Donderslag. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donderslag - Wilbur Smith страница 23

Donderslag - Wilbur Smith

Скачать книгу

maak geen sin nie, maar Sean gaan terug om hom te haal.

      Ondanks die aanslae van vrees, vind Sean die krag om vir Saul op te tel en met hom te hardloop.

      Hy haat sy makker soos nog nooit tevore nie, strompel voort na die sloot toe met Saul op sy rug. Sy gedagtes gaan so wild op loop dat dit voel of tyd stadiger verbygaan, asof hy vir ewig hardloop.

      “Vervloekte bliksem!” vorm sy mond die woorde. Hy haat vir Saul. “Jy kan in jou moer in vlieg!” Die woorde kom maklik uit sy mond uit, ’n redelose uitdrukking van sy angs.

      Dan gee die grond onder sy voete mee en hy val. Saam beland hulle in die sloot en Sean rol van hom af weg. Hy lê op sy maag, druk sy gesig teen die grond en skud soos iemand wat hoë koors het.

      Stadig kom hy van daardie ver plek af terug waarheen die vrees hom gedryf het, en hy lig sy kop.

      Saul sit teen die sloot se wal. Sy gesig is besmeer met bloed en modder.

      “Hoe’s dinge?” kreun Sean en Saul kyk dofweg na hom. Dis helder en baie warm in die son. Sean skroef sy waterbottel oop en hou dit teen Saul se lippe. Saul sluk pynlik en die water loop oor sy ken en mors op sy baadjie.

      Dan drink Sean en hyg daarna van plesier.

      “Kom ons kyk na jou kop.”

      Hy haal Saul se hoed af, en die bloed wat onder die sweetband opgedam het, stort soos ’n brander teen sy nek af. Sean sprei die nat swart hare oop en kry die groef in Saul se kopvel.

      “Skrams skoot,” brom hy en voel na die veldverband in Saul se baadjiesak. Terwyl hy ’n onnette tulband om Saul se kop bind, kom hy agter dat ’n vreemde stilte op die gevegsveld neergedaal het, stilte wat net nog meer opvallend is wanneer hy die mans rondom hom se stemme hoor, en af en toe ’n skoot wat vanaf die hoogtes klap.

      Die geveg is verby. Ons het darem ten minste oor die rivier gekom, dink hy bitter. Die enigste probleem is nou om weer terug te gaan.

      “Hoe voel dit?” Hy gebruik sy nat sakdoek om die bloed en stof van Saul se gesig af te vee.

      “Dankie, Sean.” Dan besef Sean dat Saul se oë vol trane is en dit maak hom verleë. Hy kyk anderpad.

      “Dankie dat … dat jy teruggekom het om my te haal.”

      “Dis niks.”

      “Dis nie niks nie. Ek sal dit nooit vergeet nie, so lank ek leef.”

      “Jy sou dieselfde gedoen het.”

      “Nee, ek glo nie. Ek sou nie kon nie. Ek was so bang, so vrek bang, Sean. Jy sal nooit weet nie. Jy sal nooit weet hoe dit voel om so bang te wees nie.”

      “Vergeet daarvan. Los dit uit.”

      “Ek moet jou sê. Ek is dit aan jou verskuldig. Van nou af skuld ek jou … As jy nie teruggekom het nie, het ek nou nog daar gelê. Ek skuld jou.”

      “Bly stil, magtig!” Hy sien dat Saul se oë anders is, die pupille het tot klein swart kolletjies gekrimp en hy skud sy kop sonder bedoeling, soos ’n idioot. Die koeël het hom harsingskudding gegee. Maar dit kan nie verhinder dat Sean woedend word nie. “Hou jou bek,” snou hy. “Jy dink ek weet nie van vrees nie? Ek was so bang daar buite, ek het jou gehaat. Hoor jy my? Ek het jou gehaat!”

      En dan raak Sean se stem sagter. Hy moet aan Saul en aan homself verduidelik. Hy moet hom daarvan vertel, om dit te regverdig en in die groter prentjie in te pas.

      Skielik voel hy baie oud en wys. In sy hande het hy die sleutel tot die lewe se geheime. Dis als so duidelik, vir die eerste keer verstaan hy en kan hy dit verduidelik.

