Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste страница 25

Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste

Скачать книгу

twee te begrawe, Clio.”

      “Dis hy wat eerste begin het, wat gejok het oor die bakkie.”

      “Vir jou eie beswil.”

      “Maar hoekom nie reguit sê Arnold se bakkie is onbetroubaar nie?”

      “Omdat hy geweet het jy is so koppig, jy sou nie met sýne wou ry nie.”

      “Ek is nie koppig nie, dis hý.”

      Talien sug. “Kom ons gaan huis toe. Tannie Ria maak skaapboud en het gevra ek moet jou saambring. Sy wil jou graag weer sien.”

      By tannie Ria en oom Hannes Verryne se dorpshuis wag nog ’n reünie op Clio. Hoewel dit Arnold se mense is, laat hulle haar soos ’n lid van die familie voel. Een dra tee aan, die ander een ’n glasie sjerrie, om die beurt ’n skyf melktert en ’n bakkie tuisgemaakte biltong.

      “Julle gaan die kind siek maak!” raas Talien. “Hulle eet anders daar oorkant, sy’s nie gewoond aan sulke deurmekaar kos nie.”

      Clio eet elke flentertjie op. Selfs die oordadige homp skaapboud, sousboontjies en soetpatats wat tannie Ria vir haar inskep.

      “Alberta, waar ons woon, is beeswêreld. Ons eet steaks en brisket en beesstert,” vertel Clio. “Met Halloween en Thanksgiving eet ons kalkoen. Skaapvleis is ’n ongekende luukse. Ek het al vergeet hoe hemels dit smaak. En vertel my asseblief hoe mens hierdie soort glanspatats maak. Dié wat ek en my ma maak, is sommer vaalpatats – opgekook met suiker.”

      “Die geheim is botter, báie botter,” vertel tannie Ria en gaan haal haar resepteboek vir Clio om af te skryf.

      Sy is nog steeds daarmee besig toe oom Hannes koffie bring en Talien se selfoon lui. Sy antwoord en luister ’n wyle, terwyl sy groot oë vir Clio trek. Selfs van waar sy by die eetkamertafel sit, kan Clio die ontevrede stem aan die ander kant hoor. Dis ’n manstem. En die eienaar daarvan is nie in ’n goeie bui nie.

      “Moenie jou so opwen nie, kindlief,” paai Talien. “Daar’s niks verkeerd nie, geen skade gedoen nie.”

      Die stem blaf nog ’n sarsie ergerlike woorde uit. “Bedaar, boklam … Ek sê mos: sy’s veilig en ongedeerd. Hierso, ja, by tannie Ria-hulle. Wil jy met haar praat?”

      Blykbaar nie, want Talien luister weer ’n wyle, knik en druk dan die foon dood.

      Clio tel die pen op wat geval het en wag gespanne. “Jurgens,” lig Talien haar in. “Volstoom op die oorlogspad, omdat jy hom nie vooraf gesê het jy kom eers hier kuier voor jy huis toe gaan nie.”

      “Van waar het hy gebel?” vra Clio.

      “Vuurfontein. Hy was by die hospitaal, by Arnold. Maar toe moes hy haastig terug plaas toe – een of ander krisis. Ek wou vra wat dit is, maar hy het my nie kans gegee nie. Net tekere gegaan omdat hy jou nie langs die pad gekry het nie en jy ook nog nie opgedaag het nadat hy tuis gekom het nie.”

      “Ek is my eie baas. Dit het niks met hom te doen waar ek is of wat ek doen nie.”

      “Jy is lelik en ondankbaar.” Talien kyk verwytend na Clio. “Jy behoort dit te waardeer dat hy besorg is oor jou.”

      “Dis net omdat hy vir my verantwoordelik voel noudat Arnold siek is. Jurg beskou dit as sy plig.”

      “Almiskie. Maar jy moes hom laat weet het jy sal laat wees.”

      Clio weier om bes te gee, haal net haar skouers op.

