Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste страница 26

Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste

Скачать книгу

      “Ja, een of ander simpel storie dat sy kamma agter ’n skoenlapper aan was en self ingeval het. Hy wou nie eens dat ek haar ’n laaste keer sien nie. Hy het haar weggevat en sommer iewers in ’n gat gegooi.”

      Talien se frons is skepties. “Is jy seker daarvan, Clio?”

      “Van die vullisgat? Dit kon ’n ashoop gewees het. Jurg het ’n hekel aan katte. ’n Kat het eenkeer een van sy marmotjies gevang en van toe af haat hy almal voor die voet.”

      “Haat is ’n sterk woord, poppiekind. Ek het nou die dag aan jou verduidelik dat ’n saak altyd twee kante het,” herhaal Talien. “Praat die ding met Jurg uit. Gee hom kans om sy kant te stel en luister na hom, sonder om weer die naaste wapen te gryp en hom te lyf te gaan.”

      Talien wag dat sy reageer, maar Clio sit na die kerktoring en staar, asof sy daar van vergifnis sal leer. “Sal jy die saak met hom uitpraat?” dring sy aan.

      Clio se kop bly weggedraai.

      “As die verhouding tussen jou en Arnold ernstig word, sal jy en Jurg moet leer om onder een dak klaar te kom. Hulle twee is na aan mekaar, en Arnold sal dit van jou verwag. Moenie van hom vra om tussen jou en sy broer te kies nie.”

      “Ek weet, maar –”

      “G’n maar nie,” knip Talien haar protes kort. “Jy is ’n lieflike meisiekind, oor wie die kêrels mekaar sal bloedneus slaan. Maar jy is ’n bedorwe brokkie wat jou te maklik wip, en dan is jy lelik. Ek kan dit vir jou sê, want ek is soos ’n tweede ma vir jou, en ’n ma wil net die beste vir haar kinders hê. Dit help nie jy is buitekant ’n Barbiepop, maar binnekant ’n heks van Endor wat nie weet hoe om die minste te wees, hoe om te vergewe en te vergeet nie. Gaan maak die saak met Jurg reg, anders sal dit jou altyd hinder.”

      9

      Dit was wyse raad, wat Clio tot nadenke gestem en tot selfondersoek gedwing het. Sy het nie gehou van die prentjie wat Talien van haar geskets het nie, want sy het haarself te duidelik daarin herken. Sy weet sy is gou op haar agterpote. Vinnig om te veroordeel en stadig om te vergewe.

      Tussen haar en Jurg is te veel slegte gevoelens, sommige onder die brug deur en sommige onder die mat ingevee. As sy eendag op Vuurfontein gaan woon, kan hulle nie aanhou verwyte slinger en ou koeie uit die sloot grawe nie. Dis tyd om die sloot toe te gooi. Sy is bereid om die mindere te wees, te luister as Jurg wil verduidelik. Sy sal probeer verstaan.

      Dis goeie voornemens wat Clio graag wil deurvoer. Sy staan soggens vroeg op sodat hulle dalk saam ontbyt kan eet, loer by die melkery in, en gaan selfs na sy buitekantoor wat eens deel van die skuur was. Sy vra oom Lorrietjie na sy baas se agenda vir die dag en probeer Jurg te sien kry.

      Maar alles is vergeefs. Dis duidelik: Jurg vermy haar. Hy wil haar nie sien nie. Wil nie met haar praat nie.

      Is dit steeds oor sy by tannie Ria-hulle gekuier het sonder om hom te laat weet? Of is dit die insident by die swembad toe sy in sy arms beland het wat by hom spook? Sy weet Jurg was onkant betrap. Sy instinkte het oorgeneem. Hy wou haar soen en was op die punt om dit te doen. Sy kon dit aan sy mond sien, aan sy arms voel, aan sy hartklop hoor. Hulle albei was meegesleur deur hul emosies …

      Maar niks het gebeur nie, stel sy haarself gerus. Hulle was van die gevaar bewus en het betyds halt geroep. En hulle is sterk genoeg om te verhoed dat so ’n situasie ooit weer ontstaan. Want dit mag nie. Nie as elkeen nog ’n stukkie selfrespek wil behou nie.

