Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman страница 7

Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman

Скачать книгу

bruidegom. Veral pas nadat sy haar kop so seer gestamp het …

      Theo is egter reeds besig om die enjin aan te skakel.

      “Draai op die venster,” is al wat hy sê. “Hier is baie doringbome in die omgewing en die takke kan jou lelik krap. En sluit ook die deur aan jou kant.”

      “Theo, sê my …” Janie skuif effens nader aan hom. “Sou jy stilgehou het netnou as ek dalk uitgeval het?”

      Theo knik afgetrokke, sy aandag weer by die pad en by die lug aan die oostekant, waar hy reeds tekens van die rook kan sien. Dis ’n verwoestende brand daardie. Hy hoop die damwal en die twee nuwe windpompe bly nie in die slag nie …

      “Sou jy regtig?” Janie laat haar kop teen sy skouer rus en gee die bruingebrande hand op die stuurwiel ’n ligte drukkie.

      “Sou ek regtig wat? Oppas, die pad is nou en ek sal nie vinnig kan uitswaai as jy so naby aan my sit nie.”

      Janie skuif dadelik weg, so ver moontlik in haar eie hoekie en vas teen die deur.

      “Dit spyt my,” sê sy koel. “Ek wou net weer vriende maak. Dis vir my belangrik dat ons huwelik nie so gou reeds moet skeefloop nie. Ek sal nie weer teenaan jou sit of jou hand vashou nie. Ek sal nie weer aan jou ráák nie.”

      “Janie, dis omdat jy jou soos ’n moedswillige kind gedra dat ek jou soos een behandel. Ek wil nie hê jy moet agterna sê dis mý skuld dat jy bloedvergiftiging gekry het omdat die dorings jou gekrap het nie.”

      Sommer so in die ry leun Theo oor, druk die deurknoppie af en draai Janie se venster toe. Sy arm skuur teen haar wang en skouer en Janie skuif dadelik agtertoe, weg van hom af en stywer teen die rugleuning.

      As Theo dit opgemerk het, lewer hy geen kommentaar nie. Langs die motor kom reeds ’n paar verskrikte voëls verbygevlieg en nou kan hy ook die rook begin ruik. Hoekom breek ’n brand altyd uit juis wanneer hy nie in die reservaat is nie? En hoekom is daar vandag nie die geringste teken van reënwolke in die lug nie? Hy hoop Flip Venter en sy helpers het reeds met ’n voorbrand begin.

      En hopelik is daar nog ’n bietjie water in daardie droë loop van die Mutale-rivier wat die vlamme effens sal demp. Met die Johannesburg-toe-ganery het hy nie verlede week daardie pad gepatrolleer nie en hy weet ook nie of daardie trop van bykans dertig waterbokke nog in die Dzata-omgewing is nie. Hy kan maar net hoop die tropleier het betyds onraad geruik en deur die Pafuri-rivier na veiligheid gevlug …

      “Steenbokkie!” sê Theo skielik. Hy beduie nie waar nie en laat dit aan Janie self oor om in die ruie gras na die klein bokkie te soek. “Het jy hom gesien?”

      “Nee,” en sy doen ook nie moeite om rond te kyk nie. Dis drukkend warm in die motor en sy het ’n dowwe hoofpyn ontwikkel. En so maklik vergewe sy ook nie vir Theo nie …

      “Dáár hardloop hy! Dis ’n mooi rammetjie.”

      “Baie mooi,” stem Janie koel saam, maar sy staar stip voor haar in die pad en lewer ook geen kommentaar toe die motor se skokdempers weer eens deurstamp in ’n slaggat wat Theo nie betyds gesien het nie.

      Sy hoop hierdie duur motor van hom breek. Sy wens hy stamp die Mercedes teen ’n klip of iets – of stamp sy eie kop teen die ruit, tien keer seerder as wat sy háár kop gestamp het …

      Dan kry Janie skielik skaam oor haar wraakgedagtes. Dis kleinlik van haar; amper net so kleinlik as wat Okkie was. ’n Veldbrand is ’n ernstige saak en sy kan Theo seker nie kwalik neem as hy ongeduldig met haar is of nie aandag aan haar gee nie. Dis nie dat sy regtig kinderagtig is nie, dis sommer maar dat sy huis toe begin verlang: na haar vriende en die kantoor en haar ou woonstelletjie oorkant die park, na die bekende dinge wat haar minder onseker en bang vir die toekoms sal laat voel.

