Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman страница 28

Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman

Скачать книгу

hom met ope arms sal terug ontvang as hy sy vinger lig. So, waarom laat hy jou nie gaan en vergewe daardie ander meisie nie? Almal weet tog sy treur oor hom en sy maak geen geheim daarvan dat sy nog steeds op hom verlief is nie. Om die waarheid te sê, niemand verwag dat julle huwelik sal voortbestaan nie. Annatjie het net gister vir my gesê dis duidelik julle twee speel toneel, dat julle huwelik ’n klug is. Theo kan maar erken hy het daardie ander meisie nog steeds lief en wil van jou skei.”

      Dit maak Janie bitter seer om te dink dat selfs Annatjie – Annatjie Weideman wat so ’n liewe mens is – van haar skinder, en sy besef wat Theo bedoel het toe hy gesê het in Pafuri moet jy nie verwag om jou privaatlewe vir jouself te hou nie. Die mense het nie veel afleiding nie en dis almal se geliefkoosde vermaak om die ander personeellede te bespreek.

      “Katinka,” sê Janie, skielik ergerlik. Omdat sy self so seergekry het, voel sy lus om ’n ander ook te kwets. “Vandat ek hier gekom het, hoor ek van ‘daardie ander meisie’. Het sy nie ’n naam nie?”

      “Sy het ’n naam,” antwoord Katinka stadig. “Maar ek dink dis beter dat jy nie weet wie sy is nie. Jy het al genoeg seergekry. Jy is ’n liewe mens en ek wens ek kon jou die hartseer spaar.”

      “Dankie, maar dis nie nodig om vir my jammer te voel en my gevoelens te probeer spaar nie. Ek sou sê dis in elk geval ’n bietjie laat daarvoor. Wie is die meisie? Ken ek haar?”

      Katinka lyk verlig toe ’n stowwerige rooi motor stadig tussen die rondawels aangery kom en sy ’n verskoning het om die onderwerp te verander. Sy wuif vrolik.

      “Kyk, hier is Walt – terug van sy uitgebreide sketstoer.”

      Selfs onder gunstige omstandighede sou Janie nie bly gewees het om Walt de Witt te sien nie en nou is sy ergerlik. Sy beantwoord skaars sy groet.

      “Stapels sketse gemaak?” verneem Katinka belangstellend.

      Walt haal sy skouers op. “Kwantiteit, ja, maar nie kwaliteit nie.” Hy kyk tergend na Janie. “Ek het gedurigdeur jóú gesig voor my gesien. My voëls het almal dromerige grys oë, omring deur swart wimpers en ’n perskeblos op hulle wange.”

      Katinka giggel, dog Janie toon geen emosie nie. Sy wens Walt wil ry. Wat gesels hy so lank?

      “Waar is die bruidegom?” wil Walt weet.

      “Theo-hulle is besig om ’n draad te span aan die noordelike grens van die reservaat,” verduidelik Janie teësinnig. “Het jy hulle nie langs die pad gekry nie?”

      “Nee. Ek was suid. Punda Miha se kant toe.” Hy kyk vraend na Katinka. “Waarheen is jy op pad, Tinktinkie?”

      “Rondawel toe. En moet my asseblief nie daardie verspotte naam noem nie,” antwoord Katinka iesegrimmig. Sy groet en stryk aan na die eindpunt van die ry, waar haar rondawel is langs dié van haar pa en ma.

      Walt se wenkbroue lig vraend. “Waaroor was die haas? Ek sê skaars hallo, toe sê Tinktinkie tot siens.”

      “Miskien was ook sy nie baie lus om met jou te gesels nie.”

      Janie se skimp word egter nie gesnap nie. Walt kyk haar goedkeurend op en af.

      “Jy lyk mooi met jou hare in twee bossies bokant jou ore gebind, en jy moet altyd denim dra. Dit pas jou. Kom jy vanaand partytjie hou?”

      Sy vinnige verandering van onderwerp betrap Janie onverhoeds. Terwyl sy nog aarsel, sê Walt geamuseerd: “Jy hoef nie vir die groot slegte wolf bang te wees nie. Dit gaan ’n doodonskuldige partytjie wees om my verjaardag te vier. Almal kom.”