      Sy het gedink dit sal genoeg wees as hulle formeel en afsydig teenoor mekaar is, maar vir Jurg is dit klaarblyklik nie genoeg nie. Hy is totaal afwesig. Hy sorg dat hulle mekaar nêrens raakloop nie. Nie eens by die hospitaal nie. Wanneer sy in die oggend by Arnold kom, hoor sy Jurg was die vorige aand daar. Of hy kom later die middag.

      Ontbyt of aandete is nie ’n opsie nie. Betta bêre sy kos in die mikrogolfoond, en al wat sy sê, is dat Jurg besig is, dat hy baie werk het.

      Hoe kan Clio vrede maak as hy nie beskikbaar is nie? Sy wil nie by Talien of haar ma raad vra en weer raas kry nie. Arnold vorder so goed, sy wil nie haar probleme op hom laai en hom ontstel nie. Aloma is al een wat oorbly, en is ’n beter opsie omdat sy ’n objektiewe buitestander is.

      Die volgende middag toe Clio van die hospitaal af terugkom en weer eens ’n grafstil huis aantref, bel sy haar vliegtuig-buurvrou. Hulle het mekaar belowe om kontak te hou en gesels gereeld.

      “Die bruid uit die koue …” spot Aloma. “Haai daar, buurvrou! Hoe gaan dit met die pasiënt?”

      “Voor die wind. Hy sit al regop en eet biltong, pleks van jellie en kapokaartappels. Hy’s meer bekommerd oor wat van Zeus geword het as oor homself.”

      Aloma is beïndruk. “’n Man so na my hart! Wanneer kom hy uit die hospitaal?”

      “As alles goed gaan, hopelik volgende naweek.”

      “Wonderlik! Kon jy hom darem al behoorlik beetkry en die verhouding weer op dreef kry?”

      “Hy is nog ’n bietjie broos,” skerm Clio.

      “Dan is ’n warm sessie net die ding om pit in sy pype te sit. Julle moet solank begin oefen vir die wittebrood.”

      “Ons sal later … En hoe gaan dit met jóú kêrel?” praat Clio dit weg.

      “Ekskêrel. Ek’s al hoe meer dankbaar ek het betyds uitgevind wat ’n lae luis hy is, sodat ek nie nog tyd op die skepsel gemors het nie. Ek hoor nou hy het my nie net met die een meisie verneuk terwyl ek weg was nie, dit was minstens drie. Die gemene slang!”

      Clio gee haar kans om af te pak. Sy luister simpatiek, klik haar tong en maak al die regte geluide. Totdat Aloma leeg is. Totdat sy ná tien minute ’n laaste snuif gee.

      “Nie tranerig nie,” verseker sy Clio. “Dit was ’n minagtende snuif. Stupid drip!” Sy blaas haar neus met mening om die laaste stukkie oorblyfsel van Rinus de Wet uit haar gestel te kry. “So ja, nou voel ek beter … Maar ek glo nie jy het gebel om na my treurmares te luister nie.”

      “Dit ook, en om jou vir ete te nooi. Maar eintlik wil ek eers jou raad vra,” antwoord Clio.

      “Oor wat? Hoe om pit in ’n man se pype te sit? Blouoog-blondines weet sulke goeters mos vanself. As ek soos jy gelyk het, het ek nie met ’n kluit soos Rinus uitgegaan nie. Daardie spul flerries kan hom kry. Ek sal hom selfs na hulle toe aanry, net om van hom ontslae te raak. So ’n …” Sy keer haarself om nog skelname uit te dink. “Oor wié soek jy raad? Oor Arnold?”

      “Nee, sy broer.”

      “Die sexy hunk met die kwiksilwer-oë? Wat wil jy met hom maak? Solank op kleinboet oefen vir die dag as ouboet huis toe kom?”

      Dis sommer lawwe tergery, maar dit ontstel Clio. “Moenie sulke grappe maak nie! Dis nie snaaks nie.”

      “Hoekom nie? Sny dit ’n bietjie na aan die been?”

      “Genade, nee! Hoegenaamd nie!” ontken Clio ferm.

      “Jy weet mos ek kan die broer nie verdra nie. Ons baklei soos kat en hond. Maar sy kwaai tante het beveel ons moet die lang messe en strydbyle begrawe. Ek is bereid om te probeer, ter wille van Arnold. Die probleem is: Jurg maak of ek pokke het.

Скачать книгу