Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman страница 29

Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman

Скачать книгу

“Om vir my onvriendelikheid te vergoed,” sê sy verleë. “Ek het soos ’n skurk gevoel. Miskien was ek verkeerd, maar ek het gereken dit sal dit vir jou makliker maak as … as ons twee nie vriende is nie; as jy nie van my hou nie …”

      Terwyl die meisie in die kombuis besig is, gaan Janie op die puntjie van ’n stoel sit en haar oë dwaal onwillekeurig deur die vertrek. Katinka het goeie smaak, maar sy verkies die egte bosveldatmosfeer wat Theo met riempiesbanke, dierevelle, grasmatte en Sakkie Eloff-skilderye in hulle eie rondawel geskep het. Katinka se woonkamer het ’n Europese karakter en sy raai dat daardie twee etse en die marmerbeeldjies oorsee gekoop is en ’n fortuin moes gekos het. Dis nie namaaksels daardie nie.

      Janie staan op om na ’n naam by die etse te soek en dan sien sy skielik die geraamde foto van Theo op die Italiaanse Dama-tafeltjie staan. Die inskripsie is in netjiese blokletters: Aan Tinka, met al my liefde …

      Sy hoor Katinka binnekom en vlieg skuldig om, maar die ouer meisie het reeds gesien waarna sy kyk.

      “Dis ’n mooi foto van Theo daardie, is dit nie?” vra sy met ’n glimlag. “Dit het mooipraat en stoomroller gekos om Theo by ’n ateljee te kry. Hy het vir my ’n paar kleiner foto’s van homself gegee, maar ek wou graag hierdie groter een hê.”

      Janie neem die glas koeldrank meganies, haar gedagtes in ’n warboel. Hoekom het Theo daardie foto vir Katinka gegee? Met al my liefde … Dis nie sommer vriendskaplike liefde nie, is dit? Dis nie die liefde of groete wat ’n mens onderaan ’n brief of in ’n Kerskaartjie skryf nie, is dit?

      “Katinka …” Janie neem ’n sluk lemoensap en begin dan weer. “Katinka, jy en Theo was … baie goeie vriende, nie waar nie?”

      “Nie wás nie; is nog steeds,” antwoord Katinka sag, maar sy kan Janie nie in die oë kyk nie. Sy maak nat kringetjies op die tafeldoek met haar glas, peuter met haar horlosieband en spring dan op. “Ek wil vir jou die ander foto’s wys wat ek van Theo het …”

      Janie kyk na ’n foto van Theo voor ’n pragtige grasdakhuis met ’n gewel, en na ’n foto waar hy op ’n perd sit, en een waar hy in ’n baaikostuum staan en besig is om iets grappigs te sê vir die persoon wat die foto geneem het. En onderaan elke foto staan in dieselfde netjiese blokletters: Aan Tinka, met al my liefde, en soentjies …

      “Dit was Theo-hulle se huis op Soetdorings. ’n Pragtige huis en ’n lieflike ou plaas. En dis ou Mercurius daardie. Ek weet nie hoekom Theo die perd daardie naam gegee het nie, want hy was nie vinnig nie, net baie sterk. Hy het ons albei menigmaal op sy breë ou rug gedra. En daardie foto is by Theo-hulle se swembad geneem, een vakansie toe ek weer by die Vermaaks gekuier het. Hy wou keer dat ek die foto neem, gesê sy hare is deurmekaar! My straf omdat ek nie wou luister nie, was om kop eerste in die water gegooi te word.”

      Janie het dit lankal geweet, maar sy was bang om dit te erken. Al het niemand dit vir haar vertel nie, kon sy dit agterkom in Katinka se houding teenoor Theo, die manier waarop sy na hom kyk wanneer sy met hom praat, die uitdrukking op haar gesig wanneer Theo ter sprake kom …

      Janie se hand bewe toe sy die foto’s in ’n netjiese stapeltjie maak en op die tafel neersit.

      “Jy en Theo was verloof.” Selfs in haar eie ore klink haar stem hees en onnatuurlik.

      “Ek wens ek kon dit ontken,” antwoord Katinka sag. “Ek wens ek kon vir jou sê dat Theo en ek net goeie vriende was, dat daar niks tussen ons is nie en dat dit vir jou is wat hy liefhet, Janie. Jy is so jonk en weerloos. Dit sou vir jou beter gewees het as jy en Theo mekaar nooit ontmoet het nie. Jy sou met Okkie of iemand getrou het, iemand wat jou na regte kon waardeer, en julle sou gelukkig gewees het. Dis ’n bitter ding vir ’n vrou om met ’n man getroud te wees wat haar nie liefhet nie, om elke dag saam met ’n man te lewe en te weet wanneer hy na sy vrou kyk, sien hy ’n ander meisie, wens hy dis sý wat oorkant hom aan die ontbyttafel sit, wat elke dag met hom deel …”

      “Hoekom het jy weggegaan, Katinka? Hoekom het jy hom nie liefgehad en met hom getrou nie?” Janie is verlig dat haar stem ietwat kalmer klink.