      “Verjaar jy? Ek het nie geweet nie. Baie geluk.”

      “Nee, ou Walt is mos nie belangrik nie. Niemand onthou wanneer dit sy verjaardag is nie …” sê Walt met ’n oordrewe seergemaakte uitdrukking op sy gesig.

      Janie lag. “’n Mens kan nie iets vergeet wat jy nie geweet het nie. Kom al die ander mense ook partytjie hou?”

      “Hier gaan so min aan in Pafuri, jy sal die mense nie met stokke en swaarde van ’n partytjie kan weghou nie. Wanneer verwag jy die gelukkige bruidegom terug?”

      “Moenie altyd van die ‘bruidegom’ praat nie,” sê Janie geïrriteerd.

      “Groot ekskuus. ’n Mens moet seker nie met siekte spot nie. Wanneer kom jou man terug? Of objekteer jy ook teen so ’n onvanpaste benaming?”

      Janie verkies om Walt se insinuasie te ignoreer. “Môre,” jok sy kalm. Theo sê nooit vir haar wanneer hy vertrek of wanneer hy terug sal wees nie.

      “Môre eers?” Walt klink uiters teleurgesteld, dog sy oë lag. “Ag, dis ’n jammerte! Nou loop hy my verjaardag mis en sit jy met mý geselskap opgeskeep. Het jy al tyd gehad om te dink, astertjie?”

      “Waaraan?” vra Janie koel.

      “Aan my aanbod om saam te gaan Parys toe. Nee,” keer hy, “moenie so verontwaardig lyk nie. Ek weet in die binneste van daardie warmbloedige hart van jou het jy baie lus om saam met my te gaan. Toe, erken dit?”

      Janie skud haar kop en kyk doer ver oor die veld, waar ’n paar aasvoëls besig is om wye sirkels in die blou lug te maak.

      Walt draai haar kop na sy kant toe en grinnik toe hy sien dat sy bloos.

      “Erken maar dat jy van my hou, astertjie …”

      “Ek weet nie waarvan jy praat nie, Walt,” sê sy koel. “Sal jy my asseblief verskoon? Ek het baie werk wat wag.”

      “Watse werk?” terg hy. “Weer vleis in die oond? Of watter werk is daar hierdie keer wat wag?”

      “’n Boek wat deurgelees moet word,” antwoord sy en stap weg sonder om op Walt se antwoord te wag. Sy hoor hoe hy lag en in sy motor klim, maar sy kyk nie om nie.

      Ek gaan beslis nie na sy partytjie toe nie, besluit Janie. Ek hou nie van Walt nie. Hy maak my bang. En Theo sal in elk geval woedend wees as hy daarvan te hore kom dat ek weer in Walt se rondawel was – al was daar baie ander mense en al het ek skaars met hom gesels. Ek sal maar liewer vir die soveelste keer met ’n boek in die bed klim en myself wysmaak ek is ’n ou tannie van oor die honderd jaar wat nie smag na geselskap en ’n bietjie opwinding nie …

      Janie wag totdat Walt se motor om die draai verdwyn het en dan stap sy met kloppende hart na Katinka se rondawel toe. Daar is iets wat sy wil gaan vra en sy sal nie weer toelaat dat Katinka haar ontwyk of ’n antwoord skuldig bly nie. Almal het lank genoeg in raaisels gepraat en sy het die volste reg om te weet. Sy moes lankal op die volle waarheid aangedring het, maar sy was bang. Sy het verkies om soos een van Theo se volstruise te maak: haar kop agter ’n klip in te druk en te maak of die gevaar nie bestaan nie.

      Katinka lyk nie baie verbaas om haar te sien nie. Sy sit op die toegegaasde stoep en nooi Janie met ’n skewe glimlaggie om binne te kom en te sit.

      “Jy laat jou nie deur onderbrekings en my onvriendelikheid van stryk bring nie, nè? Hoekom probeer jy dit vir jouself moeiliker maak, Janie?”

      “Ek wil graag weet,” fluister Janie.

      “Ek het gedink dit sal vir jou eie beswil beter wees as jy nooit die volle hartseer ou storie hoor nie, as

Скачать книгу