Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman страница 30

Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman

Скачать книгу

by jongmeisiedrome gebly het. Maar toe Theo kwaad word en met my rusie maak en sê hy gee nie om of ek ooit terugkom nie, het dit my gesterk in my kwaad. Ek het net die volgende naweek stad toe gegaan, my plek op die vliegtuig bespreek, vir my tasse en klere gekoop en met ’n sakvol brosjures en toerplanne na Pafuri toe teruggekom.

      “Al een wat na my planne geluister en saam opgewonde geraak het oor die vreemde en eksotiese plekname, was Walt. My pa en ma het reguit gesê ek moet ’n sielkundige gaan raadpleeg. Om ’n man soos Theo Vermaak deur my vingers te laat glip, was ondenkbaar. Dit het my vies gemaak, laat voel asof ek die kans moet aangryp om Theo gevang te kry, want ek sal nooit iets beters kry nie.

      “In my drif het ek gesê ek is nie oor Theo verleë nie. Ek sal oorsee vir my ’n man uitsoek. Of dalk trou ek nog met Walt de Witt! Hy het tog visie, ideale … ’n talent wat hom miskien ver gaan bring. Hy sal nie tevrede wees om sy hele lewe lank op ’n stuk stowwerige bosreservaat te sit en vergaan nie. Theo is oninteressant, oud voor sy tyd. Hy is met doringbome en wilde diere getroud. Ek verlang iets meer van die lewe as om met ’n onbenullige ou veldwagtertjie getroud te wees en sal myself binne die eerste maand van getroude lewe bitterlik verveel.

      “My pa het gesê Theo het baie geld en sal my na ons troue oorsee neem. Dit het vir my koud en berekenend geklink, so asof Theo se baie geld die deurslag moet gee. ‘Sal hy?’ het ek gevra. ‘Sal daar nie altyd die een of ander verskoning wees van drade wat gespan moet word of renosters wat gaan kalf en damme wat gebou moet word nie? Sal ek nie horingoud wees en nog steeds in daardie beknopte rondawel sit en wasgoed was en kouse stop voordat ek my jong lewe geniet het en Parys en Rome en al daardie plekke gesien het nie? Nee dankie, ek wil nie honderd jaar oud wees voor ek dertig is nie,’” het ek gesê.

      “Daar was hewige rusies. My ma en pa en Theo was al drie teen my. Hulle kon nie verstaan dat ek gefrustreerd gevoel het nie, en Theo het my nie vergewe vir al die dinge wat ek teen Pafuri en die lewe van ’n veldwagter gesê het nie. Al een wat begryp het, was ou Walt. Hy het geweet ek moet eers daardie hunkering na verre plekke uit my gestel kry voordat ek tevrede sou wees. Arme ou Walt het gedink hy doen die regte ding en bewys my ’n guns deur met Theo te gaan praat …”

      “Maar dit was net mooi die verkeerde ding?” vra Janie. “Theo het gedink jy verkies Walt bo hom?”

      Katinka was so verdiep in haar eie vertelling dat sy skrik toe Janie praat.

      “Dis presies wat Theo gedink het. Hy het Walt daarvan beskuldig dat hy die vergesogte idee in my kop geplant het. Dis mos hy wat altyd sê: Sien Parys en sterf. Dis ook hy wat sê dat ’n mens eers oor die water moet gaan en sien hoe die ander helfte leef, voordat jy die geheim leer ken oor hoe om die lewe te geniet.

      “Theo het verder gegaan en gesê Walt en ek het agter sy rug gekonkel en Walt het sy verloofde afgerokkel. Walt is self nie ’n baie geduldige man nie en hy het sedert sy kinderdae ’n grief teen Theo. Hy het die berugte Vermaak-humeur van sy ma geërf en hy het hom vererg. Hy het gesê ja, hy en Katinka het mekaar lief. Hý kan haar waardeer. Hy is nie van plan om haar tussen die vaal gras en miershope te begrawe nadat sy van verveling dood is nie. Hulle twee gaan saam weg en nie hy óf Katinka hoop hulle sien Pafuri ooit weer nie.”

      Katinka spring op en stap heen en weer deur die rondawel, soos Theo daardie dag – hoeveel jaar gelede? – gedoen het. Dit voel vir Janie asof sy die afgelope uur vyftig jaar ouer geword het.

