Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste страница 24
Sy gesig vertrek en hy kreun.
“Arnie, wat is dit? Het jy pyn?” vra Clio ontsteld.
Sy vingers soek na sy ribbes, na die verband om sy bors. “Net as ek lag.”
“Ek belowe ek sal nie vir jou grappe vertel nie.” Sy klink baie ernstig.
“Iets moois? Jyself!” Hy lag weer en trek sy asem in. “Oe! Eina!”
Die verpleegster loer by die deur in. “Is hier ’n probleem?”
Sy wag nie op ’n antwoord nie, haal ’n termometer uit en druk dit onder sy tong in. “Jou temperatuur is onnatuurlik hoog, meneer Van Deventer.”
Arnold knipoog effens. Hy kan nie praat nie, maar hy hoef nie. Clio weet wat hy daarmee wil sê: Sý is verantwoordelik vir die koorsigheid.
Die verpleegster skuif sy pajamamou op en neem Arnold se bloeddruk. Ook dié is blykbaar hoog.
Sy draai verskonend na Clio. “Ek is jammer om die besoek kort te knip. Maar hy is vermoeid en het rus nodig.”
Clio staan terug en neem haar handsak. “Ek het nie bedoel om hom te vermoei nie. Ek sal dadelik gaan, ek wil net gou die blomme in water sit, voor hulle verlep.”
Sy blaas ’n soentjie vir Arnold. “Ek is in die wagkamer as jy my soek.”
“Soek jou al … elf jaar,” mompel hy sleeptong.
“Dit mag lank duur voor hy weer wakker word,” waarsku die verpleegster.
“Dit maak nie saak nie. Ek het elf jaar gewag, nog ’n uur of drie sal nie ’n verskil maak nie. Ek sal ’n tydskrif koop en sit en lees.”
Eers sit Clio net, agteroor geleun in die gemakstoel, en laat die kleintydse herinneringe oorneem. Sy was onnodig senuweeagtig oor die herontmoeting. Dieselfde gemaklikheid van destyds is steeds tussen hulle. Miskien nou selfs meer as toe.
Dit was wonderlik om hom weer te sien en met hom te kon praat. Sy wou hom in haar arms toevou en nooit weer los nie. Maar drie van sy ribbes is gebreek en sy was bang hy kry seer.
Hy het harsingskudding en moet stil gehou word, het dokter Strachan gemaan. Stil gehou word in die hospitaal? Of sal hy oor ’n week of so kan huis toe kom? Selfs dan sal hy seker nog ’n tyd lank bedlêend wees. Dit beteken sy sal haar terugvlug moet kanselleer en reël dat iemand by die galery vir haar instaan.
Clio sit regop. Dis nie nou die tyd vir mymeringe en spekulasies of vir sit en lees nie. Sy moet Talien bel en haar die goeie nuus vertel, dan haar ma en Betta en Aloma. En seker vir Jurg?
Nee, besluit sy, sy wil nie nou met Jurg praat nie. Dit voel nie reg nie. Nie so kort ná Arnold nie. Jurg is seker by die melkery, en gelukkig het sy nie sy selnommer nie. Talien of Betta kan hom maar laat weet sy broer is wakker.
Sy hou haar oproepe kort, met net die jongste nuus oor Arnold se toestand. Dit duur minder as ’n halfuur. Toe gaan loer sy weer by 3B in. Maar die verpleegster was reg: Arnold slaap soos ’n baba.
Clio gaan koop ’n blikkie koeldrank in die kafeteria en ’n Peppermint Crisp – nog ’n luukse wat hulle nie in Kanada kry nie. Sy het al dikwels ’n onversadigbare lus daarvoor gehad soos ’n vrou wat swanger is.
