Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman страница 12

Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman

Скачать книгу

getroude lewe te aanvaar. As jy vyf-en-twintig is, gaan jy stokoud voel; voel dat die lewe by jou verbygegaan het, dat jy nooit die sorgvrye dae geniet het waarop elke jongmeisie geregtig is nie – toe jy kon maak wat jý wou en jou geld jou eie was om ’n duur rok mee te koop sonder dat manlief frons en verwyt jy mors sy geld. Die juk gaan gou begin skaaf. Jy moes soos ek gemaak het en eers die lewe geniet het, eers oorsee gegaan het voordat jy jou bind. En wanneer ’n meisie ouer is en die lewe gesien het, is dit makliker om by die getroude lewe aan te pas. Jy voel nie meer gegrief en gekul as jy elke dag voor die stoof moet swoeg en skottelgoed was en huis skoonmaak, en nooit uitgeneem word of vertel word jy is mooi nie. Jy gaan jou lekker sorgelose jongmeisiedae in Johannesburg mis, Janie-kind.”

      Janie het hierdie selfde bedenkinge al gehad, maar dit maak haar benoud om dit uit ’n ander se mond te hoor.

      “Miskien is jy reg, Katinka. Maar Theo het darem belowe dat ons af en toe vir ’n naweek Johannesburg toe sal gaan vir ’n fliek en inkopies.”

      “Moenie jou hart daarop plaas nie, Janie. Dit sal meer af as toe wees. Hier is baie opgehoopte werk en ou Flip is nie baie betroubaar nie. Theo is fanatiek toegewyd aan sy werk hier in Pafuri en hy gaan nie ’n maklike mens wees om mee getroud te wees nie.” Sy lag effens. “Ek skinder nie. Eintlik is hy seker ’n gawe persoon en ons vergewe hom omdat hy baie ander goeie eienskappe het, maar ons hier by Pafuri is ’n bietjie skrikkerig vir daardie haastige humeur van hom. Ek dink jy het ook al daarmee kennis gemaak, Janie …”

      Janie knik verleë. Dit was seker vir almal duidelik dat sy en Theo haaks was en dit sal seker nie help om dit te ontken nie.

      “Nadat ons van die veldbrand verneem het, was Theo haastig om daar te kom. Hy het amper in ’n olifant vasgery en ek het my kop teen die paneelbord gestamp … en raas gekry omdat my sitplekgordel nie vas was nie.”

      Katinka glimlag medelydend. “Dit was onredelik van hom. Theo kan soms soos ’n maniak ry en hy moes self gesorg het dat jy veilig vasgegord was. Sies tog, jy het seker baie seer gekry en op daardie tydstip troos meer nodig gehad as raas. Dit was wreed van Theo. Ek kan sy nek vir hom omdraai. Om so te maak op die eerste dag van julle getroude lewe en ook jou eerste dag in die reservaat! Eerste indrukke is blywend en so iets kan veroorsaak dat jy nooit hier gelukkig sal wees nie.”

      “Ek het die raas seker verdien. En dit was seker ook my eie skuld dat ek vanaand verdwaal het. Theo het gesê ek moet in die motor bly sit en ek het nie geluister nie.”

      “Dit was onbillik van hom om te verwag jy moet ure lank in daardie warm motor sit. Ons ander het almal iets te drinke gekry, en sop en toebroodjies om te eet, maar arme jý moes droëmond daar sit. Theo het skoon van jou bestaan vergeet en ek het nie geweet jy is in die motor nie.”

      “Dit was juis omdat ek dors gekry het dat ek water wou gaan soek. Maar ek het nie geweet die spruit is so ver nie.”

      “Het jy van die spruit se water gedrink?” vra Katinka dadelik.

      “Ja. Moes ek nie?”

      “Dit maak nie saak nie. Daardie water is veilig. Almal drink altyd daarvan. Maar moet liewer nie vir Theo daarvan vertel nie. Jy ken hom. Hy sal weer sê daar was dalk kieme in en jy moes liewer eers gevra het voor jy van daardie water gedrink het. Ek dink dis wys om daardie feit maar te verswyg en hom nie rede te gee om verder met jou te baklei nie. Vir een dag het jy al meer as genoeg deurgemaak.”

      “Ek dink dis goeie raad wat jy my gee,” lag Janie. “Ek bly tjoepstil oor daardie water. Was Theo baie kwaad toe hy by die motor gekom het en ek was weg?”