      “En jy beter ry, voor hy weer bel. Moenie moedswillig wees nie, kinta. Jurg bedoel dit goed. Die plaas is ’n groot verantwoordelikheid, en hy bekommer hom oor sy broer. Hy het genoeg probleme sonder dat jy ekstra hooi op sy vurk laai.”

      Clio skryf die resep van die soetpatats klaar, dan staan sy op. Sy gee tannie Ria en oom Hannes elk ’n soen en ’n druk – ’n goeie Boeretradisie wat die Kanadese gerus kan aanleer. In Calgary weet jy gewoonlik nie eens wie jou bure is nie, elkeen is te besig met sy eie dinge. “Me-time” noem hulle dit. “Gebrek aan naasteliefde” noem haar ma dit.

      Talien volg Clio buitetoe, waar sy die bakkie in die koelte onder ’n Bosveld-apiesdoring ingetrek het. Sy klim agter die stuurwiel in en steek die sleutel in die aansitter. Voor sy aanskakel, sit sy haar donkerbril op.

      Dan draai sy na Talien en voeg by, asof sy dit nou eers onthou: “So van jok gepraat … Ek het ook gejok. Oor die … e … soetkoekies.”

      Talien is nie by nie. “Watter soetkoekies?”

      Al het sy ’n donkerbril op waaragter sy kan wegkruip, is Clio te skaam om Talien in die gesig te kyk. Sy kyk stip voor haar, doer ver na die kerktoring, wat wys dis amper vieruur. Baie laat om by die huis aan te kom, ná sy vroegoggend al weg is. Sy moes Jurg seker laat weet het …

      “Die soetkoekies vir die basaar, wat ek destyds gesê het Jurg gesteel het. Dit was nie hy nie, dit was ék.”

      “Vir die kerkbasaar?”

      “Tante het hom met ’n nat vadoek bygedam. En die Saterdag toe ons ander almal basaar toe gegaan het, moes hy by die huis bly en die gras sny.”

      Talien knik stadig. “Nou onthou ek … Moenie vir my sê jy het daardie houer koekies alles alleen opgeëet nie?”

      “Ek het darem vir Arnold ’n hand vol gegee,” voeg Clio ter versagting by.

      “Die deler is net so skuldig soos die steler. Toe maak jy van Arnold ’n medepligtige en pak die skuld op ’n onskuldige? Jy behoort jou te skaam!”

      “Ek ís skaam.”

      Talien werk haar op. “As jy maagpyn gekry het, is dit jou verdiende loon!”

      Clio staar miserabel deur die voorruit. “Weet Jurg dit was jy?”

      “Ek dink hy het ’n vermoede gehad … Maar hy het niks gesê nie.”

      “Dis nie dat ek vir hom party trek nie. Ek is vir julle al drie ewe lief, maar ek glo aan reg en geregtigheid. Jy skuld Jurg ’n verskoning, Clio. Elf jaar is nie te laat nie. Sê ekskuus. Gróót ekskuus omdat jy gesteel het en hom belieg en bedrieg het.”

      Dit klink erger as net ’n bietjie jok. “Dit was om hom terug te betaal oor Lallie,” verontskuldig Clio haarself.

      Talien bou opnuut stoom op. “Daardie episode is al snuifgetrap! Ek het jou gesê en Betta het jou gesê dit was nie Jurg nie, maar jy glo net wat jy wíl glo.”

      “Arnold was by die stalle en tante was binne op die foon besig. As dit dan nie Jurg was wat haar verdrink het nie, wie was dit?”

      “Ek weet nie.”

      “Hoe weet tante dan dit was nie hy nie?”

      “Omdat ek hom ken. Dis nie in sy geaardheid nie.”

      “Lallie was bang vir water en het nooit naby die swembad gekom nie. Laas wat ek haar gesien het, het sy op die kombuistrap in die son gesit. Ek het gaan tee maak en toe ek die skinkbord uitdra, het ek Jurg op heterdaad betrap: in die swembad, besig om haar lyfie onder

Скачать книгу