      Hulle sit naby mekaar in die son, ’n ent van die ander manne af, en Sean se stem raak ’n dringende fluister terwyl hy vir Saul probeer verduidelik, terwyl hy hierdie kennis wat alle waarheid omvat met Saul probeer deel.

      Langs hulle lê ’n korporaal, een van die Fusilliers. Hy lê op sy rug, dood, en die vlieë swerm om sy oë en lê hulle eiers. Dit lyk soos klein ryskorrels in die wimpers om sy oop, dooie oë.

      Saul leun swaar teen Sean se skouer, nou en dan skud hy sy kop, deurmekaar, terwyl hy na Sean luister. Hy luister na Sean se stem wat hort en stotter, en dan haastig voortgaan soos wat sy idees krummel en vou, hoor die desperaatheid daarin terwyl Sean probeer om net ’n paar stukkies oor te hou van die kennis wat hy oomblikke tevore so helder gehad het. Hy hoor die stem wegsterf en stil raak omdat Sean hartseer besef die insig is verlore.

      “Ek weet nie,” erken Sean uiteindelik.

      Dan praat Saul. Sy stem is dof en sy oë is glasig, kan nie ordentlik fokus nie, terwyl hy Sean van onder die bloedbevlekte tulband aankyk.

      “Ruth,” sê hy. “Jy praat soos Ruth. Partykeer as sy nie in die nag kan slaap nie, probeer sy my vertel. Ek verstaan amper, sy kry dit amper gesê en dan stop sy. ‘Ek weet nie,’ sê sy oplaas. ‘Ek weet eenvoudig nie.’ ”

      Sean ruk weg van Saul af, staar in sy gesig. “Ruth?” vra hy sag.

      “Ruth, my vrou. Jy sal van haar hou, Sean, en sy van jou. So dapper. Sy het deur die Boerelinies na my toe gekom. Al die pad van Pretoria af, op haar eie. Sy het na my toe gekom. Ek kon dit nie glo nie. Die ganse pad! Sy het eendag doodluiters in die kamp in gestap en gesê: ‘Hallo, Saul. Ek’s hier!’ Sommer net so. Jy sal van haar hou as jy haar ontmoet, Sean. Sy is so mooi, so rustig …”

      In Oktober as die groot winde waai, kom hulle ná ’n groot stilte. Vir omtrent ’n maand is dit warm en droog, en dan hoor jy hulle van ver af druis. Die gedruis word harder, die stof warrel bruin voor die wind en die bome leun skeef, swaai en roei met hulle takke. Jy sien dit kom, maar al jou voorbereidings is niks werd wanneer dit jou tref nie. Die ontsaglike dreuning en die stof vou jou toe en jy is stomgeslaan en verblind deur die geweld daarvan.

      Net so sien Sean dit kom, hy herken dit as die moorddadige woede wat voorheen amper ’n man se lewe gekos het, maar hy kan hom desondanks nie voorberei nie. En dan is dit op hom en die gedreun daarvan vul sy kop en laat sy visie vernou totdat hy niks anders kan sien as Saul Friedman se gesig nie. Die gesig is in profiel, want Saul kyk terug oor die vlakte na Colenso se kant toe, na die Britse linies.

      Sean tel die dooie korporaal se geweer op en lê dit dwars oor sy skoot. Met sy duim druk hy die veiligheidsknip af, maar Saul merk dit nie.

      “Sy is in Pietermaritzburg. Ek het verlede week ’n brief van haar af gekry,” prewel Saul, en Sean verskuif die geweer op sy skoot sodat die loop na die kant van Saul se bors mik, onder die arm.

      “Ek het haar na Pietermaritzburg toe gestuur. Sy bly daar by haar oom.” Saul lig sy hand en vat aan sy kop. Sean se vinger krul om die sneller. “Ek wens jy kon haar ontmoet, Sean. Sy sal van jou hou.” Nou kyk hy Sean reg in die gesig, sy uitdrukking vol patetiese vertroue. “Wanneer ek skryf, gaan ek haar van vandag vertel, van wat jy gedoen het.”

      Sean druk die sneller al die pad tot by die laaste haakplek.

      “Ons is albei in die skuld by jou …” Saul bly stil en glimlag verleë. “Ek wil net hê jy moet weet ek sal dit nooit vergeet nie.”

      Skiet hom, druis Sean se kop. Skiet hom nou, doen dit gou. Moenie dat hy praat nie.

Скачать книгу