      Die meisie haal haar skouers op, maar daar is ’n trek van pyn op haar mooi gesig.

      “Dit het alles te maklik gekom en wanneer iets op ’n skinkbord aan ’n mens gegee word, waardeer jy dit nie. Theo en ek het saam gespeel as kinders, maats gewees, vriende gewees. Die liefde het vanself gekom toe ons ons kinderskoene ontgroei het. Ons het jare gelede al besluit ons gaan eendag trou en almal het dit so aanvaar. Ons twee is altyd saam na partytjies uitgenooi, sy ouers en myne was tevrede, almal het gesê ek is ’n gelukkige meisie en ek het dit so aanvaar.

      “Maar … maar ek het gevoel iets haper. Theo was die eerste en enigste kêrel wat ek ooit gehad het. Ek het nooit met ander ouens uitgegaan sodat ek ’n maatstaf gehad het waaraan ek hom kon meet nie. Ek was nie seker of die gevoel wat ek vir hom gehad het, liefde was en of ek maar net aan hom gewoond was nie. Ek was bang ek trou met hom en dan ontmoet ek eendag ’n ander ou en vind uit wat liefde werklik is. Ek wou nie so iets aan Theo doen nie. Ek wou vir ’n ruk van hom wegkom om heeltemal seker te maak voordat ek met hom trou.”

      Katinka neem ’n slukkie lemoensap en kyk pleitend na Janie.

      “Dink jy dit was onredelik van my? Dink jy nie dit was ten beste dat ek weggegaan het om van my gevoel seker te maak nie, eerder as om met Theo te trou en later om te draai en te sê ek was nog te onvolwasse om te weet of ek hom liefhet?”

      “Ek weet nie. Seker, ja,” antwoord Janie onsamehangend. Sy het tyd nodig om die feit in te neem dat Theo hierdie meisie liefhet, om daardie feit te assimileer en te verwerk en te besluit wat haar te doen staan.

      “Dan was daar iets anders wat my laat voel het ek is nog nie ryp vir die getroude lewe nie,” praat Katinka verder. “Ek het my hele lewe lank in Pafuri gewoon. Afgesien van die skoolvakansies wat ek op Soetdorings deurgebring het, was ek twee keer in Durban, een keer in Kaapstad en ’n paar naweke saam met my ouers Johannesburg toe. Dit was die omvang van my ervarings. Ek het gevoel ek is ’n rou bosvelder, ek weet niks van die wêreld nie. Soos ’n jong meisie maar altyd droom, het ek ook beplan om eendag oorsee te gaan, die lewe te geniet, die wêreld en sy mense te leer ken, meer gesofistikeerd en wêreldwys te raak en nie te dink ’n klein en onbenullige ou wildreservaatjie is die begin en die einde van die wêreld nie.

      “Ek wou eers die reislus uit my bloed kry en ’n mens met ’n wyer algemene kennis word, voordat ek tevrede sou wees om myself aan ’n man te bind en die res van my lewe in Pafuri te woon. Ek het gevoel die lewe gaan hier by ’n mens verby, daarom wou ek ’n paar weke oorsee gaan om te sien hoe die res van die wêreld is en terselfdertyd perspektief kry oor my gevoel vir Theo.”

      “Maar hy het dit nie so verstaan nie.” Dis meer ’n stelling wat Janie maak as wat dit ’n vraag is.

      “Hoe het jy geweet?” vra Katinka met ’n skewe glimlaggie.

      “Ek ken darem ook vir Theo. Het hy gesê jy is moedswillig en jou daarvan beskuldig dat jy met ander ouens wil flankeer?”

      “Ja, dit alles het hy gesê en meer ook. Hy het gesê ek het hom nie lief nie; ek moenie verwag hy gaan droëmond by die huis sit en wag totdat dit my eendag behaag om terug te kom en sy vrou te wees nie. Miskien moes ek tóé reeds besef het hy bedoel dit ernstig, letterlik. Maar miskien het ek ’n streep moedswilligheid in my. Ek kan dit nie verdra dat iemand my voorsê wat ek moet doen en my lewe probeer reël nie. Dalk, as Theo mooigepraat en gesoebat het ek moet bly, sou ek geluister het. Maar hy is nie daardie tipe persoon nie, nè?”

      “Nee.

Скачать книгу