      “Theo kon my dít nie vergewe nie,” gaan die meisie voort. “Nie Walt nie. Enige ander man miskien, maar nie Walt de Witt nie. ‘Walt is ’n parasiet,’ het hy uitgeroep. Hy is iemand wat ’n grief teen die wêreld het omdat sy ma nie die ou familieplaas geërf het sodat hy die lewe van ’n rykmanseun kon voer nie, iemand wat uit die oog verloor het dat dit gebruiklik was dat die oudste seun die familieplaas erf, en gerieflikheidshalwe vergeet dat sy neef die een som geld na die ander kastig aan hom leen sonder om te vra wat hy daarmee aangevang het. ’n Mens soos Walt het geen skaamte nie. Hy beskou dit as sy neef se plig om die geld vir hom te gee en hom universiteit toe te stuur, want hý het mos die Vermaak-plase geërf, terwyl die arme De Witts moet meet en pas vir hulle daaglikse behoeftes.”

      “Is Walt se ouers dan arm?” vra Janie. Sy stel nie werklik belang nie, maar sy moet haar aandag in ’n ander rigting probeer stuur, al praat hulle dan oor Walt. Selfs dít is beter as om oor Theo en sy liefde vir Katinka te gesels.

      “Gemiddeld. Oom Bertus de Witt verdien ’n redelike salaris op die myne, maar hy mors sy geld op perde en ook hy vra dikwels vir Theo om ’n lening.”

      “En gee Theo dit vir hom?”

      “Ja, gelate en sonder om te murmureer. Theo het eendag vir my gesê hy moes al so dikwels aanhoor hoe onregverdig die lewe is, dat hy self al skuldig voel omdat hý, en nie die De Witts nie, vir Soetdorings besit. Veral omdat hy verkies om veldwagter te wees en die bestuur van die spogplaas van die distrik aan sy drie voormanne oor te laat en net af en toe oor te ry en ’n ogie te hou.”

      Janie het gewonder wat die werklike oorsaak vir die vete tussen Theo en Walt is. Theo het baie foute, maar sy het geweet hy is nie ’n kleinlike persoon wat sal toelaat dat geld ’n verwydering tussen twee families bring nie, en sy het geraai dit gaan veel dieper as ’n kwessie van geleende geld wat nooit terugbetaal word nie. Noudat Katinka vir haar die storie vertel het, kan sy verstaan waarom Theo so ’n hekel aan sy neef het, waarom hy so woedend was toe sy en Walt bevriend geraak het. En nou verstaan sy ook die sinspelings op ’n wedloop tussen hulle twee. Theo het bedoel dat die geskiedenis homself herhaal: eers sy verloofde en nou sy vrou …

      Katinka tel ’n Dawid-beeldjie op en streel ingedagte daaroor.

      “Carrara-marmer. Ek het die beeldjie in Florence gekoop. Dis al wat ek van my oorsese vakansie teruggebring het – soeweniers en foto’s waarna ek nooit weer gekyk het nie. Daar was geen aangename herinneringe nie en ek het ook geen illusies meer oor myself gehad nie.

      “Binne twee weke het ek geweet dat ek vir Theo Vermaak wou hê en dat ek met hom moes getrou het, in plaas van hardkoppig te wees en eers die wêreld te wil sien voordat ek my aan Pafuri en ’n man bind. Maar ek het ook gevoel ek het nou die onkoste aangegaan om oorsee te kom en ek sal miskien nie gou weer die geleentheid kry om al die plekke te sien nie, en ek kan net sowel nog ’n rukkie aanbly en heeltemal seker maak van my gevoel vir Theo.

      “Ek het vir Parys tot siens gesê, en vir Walt en die groep langhaar-kunstenaars met wie ons die pension gedeel het, en ek het deur Duitsland en Italië getoer. Maar die verlange na Theo en Pafuri was te groot. Ek het my toer met drie weke kortgeknip en ’n kabel vir Theo gestuur om my op Jan Smuts-lughawe te kom ontmoet en sommer die verloofring saam te bring wat ek aan hom teruggegee het.

      “Maar dit was my pa wat my op die lughawe kom haal het en … en hy het vir my vertel dat Theo by ’n nooi in Johannesburg gaan kuier het en dat hy die Woensdagmiddag met haar gaan trou …”

      Janie is so versink in haar eie ellende dat sy haar nie in ’n ander se skok en selfverwyt kan indink nie.

      “Ek is jammer, Tinka …”

      Katinka moet haar oë ’n paar keer vinnig knip. “Theo het my ook altyd so genoem … in die goeie ou dae. Nee, Janie, jý hoef nie jammer te wees nie. Jy is die onskuldige een en op die einde gaan jy die lydende party wees. Indirek is dit alles mý skuld. E … wat gaan jy doen?”

      “Doen?” Janie staar haar onbegrypend aan en dan eers snap sy wat die ouer meisie bedoel. “Ek het nog nie gedink wat my te doen staan nie. Dit was vir my … ’n skok. Ek dink diep in my onderbewussyn het ek geweet dat jy die ander meisie is, maar dit het my nogtans onverhoeds gevang en ek het tyd nodig om te besluit.”

Скачать книгу