Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman страница 5

Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman

Скачать книгу

en belowe om te kom kuier, maar sy is bang sy begin huil en dan voel Theo sleg.

      “Dankie vir … vir alles,” sê sy onbeholpe en hou Theo se hand baie styf vas. “Julle moet mooi bly …”

      In die motor oorhandig Theo ’n bos blomme en sy sakdoek aan haar.

      “Dankie, dis pragtige blomme. Moenie so omgekrap lyk omdat ek … h-huil nie, Theo. Dis sommer niks nie. Alle m-meisies huil wanneer hulle gelukkig is.” Janie streel bewerig oor die groot bos wit rose.

      “Is dit so? Ek het min ondervinding van vroumense en nou voel ek baie beter. Ek het gedink jy huil oor daardie Smuts-kêrel wat my wou vermoor en op hierdie oomblik seker in sy kantoor staan en ons deur die venster dophou. Ek was bang dis oor hóm wat jy hartseer is.”

      Theo se stem klink kalm, maar Janie word nie mislei nie. Die man is nog baie kwaad en dit sal takt kos om hom weer goed te kry.

      “Watter Smuts-kêrel?” vra sy fronsend. “O, jy bedoel ou Okkie?”

      “Presies. Ek bedoel ou Okkie,” maak hy haar sarkasties na. “Of is daar nóg ’n Smuts-ou wat ’n aanspraak op jou het?”

      “Natuurlik nie. En Okkie en ek was net goeie vriende. Dis al.”

      “Goeie vriende kyk ’n man nie middeldeur as hy aan hulle goeie vriendin verloof geraak het nie. Is die man verlief op jou? Het hy jou gevra om met hom te trou?”

      “Ja, maar … maar ek het nee gesê. Theo, dis ons … troudag en … en ek voel hartseer omdat ek weg is by die kantoor. Daardie klomp mense was vir my amper soos fa-familie. Verlede nag kon ek nie slaap nie en nou het ek ’n h-hoofpyn en … en alles. Moenie met my rusie maak nie. Asseblief?”

      Sy kyk pleitend na hom en dadelik versag Theo se gesig. Hy neem haar in sy arms, ongeag of iemand vanuit die kantoor hulle dophou of nie.

      “Ek is ’n nare bees: selfsugtig en wreed en ongevoelig. Jaloers en onredelik …” Met elke woord soen Theo haar saggies, eers op die voorkop en dan op elke wang en uiteindelik op die sagte, bewende mond.

      “Ek wou nie met jou rusie maak nie, my liefste. Dis omdat ek jou so lief het dat ek bang is om jou te verloor. Elke ander man hou vir my ’n bedreiging in. Ons twee ken mekaar nog net twee weke en ek is jaloers op daardie Ockert omdat hy jou soveel langer as ek ken. Jy behoort aan my en ek deel jou nie met ’n ander man nie. Ek is jammer, my skat. Ek sal probeer om nooit weer met jou rusie te maak nie.”

      Theo hou Janie ’n armlengte van hom af weg.

      “Nou is daar nóg ’n sakie waaroor ek sekerheid wil hê voordat ons trou … Nee, moenie so bang lyk nie,” keer hy toe hy sien hoe groot Janie se oë rek. “Ek terg jou sommer. Maar ek wil weet hoekom jy my nog nooit ‘liefste’ of ‘skat’ genoem het nie. In die begin was dit ’n formele ‘meneer Vermaak’ wat na baie mooipraat darem naderhand ‘Theo’ geword het, en ek het in ademlose spanning gewag, maar jy het nie verder as my voornaam gevorder nie. Hoekom nie?”

      Janie bloos en verberg haar gesig in die blomme.

      “Nee, dis vroumens-taktiek om só te maak en dis onregverdig. Kyk na my.”

      Sy is egter te verleë en skud haar kop.

      “Janie …!” Theo plaas sy wysvinger onder haar ken en dwing die blosende gesiggie op. “Is dit dan so moeilik om daardie woordjies te sê?”