      “Woedend. Ek het baie nuwe woorde geleer. Ek sal liewer nie al die name herhaal wat hy jou genoem het nie. Hy was ergerlik oor die oponthoud, want hy was haastig om by die kamp te kom en ’n boodskap na Messina se brandweer te stuur. Hy het toe maar met een van die toeriste laat weet die brand is onder beheer, maar jy was op daardie oomblik nie baie gewild nie. Ek was vies vir Theo dat hy voor daardie ander mense so lelik van sy jong vroutjie gepraat het. Om jou onthalwe het ek verneder gevoel en dis hoekom ek so bly was toe jy hom ’n rukkie later goed die waarheid vertel het. Jy moenie toelaat dat Theo jou boelie nie, Janie. Staan jou man en baklei net so kliphard terug, anders sal jy ondergaan. Of spring hom voor en klim in voor hý kan begin rusie maak, soos jy vanaand gemaak het.”

      “Gaan ons lewe dan een lang geveg wees?” vra Janie. “Een na die ander ronde wat ten alle koste gewen moet word om myself van ondergang te red? Is dít die vooruitsig wat ek vir die volgende vyftig jaar of meer van getroude lewe het?”

      Katinka lag oor die beteuterde uitdrukking op Janie se gesig en lê ’n simpatieke arm om haar skouers.

      “Toe maar, so erg sal dit seker nie wees nie. Ek sal altyd daar wees en jy is welkom om op my simpatieke skouer te kom huil. Ek woon in ’n groot rondawel aan die noordekant van die kamp en as dinge vir jou ondraaglik raak, is jy welkom om by my te kom bly. Ek hou van jou, Janie. Jy is ’n oulike persoon en ek hoop ons twee gaan goeie vriendinne word. Hier is nie veel jong mense in Pafuri nie en die eensaamheid vang ’n mens partykeer,”

      “Gesels jy nooit met die toeriste nie?”

      “Soms. Maar ’n mens kan nie hegte vriende word met mense wat net ’n paar dae in die reservaat met vakansie is nie.”

      “Walt!” onthou Janie meteens. “Ek wou jou nog oor hom uitgevra het, maar met al ons geselsery het dit my skoon ontgaan. Hy het ’n snaakse ding gesê …”

      “Ou Walt praat altyd te veel. Moenie jou aan al sy praatjies steur nie. Watter snaakse ding het hy nou weer kwytgeraak?”

      “Ek weet nie …” Janie is nie meer seker of haar verbeelding met haar op loop gesit het nie. “Dis net … hy het gesê hy is Theo se geliefkoosde neef en hy het dit in so ’n eienaardige stemtoon gesê.”

      Katinka lag gemaklik. “Hy het nie juis veel kompetisie nie. Hy is Theo se enigste neef. Theo is ook ’n enigste kind en afgesien van Walt, is daar nie nog neefs of niggies nie.”

      “Ja, hy het seker ’n grap gemaak. Maar hy het ook gesê Theo verkies om van sy aanwesigheid op hierdie aarde te vergeet.”

      “As Walt mý familielid was, sou ek hom ook nie graag wou erken nie,” lag Katinka. “Hy vang altyd allerhande onvoorspelbare dinge aan en sy naam is kort-kort in die koerante met die een of ander moderne kunsuitstalling wat veronderstel is om die fondamente van die onestetiese aarde te skud, maar dan val dit plat. Walt sien homself as ’n tweede Picasso en hy geniet sy martelaarsrol.” Sy kyk nuuskierig na Janie. “Hou jy van Walt?”

      “Ek was te moeg om behoorlik te oordeel, maar ek het die idee gekry hy is ’n gawe persoon. Hy verstaan beslis die kuns om jou soos ’n dame te laat voel – selfs al is jy vol roet en as en besmeer.”

      “Jy is reg. Walt is oulik. Baie gaaf en vol pret. Ek en hy was saam in ’n oorsese toergroep en dit was lekker gesellig. Dis altyd aangenaam as hy na nóg ’n mislukte uitstalling Pafuri toe kom om sy wonde te lek, gratis te woon en dierestudies te maak. Ek geniet sy geselskap en jy sal ook. Dit breek darem die eensaamheid.”

      “Hoe lank bly Walt gewoonlik?”

      “Soms twee maande, soms langer. Partykeer laai hy ’n tent, slaapsak en voorrade in sy motor en verdwyn vir ’n week of twee om dieresketse te gaan maak. Hy het nogal baie talent, mits hy by realisme bly.”

      “Hoe oud is hy?”

      “Laat ek sien … Ons drie is amper

Скачать книгу