie dat hulle my been vat nie. Nie soos hulle met Garry gemaak het nie.”

      “Wees stil, of ek moker jou oor die kop,” grom Jan Paulus. Nes sy gesig, is sy hande groot en rooi, met eelterige vingers soos worse, maar nou gaan hy so sagkens te werk soos ’n ma met haar kind. Uiteindelik, terwyl hy die enkel vashou, kyk hy na Sean.

      “Hou nou vas, ek moet hom reguit trek.”

      Sean probeer glimlag, maar sy gesig is grys onder die gevegsvuil, en sweet pêrel soos ’n uitslag van klein blasies op sy vel.

      “Moenie so baie praat nie, Boertjie. Doen dit!”

      Diep in die geskeurde vlees kraak been teen gebreekte been en Sean snak na sy asem. Elke spier in sy lyf ruk saam, en ontspan dan toe hy flou word.

      “Ja,” hyg Jan Paulus. “Dis beter.” En nou wys sy gesig vir die eerste keer meegevoel. Hy maak klaar met die verbande, en vir nog ’n paar sekondes bly hy langs Sean se bewustelose lyf hurk. Dan fluister hy so sag dat die twee draers nie kan hoor nie: “Slaap lekker, boet. Mag die Here jou been spaar.”

      En hy kom orent, alle tekens van jammerte of hartseer weer agter die rooi klipwand van sy gesig verberg.

      “Vat hom weg,” beveel hy, en wag terwyl hulle die draagbaar optel en daarmee wegstrompel.

      Hy gaan na sy perd toe,

Скачать книгу