Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman страница 19

Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman

Скачать книгу

een. Hierdie keer gaan ek hom wys ek is in staat om my vrou te behou. En dan is daar natuurlik vriend Ockert Smuts: het jy gedink ek gaan jou op ’n skinkbord vir hom aanbied? Nee, wat myne is, is myne. Ek deel dit met niemand nie en ek gee dit ook nie present weg nie. Nee, my vrou, hoe onaangenaam die vooruitsig ook al vir jou is, ons bly getroud, in die oë van die wêreld altans. Ek sal jou nie lastig val of myself aan jou opdring nie, maar ons bly man en vrou en moenie weer praat van teruggaan Johannesburg toe nie. Jy bly hier in Pafuri en gee voor dat ons huwelik ’n sukses is.”

      “Maar …” begin Janie. Sy weet self nie wat sy wou gesê het nie, maar dit maak nie saak nie, want Theo val haar weer in die rede.

      “Jy is mos ’n goeie toneelspeelster,” sê hy en dis nie omdat hy haar ’n kompliment wil maak nie. “Jy het voorgegee jy het my lief. Of dalk is ek onredelik. Dalk het jy my wel so ’n bietjie liefgehad, maar toe jy my beter leer ken het en gesien het onder watter omstandighede jy gaan woon, het daardie klein bietjie verliefdheid verdwyn en het jy besluit Ockert is ’n beter proposisie. Wel, ek het nuus vir jou, my vrou: huweliksbeloftes is nie iets wat jy na willekeur kan maak en breek nie. En jou man is ook nie soos ’n speelding wat jy kan verruil vir ’n ander een as jy besluit jy hou nie meer van hom nie. Jy het jou in hierdie huwelik begeef en jy moet nou maar die beste van die slegte saak maak, want ek gaan jou by jou beloftes hou. Is dit duidelik, Janie?”

      Janie knik, stomgeslaan oor die tirade en nie in staat om te antwoord nie. Sy besef nóú eers hoe sleg sy Theo Vermaak geken het en hoe reg die mense was toe hulle gesê het sy is oorhaastig en sy moet eers mooi dink voordat sy met ’n amper wildvreemde man trou. Maar wat daardie mense en ook hierdie man voor haar nie weet nie, is dat sy hom ten spyte van alles nog liefhet. Die liefde is nie soos ’n kraan wat jy na willekeur kan oop- of toedraai nie. Maar hoe sê ’n vrou vir haar man sy het hom lief wanneer hy met so ’n onverbiddelike gesig voor haar staan en vra of dit vir haar duidelik is? Hy sal haar nie glo nie, of haar uitlag of beledig, of sê sy is weer besig om toneel te speel. Nee, sy sal moet wag totdat hy afgekoel het voordat sy van liefde praat. Sy begryp nie mooi waarom Theo vir haar so kwaad is nie. Was die dinge wat sy gedoen het genoegsame rede dat hy dink sy het hom nie lief nie, dat sy spyt is hulle het getrou en dat sy na Okkie wil teruggaan? Hoekom oordeel hy haar so uitermatig kras?

      “Ja, T-Theo, dis vir my duidelik,” hakkel Janie.

      “Gaaf, dan verstaan ons mekaar. Afdeling een is afgehandel.” Theo is baie saaklik. Hy stap kombuis toe om iets uit die yskas te haal en toe hy terugkom, kom hy in die stoel oorkant haar sit.

      “Nou kom ons by afdeling twee: hoe om die rol van getroude vrou suksesvol te vertolk. Vir ’n bedrewe toneelspeler soos jy behoort dit nie moeilik te wees nie, maar ek wil nietemin ’n paar puntjies aanstip wat jy tot dusver uit die oog verloor het. Jy ontvang geen oproepe van Ockert Smuts of enige van jou vorige kêrels nie. Ook geen telegramme of briewe nie. Alle telefoonoproepe gaan deur oom Gawie Labuschagne se hande, asook telegramme en ander pos. In Pafuri moet jy nie verwag om jou privaatlewe vir jouself te hou nie.

      “Punt nommer twee. Ockert kom nie kuier nie – nie eers as platoniese vriend wat in ’n wildreservaat vakansie wil kom hou nie. Hy kan Kruger-wildtuin toe gaan as hy ’n liefde vir die veld het, of Mala-Mala toe, of na enige ander wildtuin toe, behalwe Pafuri. Is dit duidelik?”

      “Ja, maar … Theo, moet asseblief nie so formeel en saaklik klink nie. En … moenie elke keer vir my vra of dit duidelik is nie – veral nie met daardie uitdrukking op jou gesig nie.”

      “Dit spyt my, maar ek kan onder die omstandighede nie ’n vroliker uitdrukking op my gesig dwing nie. En ek vra of dit vir jou duidelik is sodat daar geen misverstand kan kom nie en jy nie later vir my kan sê jy het nie geweet nie. Nou kom ons by Walt …” Theo soek eers weer sy pyp en stap ’n paar keer op en af voordat hy verder praat.