      En na haar ma … Hoe bitter graag sou sy nie gistermiddag haar ma by haar wou gehad het nie! Dit was haar huweliksdag en daar was nie ’n ma of ’n pa of selfs ’n tante of ’n suster om haar by te staan en te sê sy doen die regte ding en Theo Vermaak is die regte man vir haar en sy sal gelukkig woon in ’n verafgeleë wildreservaat nie.

      Dit was net Theo. Maar gister was hy so lieftallig en bedagsaam teenoor haar. Nie soos vandag nie. Vandag is sy heeltemal alleen …

      Die dowwe hoofpyn het erger geword en dit voel nou soos hamerslae teen haar slape. Janie voel weer die branderigheid van trane agter in haar keel, maar sy onderdruk dit. Sy gaan Theo Vermaak nie weer die geleentheid gee om te sê sy moenie in trane uitbars en histeries raak nie. Hy het haar gewaarsku hy het nie veel kennis van vroumense nie, maar sy het darem ’n groter mate van begrip van hom verwag. Hy het haar immers lief.

      Miskien moes sy Marina se aanbod aanvaar het om saam te kom landdroskantoor toe. Hierdie gevoel van eensaamheid het gister reeds begin en die onpersoonlike atmosfeer van die kantoor en die saaklikheid van die landdros het dit vererger. En toe word twee wildvreemde en onbelangstellende klerke geroep om as getuies te dien. Dit was nie hoe sy altyd gedroom het oor haar huweliksdag nie.

      Of miskien moes sy en Theo in die kerk getrou het. Dit sou baie gehelp het as daar gewyde orrelspel was en dalk blomme in die kerkgebou, en ’n vaderlike predikant met ’n mooi boodskap …

      Die vlamme is baie erger as wat Janie verwag het en nou besef sy ook dat dit nie swaar reënwolke is wat sy op die horison gesien het nie, maar rook.

      “Bly in die motor!” skree Theo bokant die gedruis van die vlamme uit. Hy spring uit en hardloop na ’n man wat ook die uniform van ’n veldwagter aanhet.

      Janie kan nie uitmaak hoeveel mense daar is en wat hulle met die sakke en stukke afgebreekte takke probeer doen nie. Sy sien ook nie ’n brandweerwa nie en wonder bekommerd of Theo nie te naby aan die smeulende bosse stilgehou het nie. Daar is so ’n lawaai en dit lyk of almal deurmekaar rondhardloop. Sal iemand hoor as sy skree?

      “Dankie tog jy is hier!” skree Flip vir Theo. “Ons het ’n voorbrand gemaak, maar dit gaan nie genoeg wees nie. Ons moet ’n breër een agtertoe maak – teen die spruit. Daar is darem nog ’n bietjie water in en daar is die bosse effens groener.”

      “Hoe lyk dit?”

      Flip skud sy kop. “Ons vorder, maar dit lyk nog steeds sleg. Ek het Njelele toe geradio vir nog hulp. Enigiemand – selfs gewillige vakansiegangers. Die brandweer op Messina staan op ’n gereedheidsgrondslag indien ons hulle nodig kry.”

      “Ek wil g’n toeris hier hê nie,” sê Theo kortaf. “Hulle weet net hoe om ’n brand te stig, nie hoe om dit te blus nie. Wat maak daardie kinders hier?”

      “Katinka het die skool gesluit sodat hulle kon kom help. Sy is ook hier iewers …”

      “Ons kan dit nie toelaat nie. Sê sy en die kinders moet onmiddellik padgee voordat nóg ’n ramp ons tref.”

      Theo volg Flip se voorbeeld en bind ’n nat lap oor sy mond en neus. Dan tel hy ’n brandblusser op, voel dis leeg en gooi dit eenkant toe. Hy gryp ’n mlalapalmtak, roep ’n span werkers en hardloop af na die spruit se kant toe. “Ek gaan saam met Theo!” roep iemand in ’n pikswart besmeerde denimlangbroek en serp om die kop en gesig.

      Janie kon nie bokant die gedruis hoor wat die persoon skree nie, maar aan die manier van hardloop kan sy sien dis ’n meisie. Sou dit die Katinka wees van wie daardie ouerige man by die ingangshek gepraat het?

      Deur

Скачать книгу