Uiteindelik koop sy tog ’n tydskrif om die tyd mee te verwyl, een wat sy gewoonlik op die internet lees. Maar die nostalgiese vreugde van die Sarie en die Peppermint Crisp word getemper deur die woelinge in haar binneste. Arnold was duidelik bly om haar te sien, vol komplimente en waardering. En dieper emosies? Sy weet nie.
Weet ook nie wat háár emosies was nie. Behalwe dat dit was asof sy ná lang omswerwinge tuis gekom het toe sy die eerste keer weer sy stem gehoor het. Daar was ’n diep tevredenheid in haar, en sy het geweet sy wil nooit weer weggaan nie. Was dit uitsluitlik oor Arnold, of is dit die vreugde om weer in haar eie land te wees?
Clio geniet die tydskrif só, sy lees selfs die advertensies. Maar sy kom nie verder as bladsy nege nie. Sy het pas omgeblaai toe Talien inmarsjeer. Talien loop of stap nie, sy marsjeer. En die vrae waarmee sy Clio peper, klink soos geweerskote.
“Het hy jou geken? Wat was sy eerste woorde? Kan sy oë fokus? Het hy pyn?”
Clio antwoord so goed sy kan, in dieselfde volgorde. “Ja. ‘Viooltjies vir oë.’ Ja. Net as hy lag.”
Talien vergeet sy het nie ’n voorskoot aan nie en gebruik ’n stuk van haar rokspant om haar oë droog te vee. “Ons moet dankbaar wees, kind, op ons knieë diep en gelowig dankie sê vir die genade. Ek wil self gaan seker maak!”
“Hy slaap nou, tante.”
Talien laat haar nie voorsê nie. Sy marsjeer suutjies by 3B in en staan lank by Arnold se bed, wagtend om die wonderwerk eerstehands te aanskou.
Maar sy kom onverrigter sake terug. “Hy slaap.”
“Ek het mos so gesê,” antwoord Clio. “Ek jok nooit nie.”
“Ek ook nie,” klink dokter Strachan se stem agter hulle in die gang op. “Ek het jou mos gesê, Annalien: jou seunskind is weer met ons.”
“Wim!” Talien is verras om hom te sien. “Is jy besig met saalrondes?”
“Nie almal kan heeldag sit en kuier nie. Party mense moet werk om te kan eet.”
“Kom eet Sondag by ons, dan hoef jy jou nie so te oorwerk nie,” skerts Talien. Dan is sy weer ernstig. “Is dit reg dat die kind so diep slaap?”
“Reg en goed,” stel hy haar gerus. “Sy gestel het die rus nodig.”
“Sal hy Sondag saam met ons by die huis kan wees? Wanneer kan hy ontslaan word?”
“Nie hierdie Sondag nie,” skud hy sy kop. “Miskien – as alles goed gaan – vólgende Sondag. Ons moet maar wag en sy vordering monitor. Dit help nie julle kuier hier rond nie. Hy gaan ’n stewige paar uur in sy eie droomwêreld wees. Gaan huis toe en kry self ’n bietjie rus.”
Toe dokter Wim weg is, kyk Talien om haar rond. “Waar’s Jurg?”
“Seker nog by die melkery besig,” antwoord Clio.
“Nee, sy bakkie staan voor die hospitaal geparkeer. Hy’s seker hier iewers, dalk op soek na Wim.” Talien kyk vraend na Clio. “Het julle dan nie saam gekom nie?”
“Nee, ek het alleen gery. Wáár geparkeer? In die eerste ry parkeerplekke, op die punt?”
Talien dink na. “Op die voorste punt, ja, onder die boom.”
Sy moes dit geraai het, geweet het toe Jurg die sleutels uit sy sak haal … “Hoe lyk Arnold se bakkie?” wil Clio weet.
“Lendelam diesel-rammelkas. Jy ken hom mos: verkies hoewe bo wiele. Dis maar hoe hy is.”
“Dis ek wat Jurg se bakkie daar geparkeer het. Hy het my laat dink dis Arnold s’n.”
“Hy