      “Ek gee nie om wat jou gevoel vir Walt de Witt is nie. Daarmee het ek niks te maak nie. Jy kan dolverlief op hom wees vir al wat ek omgee. Maar jou houding en optrede teenoor hom wanneer jy in die openbaar is – dis wat my raak en dis wat baie saak maak.” Theo se selfbeheer glip effens en hy gaan verbitterd voort: “Dink jy dit was vir my lekker om te sien hoe jy netnou vir Walt met leepoë agterna gestaar het toe hy rivier se kant toe geloop het?”

      Dis bitter onregverdig van hom en Janie sê verontwaardig: “Ek het nie met … leepoë vir hom gekyk nie. As jy die waarheid wil weet: my oë was vol trane en ek kon hom nie eers behoorlik sien nie.”

      “Trane in jou oë? Dis nóg erger. Daardie man is nie jou trane werd nie.”

      “Ek het nie oor Walt gehuil nie. Hoekom sal ek oor hóm huil? Theo, dit was … dit was oor jou wat ek gehuil het. Ek het geweet jy gaan baie kwaad wees en ek was bang.”

      “O, so jy het darem geweet ek gaan kwaad wees? Jy het darem ’n skuldige gewete? Dis die eerste stukkie goeie nuus wat ek in ’n lang tyd gekry het. Kan jy dink hoe ek gevoel het toe ek by die rondawel kom en jou nêrens kry nie, en Katinka vir my die nuus gee dat jy by Walt in sy rondawel is? Dink jy ek hou daarvan dat my vrou alleen is in ’n rondawel saam met iemand met Walt se reputasie? Die ganse Pafuri weet watter tipe man hy is en weet wat in die verlede gebeur het. Hulle ken die hele storie en plaas seker alreeds weddenskappe oor watter een van ons twee hierdie keer die wedloop gaan wen – weer ’n keer hy, of vir ’n verandering dalk ek. Ek laat nie my vrou die onderwerp van ’n onsmaaklike geskinder word nie. Onthou in die vervolg dat jy ’n getroude vrou is en gedra jou daarvolgens. Bly weg van Walt af. As ons weer moeilikheid in hierdie verband het, jaag ek hom uit Pafuri weg, soos ek seker lankal moes gedoen het, maar nie die hart gehad het nie. Dit betaal nie om ordentlik te wees en vir hom jammer te voel nie. Ek moes hom lankal aangesê het om pad te gee, dan het ons nie nou ’n presiese herhaling van die geskiedenis gehad nie.”

      “Watter … geskiedenis?” vra Janie aarselend en hou haar asem op. Gaan Theo haar van daardie ander meisie vertel?

      “Dit sal geen doel dien om ou koeie uit die sloot te grawe nie. Wat verby is, is verby en behoort tot die verlede.” Theo sug swaar en daar is ’n peinsende uitdrukking op sy gesig toe hy sy pyp uiteindelik aan die brand kry.

      Hy het daardie meisie nog steeds lief, flits dit deur Janie se kop. Hoekom anders sou hy so half weemoedig gelyk het toe hy van die verlede gepraat het? En hoekom wil hy háár nie daarvan vertel nie?

      Theo betrap haar blik op hom, maar sy gesig versag nie.

      “Aangesien jy nie jou pligte as huisvrou nakom nie, het ek solank die vleis uit die yskas gehaal en sal ek vanaand vir die kos sorg. Ons braai vleis.”

      “Sal ek slaai en toebroodjies maak?” vra sy in ’n klein stemmetjie.

      “Toe maar,” antwoord hy kortaf. “Dosyn het vir ons pap gemaak. Dit behoort genoeg te wees.” Hy stap buitetoe en laat Janie alleen met haar koppie halfgedrinkte en koue koffie.

      Vandag glimlag sy nie eers oor die naam van Theo se veldwagter wat verlede keer vir haar en Riana so snaaks was nie. Dosyn het die naam gekry toe hy op jeugdige ouderdom oor die Mosambiek-grens kom werk soek het en toe hy gevra is hoe oud hy is, twee hande en nog twee vingers opgehou het. Al is hy vandag nader aan vyftig, het hy die naam behou en daar is ’n hegte band tussen hom en Theo. Theo sê hy werk eerder saam met Dosyn as saam met Flip Venter, want hy verkies iemand op wie hy kan vertrou.

      Terwyl Janie sit en wik en weeg of sy dit buitetoe kan waag, hoor sy iemand met Theo praat en sy vlug slaapkamer toe. Sy sien nie kans om vreemde mense in die gesig te kyk nie en as Theo haar roep, sal sy sê sy het hoofpyn of iets.

      Dis egter naderhand sesuur, en dan halfsewe, en steeds kom Theo haar nie soek nie. Janie het al

Скачать книгу