      “Ek is skaam …”

      Theo lag en skakel die motor aan, skielik haastig om die ete afgehandel te kry en hierdie pragtige meisie sy eie te maak en saam te neem Pafuri toe.

      “Het ek al vir jou gesê jy lyk soos ’n droom in daardie ligroos rok? Soos ’n droom wat waar geword het … As jy nie so moedswillig was nie en vir my gesê het watter kleur jou trourok gaan wees, sou ek vir jou ligroos rose gekoop het.”

      “Wit rose is beter. Hierdie rose se naam is Vrede.”

      “Dis ’n baie gepaste naam.”

      By die volgende rooi verkeerslig neem Theo haar hand in albei syne en druk ’n teer soentjie op haar gewrig. Hy het hierdie skraal ou meisietjie met die verleë glimlaggie lief en hy hoop om haar gelukkig te kan maak. Hy hoop om haar so goed moontlik te kan beskerm, maar skielik wonder hy of dit werklik gepas was om vir klein Janie wit rose te gee. Daar gaan nie vrede wees wanneer hy met ’n bruid aan sy arm in Pafuri aankom nie …

      Die motoris agter hulle blaas ergerlik sy toeter toe die lig groen word en Theo nie dadelik wegtrek nie. Theo brom iets onderlangs en grinnik dan vir die geskokte uitdrukking op Janie se gesig.

      “Jammer. Oor een uur en vyftig minute sal ek ’n nuwe blaadjie omslaan en ’n uiters voorbeeldige man vir my vrou wees,” lag hy en skud die vae gevoel van onheil van hom af. Die verlede behoort tot die verlede en hy skuld niemand iets nie … “Sien jy nog kans om met my te trou?”

      “O ja …”

      “En in ’n wildreservaat te woon?”

      “Ek kan nie wag om in Pafuri te kom en huisvrou te speel nie.”

      “Binne ’n paar maande – sodra ons op daardie wilddiewe se spoor kom en hulle almal agter tralies het en my werk minder is – neem ek jou met vakansie.”

      “Dis nie nodig nie. Ons hele lewe saam gaan soos een lang wittebroodsvakansie wees.”

      Theo sit sy arm om Janie en druk haar styf teen hom vas, ongeag of die verkeerslig dalk reeds weer na groen oorgeslaan het en of daardie ongeduldige motoris nog agter hulle is. Dis nie elke dag dat ’n man na sy eie troue op pad is nie …

      2

      Theo verminder spoed toe hulle by die ingangshek kom en draai na Janie.

      “Amper by die huis, my liefste!”

      “Ja.”

      “Ja, wie?”

      “Ja, Theo,” terg Janie.

      “Nee, dis nog nie goed genoeg nie.”

      “Ja, my … man. My liefste man …”

      Theo lag ingenome en druk ’n soentjie op die twee blinknuwe ringe aan sy vrou se linkerhand.

      Hulle loop na die kantoortjie, waar hy die hekwagter en die beampte groet en verneem of daar enige boodskappe vir hom is.

      “Middag, Theo. En … e … middag, mevroutjie,” groet die ouerige man en loer nuuskierig oor sy bril na die mooi donkerkopmeisietjie. So, dis nou die stadsnooientjie wat Theo vir hom in Johannesburg gaan haal het! Jare lank al word Theo Vermaak as die mees gesogte vrygesel in die Laeveld beskou en het Katinka tevergeefs haar flikkers vir hom gegooi. Maar nee, hulle eie meisies was nie vir hom goed genoeg nie. Hy het vir hom ’n stadsjapie gaan haal. Hierdie enetjie is mooi en Theo lyk baie lief vir haar, maar sy is nog baie jonk en hy wonder of sy hier sal kan aanpas … en of sy opgewasse is vir die stryd wat op haar wag. Katinka is sy eie kind en hy ken haar ongelukkig te goed. Sy is nie ’n mens wat maklik tou opgooi nie. Sy is baie lief vir Theo Vermaak en sy gaan die lewe vir hierdie donkerkoppie moeilik maak.

Скачать книгу